Logo

Saftas 2017: kykNET wen groot!

Nuus
20 Maart 2017
Die wenners van die 2017-Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiepryse (Saftas) is op 16 en 18 Maart in Sun City bekendgemaak.
Sink-Special-Screening-

Die film Sink het ’n rits Saftas losgeslaan.

Die wenners van die 2017-Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiepryse (Saftas) is op 16 en 18 Maart in Sun City bekendgemaak. Baie geluk aan al die benoemdes en wenners – ons is trots op die werk van die afgelope jaar.

Afrikaanse produksies beleef tans ’n bloeitydperk, met nuwe films wat amper elke maand vrygestel word. Plaaslike vervaardigers slyp hul vaardighede met elke produksie, en ons kykers pluk die vrugte. In die afgelope paar jaar het verskeie jong en talentvolle filmmakers te voorskyn gekom wat met nuwe stemme en uit vars perspektiewe óns stories vertel.

Rolprente soos Noem my Skollie en Nobody’s Died Laughing bring verhale na filmteaters en TV-skerms wat eg aan ons land is, en maak opslae in die bedryf. Die span van Nouvanaand Films, wat Hotel vervaardig het, lewer vars komedies wat gemaklik met internasionale programme kan meeding.

Die Boekklub was ’n treffer met ’n uitstekende draaiboek, briljante vertolkings en ’n produksiespan wat die storie op ’n boeiende wyse vertel het. Sink, ’n film wat reeds by verskeie internasionale filmfeeste aandag getrek het, se rits Saftas-toekennings bewys weereens dat daar Suid-Afrikaanse stories is wat eenvoudig vertel móét word. Al hierdie produksies is deur jong, passievolle filmmakers vervaardig. Dit is vir kykNET opwindend om deel van ’n dinamiese tyd in ons bedryf te wees.

Karen Meiring, die direkteur van kykNET-kanale, sê: “Baie geluk aan al die genomineerdes en wenners. kykNET het skoonskip in 25 kategorieë gemaak! Dit is ’n ongelooflike prestasie deur ’n toegewyde kykNET-span, vervaardigers, produksiespanne, tegnici, kreatiewe spanne, skrywers, musici en akteurs wat weet wat hulle doen. Wat ’n onbeskryflike voorreg om saam met hulle almal te kan werk. Wat 2017 betref, moenie worry nie, watch net... kykNET!”

kykNET se speelfilms en TV-programme is altesaam vir 66 Saftas benoem. Die onderstaande wenners uit die kykNET-stal het almal toekennings huis toe geneem. Baie geluk aan elkeen wat betrokke was by die sukses van hierdie produksies.

KATEGORIE: FILM

  • Beste akteur in ’n vollengte film: Dann-Jacques Mouton vir Noem my Skollie
  • Beste aktrise in ’n vollengte film: Shoki Mokgape vir Sink
  • Beste ondersteunende akteur in ’n vollengte film: Abduraghmaan Adams vir Noem my Skollie
  • Beste vollengte film: Sink
  • Beste prestasie in teks of draaiboek vir ’n vollengte film: Brett Michael Innes vir Sink
  • Beste prestasie in redigering vir ’n vollengte film: Nicholas Costaras & Brett Michael Innes vir Sink
  • Beste prestasie in kinematografie vir ’n vollengte film: Adam Bentel vir Modder en Bloed
  • Beste prestasie in produksie-ontwerp vir ’n vollengte film: Warren Gray vir Noem my Skollie
  • Beste prestasie in oorspronklike musiek vir ’n vollengte film: Chris Letcher vir Sink
  • Beste prestasie in klankontwerp vir ’n vollengte film: Jim Petrak vir Modder en Bloed
  • Beste prestasie in kostuumontwerp vir ’n vollengte film: Emma Moss vir Noem my Skollie
  • Beste prestasie in grimering en hare vir ’n vollengte film: Gale Sheperd vir Noem my Skollie
KATEGORIE: DOKUMENTÊRE REEKS
  • Beste dokumentêre film: Nobody’s Died Laughing
  • Beste prestasie in klankontwerp vir ’n dokumentêre film: Barry Donnely vir Nobody’s Died Laughing
  • Beste prestasie in redigering vir ’n dokumentêre film: Geoffrey Butler vir Nobody’s Died Laughing
KATEGORIE: TV
  • Beste ondersteunende aktrise in ’n TV-drama: Jana Cilliers vir Die Boekklub
  • Beste prestasie in teks of draaiboek – TV drama: Louis Pretorius vir Die Boekklub
  • Beste prestasie in kinematografie – TV drama: Adam Bentel vir Bloedbroers
  • Beste prestasie in na-produksie: redigering – TV-drama: Ula Oelsen & Johan Cronje vir Bloedbroers
  • Beste prestasie in na-produksie: oorspronklike musiek – TV drama: Janine Neethling vir Bloedbroers
  • Beste prestasie in kuns-/produksie-ontwerp – TV-drama: Bathoni Robinson vir Bloedbroers
  • Beste prestasie in garderobe, grimering en hare – TV-drama: Julia Rubinstein en Sulet Meintjies vir Bloedbroers
  • Beste prestasie vir teks of draaiboek – TV-komedie: Bennie Fourie en Stiaan Smith vir Hotel
  • Beste aanbieder van ’n geselsprogram: Karen Zoid vir Republiek van Zoid Afrika
  • Beste akteur in ’n TV-komedie: James Borthwick as Ferdie Kruger vir Hotel