Logo

Kokkedoortjie: Geure wat troos

Nuus
24 Mei 2017
Ons kyk terug na vandeesweek se uitdaging, heerlike trooskos.
Kokkedoortjie Ep8 Bill

FOTO: Christian se geurige hoender-korma

Die moeilikheidsgraad van vandeesweek se trooskos-uitdaging was nie iets waarmee die Kokkedoortjies hulle kon misgis nie, meen beoordelaar Mari-Louis Guy.

Die beoordelaars het van die jong kokke verwag om ’n trooskos-dis voor te berei wat hulle ook by die huis geniet, en dit moes ’n eenpot-wonder wees.

Die disse was uiteenlopend, en dít was dan ook wat dinge vir die beoordelaars bemoeilik het. Hoe vergelyk jy nou iets soos ’n eenvoudige aartappelgebak met iets wat meer tegniek vereis, soos ’n romerige hoender-korma?

Beoordelaar Nic van Wyk stem: “Wat’s reg en wat is verkeerd? Dit was moeilik vir ons, en ons moes hard debatteer daaroor.”

Mari-Louis sê: “Ons het nie ’n Pinterest-einde verwag nie.” Hulle wou werklik weet wát die Kokkedoortjies eet wanneer hulle byvoorbeeld sleg vaar in die eksamen – wat is hulle “kospleister”?

Dean se aartappelgebak het hom huis toe gestuur, maar dit was nie weens die eenvoud daarvan nie. “Toe Dean uitval was hier ’n tranedal op hierdie vloer,” sê Mari-Louis. Sy meen egter hy sou beter gevaar het as hy sy dis beter uitgevoer het. “Hy het tyd gehad,” sê sy. Die rou aartappel met ’n Smartie binne-in was dalk nie “die slimste kos-idee” nie. “Ons gaan hom báie mis!”

Volgens Nic het die verhouding tussen kaas en aartappel “nie gewerk nie” en die garnering was bloot ’n “nagedagte”.

Christian kom uit ’n huis waar daar met kos, geure en smake gespeel word, en ’n mens kan dit síén wanneer dié Kokkedoortjie agter die kospotte inskuif. Sy hoender-korma het aan hom die titel van episode-wenner besorg. “Hy verstaan geure,” sê Mari-Louis.

Nic sê: “As jy op so ’n jong ouderdom met speserye kan werk soos wat hy werk, dan is daar rêrig ’n blink toekoms vir hom vorentoe.

“Sy dis was fantasties.”

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!