Logo

Krotoa maak skoonskip by internasionale filmfeeste

Nuus
18 April 2017
Krotoa vertel die verhaal van ’n dapper vrou wat alles in die stryd gewerp het.
Krotoa

Fotograaf: Uwe Jansch

Krotoa doen beslis haar indrukwekkende naamgenoot gestand, en het uit die staanspoor die harte van kykers en kritici regoor die wêreld verower.

Dit gebeur selde dat ’n rolprent soveel trefkrag het dat dit, selfs voor die bekendstelling aan die Suid-Afrikaanse publiek, kan spog met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste. Dit sluit in die Internasionale Rolprentfees vir Omgewing, Gesondheid en Kultuur, Wêreld-filmtoekennings, Artemis Vroue-in-aksie-filmfees en die Nashville-rolprentfees.

Krotoa spog verder ook met sewe gesogte toekennings, wat ’n toekenning van uitnemendheid by Die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie insluit, sowel as n toekenning vir beste rolprent by die Depth Of Field International Film Festival, ’n platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings, ’n diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Filmmakers, n toekenning vir beste rolprent by The IndieFEST-filmtoekennings, ’n toekenning van uitnemendheid met spesiale vermelding vir vroulike filmmakers by die Accolade Global Film-kompetisie en ’n wêreld-platinumtoekenning by die World Woman-toekennings.

Vroue word hoofsaaklik gekenmerk as broos en kwesbaar. Daarom word die impak wat hulle op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad het selde onthou. ’n Held word immers deur die samelewing beskou as ’n sterk individu wat met geweld, fisiese krag en wapens geveg het vir volk en vaderland.

Maar wat dan van die rose, wat oor die eeue heen onuitwisbare voetspore kom trap het, en dikwels selfs met hulle lewens moes boet?

Krotoa is ’n tragiese heldin, en haar vergete verhaal gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm. Die rolprent word in Vrouemaand vrygestel en is die perfekte manier om die verskil wat die vroue in ons land maak te vier. 

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige elfjarige Khoi-prinses, wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapkolonie, te gaan werk.

Sy word na die eerste fort geneem, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is. Krotoa (Crystal Donna Roberts), wat leer om die Nederlandse taal en kultuur goed te verstaan, word ’n invloedryke tolk tussen Jan van Riebeeck (Armand Aucamp) en haar eie mense. Vasgevang tussen twee kulture, probeer sy om dié twee wêrelde met mekaar te versoen, wat veroorsaak dat die Khoi-stam haar verwerp en die Nederlanders haar vernietig. 

Krotoa is geskep deur ’n dinamiese span vroue. Roberta Durrant is die regisseur en vervaardiger, en die draaiboek kom uit die pen van Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid.

Durrant is die skepper van verskeie suksesvolle Suid-Afrikaanse televisiereekse. Dit sluit onder meer in iMontana, Izingane Zobaba, Shreds and Dreams, Saints and Sinners, Zbondiwe, Isikizi en Forced Love.

Sy is ook die vervaardiger van Home Affairs, wat benoem is vir twee internasionale Emmy-toekennings, en ook as beste drama by die Banff-rolprentfees benoem is.

Durrant is ook bekend vir Sokhulu and Partners, wat óók benoem vir vir ’n internasionale Emmy-toekenning, as ook beste drama by die Africa Magic-toekennings.

Verder sluit haar werk in reekse soos Sgudi Snaysi, Going Up, About Us, Madam & Eve (wenner van die Roos-toekenning vir beste komedie by die Golden Rose Festival in Switzerland), SOS, Fishy Feshuns, Going Up Again, Mazinyo dot Q, en Stokvel.

Haar kinderfliek, Felix, het sewentien internasionale filmtoekennings gewen, terwyl ander produksies soos Inside Out, Skilpoppe en Ingoma ook baie goed ontvang is. Laasgenoemde is in 2016 met ses SAFTA-toekennings bekroon.

Volgens Durrant is daar min Suid-Afrikaanse vroue, in vergelyking met mans, wat erkenning kry vir die impak wat hulle op die land se geskiedenis gehad het.

“Vroue soos Ruth First, Lillian Ngoyi, Bettie du Toit en Sophia Williams-du Bruyn het sterk gestaan in die opstand teen die Apartheids-regering,” sê sy.

“Wanneer ons egter delf in Suid-Afrika se ryk geskiedenis, ontdek ons dat daar ander inheemse vroue is wat instrumenteel was tot die ontwikkeling van ons nasie – selfs nog voor diegene wat gehelp veg het vir ons vryheid,” sê sy verder.

“Krotoa (of Eva, soos die Nederlanders haar genoem het) is die heldin van hierdie fliek. Dit is nie net belangrik om haar storie te vertel as gevolg van alles wat sy bereik het nie, maar ook om te beklemtoon dat sy vasgevang was tussen twee leefwyses, en dat sy telkemale gedwing is om te kies tussen hierdie twee kulture.

“Identiteit, die behoefte om in te pas en versoening is die universele temas van hierdie verhaal,” vertel Durrant. “Dit is veral belangrik omdat die identiteit van ’n persoon – wat tussen twee kulture staan – so relevant is in ons multikulturele samelewing,” sê sy.

Crystal Donna Roberts, wat naam gemaak het in flieks soos die Endless River, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom en Skeem; asook televisiereekse soos 7de Laan, Montana, Vallei van die Sluiers, Getroud met Rugby, Boland Moorde en Byl, vertolk die rol van Krotoa.

SAFTA-wenner, Armand Aucamp, wat veral bekend is vir sy indrukwekkende vertolkings in Ballade vir ’n Enkeling en Die Boekklub speel Jan van Riebeeck, terwyl ander gesoute akteurs soos Jacques Bessenger, Doen Lotz, Marcel van Heerden, Roeline Daneel, Brendan Daniels en Ernest St Clair ook in hierdie boeiende verhaal te sien is.

Krotoa vertel die verhaal van ’n dapper vrou wat alles in die stryd gewerp het, om geboorte te gee aan die wonderlike nasie waarvan ons almal vandag deel is. Dit het nie net ’n sterk boodskap, waarmee almal kan vereenselwig nie, maar beloof ook om die kyker op ’n onvergeetlike avontuur te neem na vervloë tye.

Krotoa is vervaardig deur Penguin Films, in samewerking met kykNET, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Die rolprent word op 4 Augustus 2017, landswyd, deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.  

Gallery

Vir meer inligting, gaan na Instagram, Facebook en Twitter – gebruik die hutsmerk #Krotoa.