Logo

Kokkedoortjie: Fnuik met kos

Nuus
26 April 2017
’n Goeie kok of ’n kreatiewe poetsbakker? Lees meer oor vandeesweek se episode van Kokkedoortjie.
Kokkedoortjie Ep.4 Fnuik

FOTO: Christian se soet “ham-en-kaas-broodjie”

Aan die einde van dié week se episode is daar twee minder Kokkedoortjies op die speelgrond. Ian het verlede week gegroet, terwyl Mikael nie hierdie week daarin kon slaag om die beoordelaars ’n poets te bak nie.

Mikael het haar hart saam met hom gevat, sê beoordelaar Mari-Louis Guy. “Hy kán werklik kook,” sê sy. “Ek dink sy ouderdom tel teen hom, want hy kan nog nie tyd verstaan nie.

“Ek is baie spyt, want in die volgende episodes is daar uitdagings waarin ek dink hy baie goed sou doen.”

Beoordelaar Nic van Wyk meen Mikael het te veel probeer aanpak. “Ek dink hy het goeie idees gehad, maar ongelukkig moet ons iets op die bord hê om te proe, anders kan ons nie besluit of dit goed of sleg was nie,” sê hy.

Die beoordelaars wou gefnuik word deur die Kokkedoortjies se disse: Dink aan ’n kolwyntjie wat lyk soos ’n hamburger of ’n skuimpie wat lyk soos ’n sampioen. Iets wat soet lyk, moes sout proe, en waar dit soos ’n sout happie gelyk het, moes dit soet wees wanneer die beoordelaars ’n hap neem.

“Ons het gehoop die kind in hulle is nog daar,” sê Mari-Louis.

Sy meen Christian, wat tot dusver in die kompetisie al twee keer as episode-wenner aangewys is, vaar goed omdat hy kreatief is en boonop sy idees goed kan uitvoer.

Hoewel die beoordelaars nie slegs op tegniek fokus nie, is dit nogtans belangrik. Nic sê: “Die kinders wat goed gedoen het, het een of twee van hul eie elemente gemaak en nie net alles uit ’n pakkie gehaal nie.”

Hy voeg by: “Christian se dis het rêrig gelyk soos ’n geroosterde ham-en-kaas-toebroodjie. Selfs die appelskyfies wat hy gemaak het, het gelyk soos aartappelskyfies met ’n barbeque-spesery op.

“Hy het die taak baie goed verstaan. Alles het goed geproe en dit het fantasties gelyk.”

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!