Ons Sprokiesbruilof: Koek in die hoek

Jou troukoek hoort nie in die hoek nie – maak dit ’n ster! Kokkedoortjie se Mari-Louis Guy gee raad.

11 Mei 2017

FOTO: Verskaf (lees meer oor dié Cakebread-pragskepping hier onder)

Mari-Louis Guy is ’n bobaas-bakker, resepontwikkelaar en kosstilis met baie internasionale ervaring en ’n paar boeke op die winkelrakke.

Dié Kokkedoortjie-beoordelaar (sy het ook gehelp om die Koekedoor-wenners te kroon) en haar broer, Callie Maritz, is die eienaars van Cakebread – ’n prettige studio in Kaapstad wat pragtige troukoeke optower. Saam kook, bak, blog en stileer die twee dat die koek staan, en hul treffende kosfoto’s laat jou twee keer kyk.

Ons het met Mari-Louis – wat weer by Lorraine Swanepoel (eienaar van CocoVanilla), en Kanya Hunt en Martjie Malan van Koekedoor-faam aangeklop het – gesels oor troukoek-modes en nie-tradisionele nagereg-skeppings.

Wat is dié troukoek-modes van 2017?

  • Laat die koek julle (as paartjie) se smaak weerspieël – modes is goed en wel, maar individualisme is die belangrikste.
  • Sjokoladekoek bly steeds die gewildste geur en word met spog-sjokolade gemaak.
  • Fondant neem die agterste gestoeltes in, en botterversiersel – van sagte pastelle tot helder kleure – is in die mode.
  • Troukoeke is steeds naak en word met loperige druppels maar ook oordadig met varings, vars blomme of vrugte versier.
  • Metaal- of pêrelkleur-afwerkings is in die kol.
  • ’n Lekker verandering is ’n koektafel, met soms tot 10 verskillende geure en koeke wat ’n geheel vorm (die koeke is dus kleiner, maar meer). Kombuiskoeke is groot nuus, en dit sorg natuurlik vir die mooiste foto’s.
  • Kinderlike geure soos spookasem en heuningkoeklekkers is ook hoogmode.

33 osb cake and patisserie 004 pre

LINKS: Dié pragtige troukoek, geskep deur Mari-Louis Guy en Callie Maritz, is ’n variasie op ’n Charlotte Russe – afgerond met pêrelkleure, vars bessies en ’n oordaad van vars blomme (foto verskaf deur Cakebread).
REGS: Koeke wat lyk soos verjaardagkoeke, met kinderlike geure soos heuningkoeklekkers en toffie-appels, is baie gewild. Dié koek is geskep deur Martjie Malan (foto verskaf deur M Patisserie).

Of dit nou hoogmode is of nie, wat sou jy sê is een van die grootste moenies wanneer dit by ’n troukoek kom?

  • Beeldjies wat probeer snaaks wees (cake toppers). Dit is nou meestal die name van die bruidspaar op die troukoek en die koekstaanders is óf van goeie kwaliteit silwer óf baie organies, soos boomstompe.
  • Koeke wat só lank neem om te versier dat die varsheid van die gebak verlore gaan. Smaak kom beslis eerste.

Wat dink jy van die volgende stelling? Dis belangrik dat die troukoek by die bruid se rok en die dekor pas.

Dis ’n moeilike vraag – soos sokkies wat by die skoene en die das moet pas. Dit hang af van die paartjie, maar ek dink tog met al die kostes wat aangegaan word met fotograwe is dit oulik dat die geleentheid ’n geheel vorm.

Watter raad het jy vir paartjies wat nie ’n tradisionele troukoek wil hê nie? Is kolwyntjies die enigste ander opsie?

Beslis nie! Kolwyntjies het effens in onguns verval, maar kleiner happies bly gewild. Dink aan churros (oliebol-vingers uit Spanje), Charlotte Russe (nagereg met vingerkoekies, vrugte en room of vla) of selfs ’n jellietafel met pragtige jellievorms – groot pret!

En wat van paartjies wat glad nie van soet eetgoed hou nie en dus iets heeltemal anders wil hê?

Kaasstapels bly oulik en selfs broodstapels met ’n groot verskeidenheid sousies en smere. Selfs klein appel-en-sterk-cheddar-pasteitjies wat op mekaar gestapel word met ’n paar feestelike ballonne maak ’n prettige uitstalling. Vrugte-ysies (ice sticks) in ’n glasie sjampanje of gevriesde stokkies gemaak van gin en tonic is ’n oulike grootmens-einde aan ’n ongelooflike aand.

Hoe het jou troukoek gelyk?

Kyk, ons was so jonk, ek het omtrent my hele begroting op my pragtige ontwerpersrok geblaas. Ek sal altyd effens spyt wees, maar vrugtekoeke was destyds in die mode en dit was nie vir my ’n prioriteit nie.

Het jy enige ander raad vir paartjies oor troukoeke of nageregte?

  • Maak dit persoonlik – ’n familieresep of iets wat julle aan jul toere herinner, soos ’n sjiffonkoek uit Amerika of ’n stapel eclairs van Frankryk.
  • Hou dit elegant en vra gerus vir familie of vriende om te help – almal voel dan deel van julle groot dag.
  • Moenie die koek in die hoek sit nie – maak dit ’n ster en kombineer dit met ’n nageregtafel.

Volg Mari-Louis se bak-avonture op Facebook, Twitter en Instagram.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).