Logo

Knapsekêrels: Vier gesinne, een groot gemors

Nuus
20 Maart 2018
Skalkie, Mynie en hul gesinne hou kykers elke Dinsdagaand vasgenael voor die kassie, maar hoe het hul lewens verweef geraak?
Knapsekerels-Hans-Zimmerman

Hans Zimmerman. FOTO: Vernondo Boshoff

Dié aksiebelaaide reeks, wat Dinsdae om 20:00 op kykNET uitsaai, draai om geld, korrupsie en die lewens van die Bekkers, Davidse, Fortuins en Zimmermans. Hulle leer mekaar noodgedwonge beter ken wanneer ’n lid (of lede) van elke gesin by ’n jaagtog om oorlewing betrokke raak.

Die Bekkers

Mynhard (Mynie) Bekker is ’n “knapsekêrel” (iemand wat geld, of ’n persoon, oppas en hardnekkig aan ’n missie sal bly klou). Hy leer Skalkie Fortuin ken by Interactive Security, waar hy as sekuriteitswag werk. Wanneer Skalkie later die skatryk Hans Zimmerman se dogter begin oppas, word Mynie ook ’n pos by die Zimmermans aangebied.

Mynie se pa, Dirk, is ’n verkeerskonstabel. Sy prostaatprobleem is genoeg om hom teen die mure uit te dryf, maar dan sit hy en sy vrou, Joey, ook gereeld vas. Aan die begin van die reeks sien ons hoe Joey steeds sukkel om Karel, hul jongste, se dood te verwerk en elke nou en dan na ’n glas wyn gryp. Joey werk as verpleegster en wanneer sy én Dirk later hul werke verloor, lyk dit of hulle nader aan mekaar beweeg.

Mynie se suster, Karlien, werk as ’n tronkbewaarder en ondergaan ’n transformasie wat selfs Hans Zimmerman se aandag trek.

Kyk na die foto’s hier onder:

Gallery

Die Davidse

Dokter Adam Davids en Hans Zimmerman was eens op ’n tyd boesemvriende, maar wanneer Davids sy vriend se omkoopgeld blaas en hom nie kan terugbetaal nie, is hulle in ’n oogwink vyande.

Dinge raak lelik wanneer Davids se lyfwag, Baby Tjoklits, Hans probeer doodskiet en daarna sy dogter ontvoer.

Davids se vervreemde vrou, Lynn, noem haar man “mediese gemors”. Dié kom in die prentjie wanneer sy nie hul dogter, Chantel, in die hande kan kry nie en self begin ondersoek instel. Chantel en Hans se dogter is beste vriendinne.

Die Fortuins

Skalkie Fortuin probeer na sy ma, Naomi (’n huishulp), en suster, Rachel (’n dansinstrukteur), omsien. Wanneer Zimmerman hom ’n reuse-salaris aanbied, is die Fortuins in die wolke. Skalkie kom egter gou agter sy nuwe werk is baie veeleisend, en die feit dat hy verlief is op Chantel Davids kompliseer dinge heelwat.

Dinge raak meer ingewikkeld wanneer Rachel verkrag word, uitvind sy is swanger en boonop met haar pa, Skalk Fortuin, kontak maak. Skalk is egter meer geïnteresseerd in Skalkie en wil hom só graag in die hande kry dat hy bereid is om hom ín die Zimmerman-huis te gaan soek.

Die Zimmermans

Die vete tussen Hans Zimmerman en Adam Davids word ’n voortslepende nagmerrie wat ’n lid van elke gesin betrek. Dié Duitse sakeman stel Skalkie aan om sy dogter, Adelheid (Addie), ’n bedorwe brokkie vol draadwerk, op te pas. Wanneer die bom tussen Zimmerman en Davids bars, kry Skalkie vir Mynie, wat ’n ogie op Addie het, om hom uit te help.

Addie het egter ’n wil van haar eie, en loop in die geheim dramaklasse. Sy sit dus ook nie stil wanneer sy besef daar is iets aan die gang tussen haar pa en Davids nie – dis híér waar die gort behoorlik gaar raak.

Wanneer Zimmerman se ander lyfwag, Chilly, seerkry, laai Mynie hom by Joey en Karlien af sodat hulle sy wond kan versorg. Karlien trek selfs by die Zimmerman-huis in terwyl Chilly aansterk, en dit lyk of sy nogal Zimmerman se aandag trek.

Gaan Zimmerman sy geliefde Addie ooit weer sien? Knapsekêrels is Dinsdae om 20:00 op die kassie. Gesels saam op Facebook en Twitter by #knapsekêrels!