Logo
Kunsvlyt
web uni tv guide

Kunsvlyt

144RealiteitsprogramFamilie

Kunsvlyt: Ontmoet die deelnemers!

Nuus
06 Maart 2017
Kunsvlyt, ’n nuwe werklikheidsreeks vir kunsvlyters, begin op 7 April 2017 om 18:00 op kykNET. Ontmoet die tien deelnemers!
Kunsvlyt

Kunsvlyt, ’n nuwe werklikheidsreeks vir kunsvlyters, begin op 7 April 2017 om 18:00 op kykNET. Ontmoet die tien deelnemers!

Karel Willems



Ouderdom: 39
Woon in: Fourways, Johannesburg
Beroep: Kunstenaar

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Ek skilder op groot skaal beeldhouwerk - terracotta, keramiek en papiermaché. Ek bou ook oulike koffietafels met wiele en laaitjies wat lyk soos vuurhoutjiedosies.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek speel weekliks vlugbal (beach volleyball) en speel kitaar en die mandolien.

Wat is die grootste passie in jou lewe? Definitief kuns en musiek en om ’n positiewe bydrae te lewer in my gesin en gemeenskap.

Erika Turvey


Ouderdom: 35
Woon in: Frankfort, Vrystaat
Beroep: Kunstenaar
Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? As jy ’n H-simbool vir wiskunde gekry het beter jy hoop jy’s goed in iets anders! Kuns en kunsvlyt is al wat ek ken – ek maak ’n lewe deur te skilder.
Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek upcycle enigiets en skilder op alles wat ek in die hande kan kry.
Wat is die grootste passie in jou lewe? Ek is ’n spinning-instrukteur met ’n gesonde hart en verstand wat enigiets kreatief sal probeer.

Denica Lottering



Ouderdom: 26
Woon in: Durbanville, Kaapstad
Beroep: Ek werk vir myself – ek het my eie kunsbesigheid.

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Ek geniet dit om alles te probeer. Ek geniet verskeidenheid: Naaldwerk, kleibeeldhouwerk, mosaïek, houtwerk, scrapbooking, decoupage, verf, skilder, skets, huisdekor en juwele maak. Ek leer ook nou om te brei en hekel. Ek wil alles probeer waaraan ek kan dink!

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek geniet dit ook om tuin te maak, my huis mooi te maak en te bak. My kunsbesigheid wat ek onlangs begin het, Poprikot, is eintlik ook maar meer ’n stokperdjie as werk. Ek verkoop tans oorsee op Etsy en by ’n paar markte hier en daar in die Kaap.

Wat is die grootste passie in jou lewe? Enigiets kuns! Kuns en kreatiwiteit dryf my elke dag.

Cecilia Kuschke

Ouderdom: 58
Woon in: Silverton, Pretoria
Beroep: Tuisteskepper

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Ek doen al kuns en handvlyt vandat ek vier jaar oud is; dit is dus 54 jaar se ondervinding om met verskeie mediums te eksperimenteer. Ek hou daarvan om “iets uit niets” of herwinbare artikels te maak.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Skilderkuns, sowel as akriel-, olie- en waterverf (hiervan hou ek die meeste). Ek het vanaf 1998 tot 2010 baie lapverf en syskermdrukwerk gedoen. Het ook al pewter, mosaïek en beeldhouwerk gedoen. In 2015 en 2016 het ek gewerk aan Brei en Hekelpatrone onder leiding van Christa Swanepoel, wat deur Lapa-uitgewers gepubliseer is.

Wat is die grootste passie in jou lewe? Ek is baie lief vir lees, tuinmaak, vetplantjies kweek en kosmaak op ’n kreatiewe manier. Ek het ’n klein wurmplasie (karibiese erdwurms) wat floreer van organiese kombuisafval.

Ria Potgieter



Ouderdom: 54
Woon in: Welbedact, Oudtshoorn
Beroep: Tuisteskepper
Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Ek doen heelwat papiermaché en skilderwerk. Ek hou ook daarvan om met olieverf te werk en hou van driedimensionele werk (die foto van my klaarprodukte is ook papiermaché op ou houtplanke.
Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek hou van kosmaak en bak vir my familie en vriende, tuinmaak, blomme rangskik, brei, hekel, naaldwerk en lees.  
Wat is die grootste passie in jou lewe? Om elke dag tot eer van die Here te leef saam met my gesin vir wie ek oneindig lief is!

Anri Erasmus



Ouderdom: 25
Woon in: Rooihuiskraal, Centurion
Beroep: Skilder en kunsternaar

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Ek hou van enigiets wat met verf te doen het, veral tegniek verfwerk. Ek skilder ook baie en doen baie restourasiewerk op meubels. Ek verf graag trompe l’oeil-tonele op meubels en dan sny en verf ek ook stencils op meubels.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek skilder, teken, lees, hekel, plant vetplante en neem amateur-foto’s.

Wat is die grootste passie in jou lewe? My grootste passie in my lewe is om vir God te lewe en my talente te gebruik wat Hy my gegee het. Ek verf – dis wat ek doen en dis my liefde. Ek spandeer en belê elke dag in my lewe aan my talent.

