Logo

Ons Sprokiesbruilof: ’n Regte plaastroue!

Nuus
20 April 2017
Sowat agt jaar ná hulle mekaar op hoërskool ontmoet het, trou Irma en Nikus in Middelburg.
OSB Nikus Irma TB

Om ’n troue te reël is dikwels pret, maar soms glad nie, en dís hoekom Irma Bezuidenhout (23) bly is sy hoef dit nooit weer te doen nie.

Sy en haar hoërskoolliefde, Nikus Geldenhuys (23), haak af by The Corn & Cop buite Middelburg en het op ’n plaastema besluit – aardse kleure, hessian-tafedoeke en houtborde.

“Dis ’n regte plaastroue,” sê Nikus.

Alles verloop vlot, vertel Irma – juis omdat die bruidspaar ’n jaar lank aan hul droomtroue beplan (en daarvoor gespaar) het.

Irma het op ’n deftige prinsesstyl-trourok besluit. Sy en haar ma het dit saam ontwerp en tannie Baby van Zyl, wat ook haar ma se trourok gemaak het, het hul droom ’n werklikheid laat word. “Ek voel soos ’n prinses,” sê Irma. “Dis presies wat ek ingedagte gehad het.”

So gerus soos wat Irma oor haar droomrok voel, so koel en kalm is sy op haar troudag. “Ek het niks senuwees nie,” sê sy vir Sorina ’n paar uur voor sy by Nikus aansluit. “Ek dink dit kom dalk later.”

Irma stap die pad na die kansel af aan haar broer se arm. “Ek en my boetie het ’n baie noue band,” sê sy. “Ek wou dit met hom deel.”

Daar is nie ’n enkele mens by die troue wat Irma en Nikus nie ken nie, en elkeen is vir hulle spesiaal. Irma se ma, Melissa, verjaar op hul troudag, en Irma wens haar geluk tydens die onthaal: “Ek is so lief vir Mamma, en dankie dat ek vir ewig hierdie dag saam met Mamma kan deel.”

Nikus se pa, Nick, meen Nikus en Irma het ’n unieke verhouding. “Ek het Nikus nog nooit kwaad gesien vir Irma nie,” sê hy. “Ek voorsien dat dit baie goed sal gaan met die twee in die toekoms.”

Vir Nikus is die hoogtepunt van sy dag om te kan sê hy is uiteindelik getroud met die vrou van sy drome. “Sy’s pragtig,” sê hy.

Die weer het saamgespeel, hul makietie was ’n fees en hul troue ongetwyfeld ’n sprokiesbruilof!

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).