Logo

Ons Sprokiesbruilof: Paul en Maryna

Nuus
22 Mei 2017
Paul Calow en Maryna Strachan ken mekaar al langer as vyf jaar en gaan afhaak in Matjiesfontein!
OSB Paul Maryna

Die ontmoeting

Die gelukkige paartjie het in ’n restaurant ontmoet. Paul het ’n vriendin, wat besig was om met Maryna te gesels, in die rede geval en die gesprek gekaap. Paul en Maryna kon nie uitgepraat raak nie, soveel só dat die vriendin maar omgedraai en weggeloop het.

Maryna het dadelik gedink Paul is aantreklik, maar hom amper nie geglo toe hy sê hy is ’n dokter nie. “Dokters lyk nie so nie!” sê sy.

Dié dokter se hart is boonop op die regte plek, en hy is ’n uitstekende pa vir haar twee kinders, vertel Maryna.

Maryna se “ongelooflike tande”, die wyse waarop sy praat en haar indrukwekkende wynkennis het Paul se aandag dadelik getrek – én gehou.

Die verlowing

Paul het Maryna na Yorkshire in die VK, waar sy oorlede pa gewoon het, geneem om haar rond te wys. Hulle het die groen heuwels verken en oor hul liefde gesels. Maryna het geensins verwag Paul is gereed om haar te vra om te trou óf het reeds ’n ring gekoop nie, so die oomblik was ’n groot verrassing.

“Hy het ’n romantiese kant,” sê Maryna. Sy kan byvoorbeeld nie wag om te sien wat haar aantreklike dokter vir hul wittebrood beplan nie.

Die troue

Die bruidspaar het op die geskiedenisryke Matjiesfontein, met sy interessante hotel en mooi tuine, besluit. Paul sê hulle wil boonop hê dit moet ’n lekker wegbreek vir hul vriende wees.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).