Melinda Engelbrecht



Ouderdom: 44
Woon in: Lyttelton, Centurion
Beroep: Finansiële bestuurder

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Dit het alles begin toe ek destyds op afvalpapier van my oorlede oupa se drukkery prentjies begin teken het. Later van tyd het my oupa my gevra om vir hom prentjies vir troukaartjies te teken, wat ontwikkel het in sketse met pen, potlood en later pastelle. My laerskool-kunsonderwyseres het ook seker gemaak ons is nie ledig oor vakansies nie, met allerlei kuns- en naalwerkprojekte. Lapverf en akrieliese verf het gevolg en ek het selfs op pottery geverf. In die laaste tien jaar het ek begin met olieverf, mosaïek, pewter asook chalk paint. My gunsteling medium bly egter olieverf. Dit is ’n geduldige medium en ryk aan kleur, tekstuur en moontlikhede.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Tuinwerk, hekelwerk, tapiserie, lees en fliek. Solank my hande besig is en my brein aan die gang bly, is ek gelukkig!

Wat is die grootste passie in jou lewe? My grootste passie is om skeppend te wees – of dit nou is om iets te skilder, iets te maak (net nie kos nie!) of ’n plantjie wat ek met sorg geplant het te sien opkom – dít gee my oneindige bevrediging en laat my naby aan my Skepper voel. Dis baie bevredigend om aan die einde van ’n kreatiewe dag te kan terugstaan en my handewerk te bewonder. Dikwels wonder ek hoekom ek nie meer gereeld kreatief is as dit dan so lekker is nie en besef ek dan dat ’n mens te besig raak met dinge sonder ewigheidswaarde en in die proses begrawe jy jou talente onder ’n maatemmer.

Antoinette Jordaan



Ouderdom: 22
Woon in: Potchefstroom
Beroep: Voltydse student – ek het ’n onderneming wat ek deeltyds aanlyn bedryf.

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Ek het my hand al gewaag aan die meeste tipes kunsvlyt – van loodglas tot naaldwerk, brei, hekel, houtwerk; ek het al met sement gewerk, en ligte uit koperpype gemaak. My gunsteling oor die jare bly maar naaldwerk, en ek het onlangs leerwerk ook begin doen. Dit is ’n kuns waarin ek nog gesout moet raak, maar dit kan beslis ’n sterk kompeteerder raak vir my gunsteling! Dis vir my ongelooflik om met ’n plat stuk lap of leer te begin, en dit te verander in iets wat die menslike liggaam se vorm aanneem of ’n drabare item raak. Nog ’n close contender is om ligte/lampe te maak – dit is vir my baie lekker om met lagies te speel om sodoende interessante lig-effekte te verkry.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek geniet dit om te lees, en ek en my kêrel sing saam by troues en ander funksies – so sing is beslis ook na aan my hart en iets waarin baie tyd en toewyding gaan.

Wat is die grootste passie in jou lewe? Mooigoed. Mooi musiek, mooi digkuns, mooi spasies, mooi klere. Soos John Keats gesê het: “A thing of beauty is a joy forever”. Ek het ’n passie vir die mooi in die lewe. Dit laat my lewendig voel, en dit gryp my aan.

Amanda van der Westhuizen

 



Ouderdom: 56
Woon in: Kaapsehoop, Mpumalanga
Beroep: Kunstenaar

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Verweerde items wat niks is en hul geroeste lywe word mooi gemaak en hang êrens in iemand se huis. Veral om op geroeste verweerde sinke te skilder.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Tennis en stap.

Wat is die grootste passie in jou lewe? Om iets te skep van niks en om te werk op verweerde items.

Adrienne van As



Ouderdom: 37
Woon in: Wellington
Beroep: Onderwyser

Watter tipe kunsvlyt doen jy, en wat geniet jy die meeste? Kuns was een my hoofvakke op skool en daarom was grafiese kuns, teken en skilder maar altyd ’n kreatiewe trekpleister. Ek is mal oor landskappe, veral omdat die natuur en die lewe daarbuite so fassinerend is. Ek hou al hoe meer daarvan om met gemengde media te werk. Dit voel asof ek net soveel meer ruimte het om rond te speel.

Watter ander stokperdjies beoefen jy? Ek is mal daaroor om fiksie en nie-fiksie te lees, om te gaan fliek en om te reis wanneer ek kan. En ons haal allekrik uit. Ek is mal oor die see! Verder geniet ek dit om te kuier saam met vriende.

Wat is die grootste passie in jou lewe? Onderwys is definitief bo-aan hierdie lys. Ons kinders het soveel potensiaal en my droom is dan om hierdie potensiaal kan laat blom. Ek wil hê onderwysers moet die beste kan wees wat hulle kan wees, sodat kinders, in hul eie reg, die beste kan wees wat hulle kan wees. Kuns, kunsvlyt en kreatiwiteit is só deel van hierdie proses. Ek wil hê dat meer kinders die geleenthede moet kry wat ék gehad het toe ek grootgeword het.