Logo

Nuwe deelnemer vir Boer Soek ’n Vrou ná boer liefde vind

Nuus
16 Mei 2017
Stephen (24), het kykNET ingelig dat hy pas liefde gevind het en van die reeks gaan onttrek.
BSV Willie Bill

FOTO: Willie (verskaf)

Die boere-Cupido se pyl het nog voor iemand kon sê “liefde” reeds een van die tien deelnemers van die nuwe seisoen van Boer Soek ’n Vrou getref!

Een van die boere, Stephen (24), het kykNET ingelig dat hy pas liefde gevind het en van die reeks gaan onttrek.

Volgens Stephen sal dit onregverdig wees teenoor sy nuwe meisie en dames wat by hom wil vlerk sleep, om voort te gaan met sy deelname aan die reeks. Hy wil ook eerder ’n ander boer die kans gun om in sy plek liefde te vind.

Minki en Stephen. Foto: Stephanus Rabie (volg hom op Instagram by @faano1)

kykNET is dus opgewonde om ’n nuwe deelnemer in sy plek aan te kondig – die 23-jarige Willie (hooffoto) van Viljoenskroon in die Vrystaat. Willie het onlangs sy B.Com-graad in Landbou-Ekonomie aan die Noordwes-Universiteit behaal en is ’n saai- en beesboer.

Om vir Willie ’n regverdige kans te gee, sal die sluitingsdatum vir briewe aan hom met ’n week verleng word. Diegene wat aan Willie ’n brief wil skryf, moet dit teen middernag op 2 Junie doen – briewe aan die ander nege boere moet steeds teen middernag op 26 Mei gestuur word.

Enige iemand wat die boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan die boere hier ontmoet. Vir meer inligting kontak 072 531 0797 of stuur ’n e-pos aan [email protected].