Kokkedoortjie: Maaltyd in ’n fles

’n Slaai in ’n glasfles – dís mos ’n lekker idee vir ’n piekniek! Ons kyk terug na dié week se episode.

17 Mei 2017 20:32

FOTO: Christian se Italiaanse lagie-slaai en koffie-smoothie

Die jong kokke moes in vandeesweek se episode van Kokkedoortjie ’n lagie-slaai met slaaisous, vir ’n piekniek, voorberei en in ’n glasfles opdis – ’n “hele maaltyd in ’n fles,” vertel beoordelaar Nic van Wyk. Hiermee saam moes die Kokkedoortjies ook ’n smoothie in ’n fles maak.

Dit was een van haar gunsteling-uitdagings tot dusver in die kompetisie, sê beoordelaar Mari-Louis Guy, ’n groot slaai-aanhanger. Sy sê dit was belangrik dat daar ’n goeie verhouding was tussen die hoeveelheid blare en die hoeveelheid slaaisous – niemand is mos gaande oor ’n droeë slaai nie. Kleur het verder ’n groot rol gespeel.

Christian, die episode-wenner, was “gelukkig”, meen Nic, omdat ’n slaai uit verskeie komponente bestaan en ’n paar komponente van dié Kokkedoortjie se pastaslaai goed was. Die pasta het aan die slaai ’n “volle maaltyd-gevoel” verleen, die vinaigrette was goed en boonop het Christian se parmesaan-skyfies tegniek vereis, sê Nic.

“Een of twee elemente was dalk nie so goed gewees nie, maar gelukkig kyk ons na die hele slaai met al die komponente,” sê hy. “Sy smake was rêrig fantasties.”

Hy sê dit was dalk vir die Kokkedoortjies moeilik gewees om te besluit watter lae waar in die fles moet kom en om natuurlik ietwat buite die boks te dink wanneer dit by die bestanddele kom.

Mari-Louis stem: Die beoordelaars was hierdie week na unieke bestanddele op soek.

Sy meen Christian se slaai was heerlik en die pasta het die geure van die sousie baie goed geabsorbeer. “En dan natuurlik daai koffie-bom (die smoothie wat hy voorberei het) van hom – dit was heerlik!” sê sy.

Nic se wenke vir ’n bobaas-slaai is om die regte blare te kies en ’n goeie vinaigrette te maak. Kies boonop bestanddele wat in seisoen is. “As jy iets gebruik in jou slaai wat in seisoen is, gaan dit altyd vars en lekker wees.”

Tekstuur is verder noodsaaklik. “Iets sag, iets wat kraak, miskien iets sout en miskien iets met asyn by,” sê Nic. “En moenie te veel goed gebruik nie. ’n Slaai moet gaan oor drie of vier uitstekende items, en nie ’n mengelmoes van te veel goed nie.”

Mari-Louis volg die Romeine se raad: “Jy het vier mense nodig om ’n goeie slaai te maak. Die een moet die asyn verskaf – hy is ’n suinige ou. Die een moet die olie verskaf – hy is die een wat vrygewig is. Die derde is die mad scientist wat al die kruie bymekaar sit. En die vierde een moet alles bymekaar meng.”

Sy sê verder: “Ek verwag ’n slaai moet ’n verrassing hê, ’n goeie vinaigrette en ek hou van ’n klomp soorte blare.”

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!