Logo

Kokkedoortjie: My kind en die kombuis

Nuus
26 April 2017
Hoe kry jy jou kinders betrokke in die kombuis? Kokkedoortjie-beoordelaars Mari-Louis Guy en Nic van Wyk gee raad.
Kokkedoortjie Beoordelaars Bill

Mari-Louis Guy het drie kinders, met uiteenlopende persoonlikhede, en gebruik tegnologie om hulle in die kombuis betrokke te kry.

Soms sal die kinders ’n resep vanaf ’n iPad probeer, ander kere sal Mari-Louis hulle sommer afneem terwyl hulle in die kombuis doenig is. “Kinders van vandag voel hulle moet oral op Youtube wees,” spot sy. “Só kry ek hulle om nuwe goed te probeer, soos sampioene – wat hulle nooit sou eet nie.

“Ek dink ons generasie is geneig om ‘helikopter-ouers’ te wees,” sê sy, en voeg by dat ouers hul kinders meer vryheid in die kombuis moet gee. “Pak weg jou goed waaroor jy nostalgies voel en laat hulle eksperimenteer en werk in jou kombuis.”

Toe Nic van Wyk destyds ’n restaurant oopgemaak het en die kinderspyskaart moes opstel, het hy sy dogter vir raad gevra. “Ons het een of twee disse opgesit wat ons miskien nie sou opsit nie.

“Ek dink dis goed om te luister wat sê kinders en wat is dit wat hulle van hou om te eet.”

Nic het een reël, en dit is dat sy dogter iets minstens een keer moet proe voor sy mag besluit of sy daarvan hou of nie.

“Ek dink ouers maak hul kinders fussy eaters,” sê hy. Hy meen ouers behoort hul kinders van kleintyd af te laat proe, aanmoedig om gesond te eet en hulle in die kombuis toelaat.

Hy stel voor ouers laat hul kinders toe om self hul kosblik te pak, of ten minste te besluit wat daarin moet kom. Jou kind kan byvoorbeeld self besluit watter vrug om te pak, soos ’n appel of piesang.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!