Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Ontmoet Suidooster se Lloyd

Nuus
17 Augustus 2018
Ruben Engel se karakter is alles behalwe ’n engeltjie …
Suidooster_Ruben Engel

Daar is ’n nuwe gesig in Ruiterbosch en hy is nogal ’n krag om mee rekening te hou. Ons leer ken vir Ruben Engel, wat die karakter van Lloyd in Suidooster-vertolk, van nader. 

1. Vertel bietjie meer oor jou karakter, Lloyd. 
Lloyd is ’n bietjie ’n galant. Hy werk hard en speel ewe hard. Hy is ’n slim man, maar te lief vir partytjie hou. Lloyd gaan beslis ’n bietjie probleme veroorsaak.

2. Wat dink jy gaan kykers se reaksie wees? 
Mense gaan in die begin van hom hou, maar ek dink soos hulle die karakter gaan leer ken, gaan hulle dalk anders besluit. Ek en Simone (Biscombe) wat Bianca speel, het gespot en gesê ons gaan dalk oor ’n maand of wat vir ’n wyle in die woestyn gaan woon om weg te kom. Dit gesê, dink ek Lloyd gaan mense vrae laat vra, veral oor die jeug en waarheen hulle op pad is.

3. Jy was onlangs te sien in ’n musiekblyspel en nou is jy deel van die Suidooster-familie. Was dit ’n moeilike omskakeling?
Nee, want vir my het die sepiewêreld so half ’n teatergevoel. Daar is drie kameras en jy moet die hele tyd in die oomblik wees net soos wanneer jy op die verhoog is. Jy moet een honder persent gefokus wees. Ek het geweet my voorbereiding en fokus is reg, maar ek moes ook by die Suidooster-styl inpas.  

4. Het jy en Lloyd enige van dieselfde karaktereienskappe? 
Toe ek jonger was, was ek so snotgatterig soos hy. (Lag.) Ek het my oomblikke gehad. Ons het seker maar almal ons tye gehad toe ons jonger was wat partytjies die belangrikste ding was. Die groot verskil tussen ons is egter ek nog altyd respek vir mense gehad en gesteld is op hoe ek veral met ouer mense praat. Maar ja, ek was ook jonk en dom.

5. Wie is jou gunsteling Suidooster-karakter? 
Ian October. Abduraghmaan Adams het ’n ongelooflike karakter geskep. Daar is ongelooflike dinamiek tussen hierdie hartelose man wat nie sal toelaat dat enigiemand in sy pad staan nie, maar wat tog loveable op sy eie manier is. Dis beslis nie ’n eendimensionele karakter nie.

6. Wat was jou vriende en familie se reaksie toe hulle hoor jy gaan in Suidooster wees? 
Hulle was baie opgewonde, is nog steeds, en sien uit na Lloyd se storielyn. Ek het al sukses in my loopbaan behaal, maar hulle sal my altyd herinner dat ek my voete op die grond moet hou en dat alles die Almagtige se goeie guns is. Ek kom uit ’n streng Morawiese-familie uit Elim in die Suid-Kaap. Ek is die vyfde geslag en my oor-oupagrootjie het as sendeling uit Oos-Europa gekom. Ons het nou nog ’n huis wat in 1906 gebou is in ons familie. Wanneer mense dus nie die verskil tussen my en die karakters wat ek speel kan sien nie, dan is dit goed om te weet waar ek vandaan kom.

7. Wat is lekkerder om te speel: ’n romantiese held of ’n baddie?
O, ’n baddie! Daar is net soveel vlakke. ’n Romantiese held se agtergrond, dit waar hy vandaan kom, kan jy nie noodwendig altyd in ’n karakter uitbring nie. As jy ’n baddie is, is daar reeds spanning in wie jy is en word jou karakter in jou ego vasgevat. Daar is veel meer turmoil wat dit vir my interessant maak. Dit is ook van die groot redes hoekom ek Lloyd geniet. Dit en natuurlik om saam met mense soos Simone Biscombe, Cedric Joel en Jill Levenberg te speel. Dis soos ’n droom wat waar geword het.  

Suidooster saai Maandae tot Vrydae om 18:30 uit op kykNET én kykNET&kie. Gesels saam met ons op sosiale media deur die hutsmerk #Suidooster te gebruik.