Logo

Knapsekêrels: Naby breekpunt

Nuus
20 Maart 2018
Zimmerman begin wonder of hy óóit weer sy Addie gaan sien.
Knapsekerels-Ep11

Karlien tree drasties op. FOTO: Uit vandeesweek se episode

Elke mens het ’n breekpunt, en in vandeesweek se episode van Knapsekêrels word Zimmerman behoorlik daarheen gedryf.

Eers moet hy ’n storie (dat Addie ontvoer is) spin vir “Martha Mouton” en Chantel se ma, Lynn Davids, maar wanneer Chantel agterkom die vrou wat voorgee sy is ’n welsynwerker is eintlik die ‘Dragon’ (Addie se drama-afrigter), besluit Zimmerman om hulle in sy huis aan te hou tot Addie veilig tuis is.

Chantel snap wie die ‘Dragon’ is, Zimmerman sit sy voet neer en Skalkie word vasgekeer. Kyk die video hier:

Sy twee gaste is genoeg om Zimmerman na die gimnasium (waar hy al sy sorge weg woeker) te dryf, maar hy kan ook nie van Chantel vergeet nie. Dié smeek Skalkie om Mynie te help, veral omdat Mynie waarskynlik dieselfde oor Addie voel as wat Skalkie oor Chantel voel. Impulsiewe besluite kan tot iemand se dood lei, so die knapsekêrels gaan moet kophou.

Lees meer oor die vorige episode hier.

In die Bekker-huis raak Joey agterdogtig wanneer Koos en Domkrag (wat uit die tronk ontsnap het en hoop om geld by Karlien se gesin te kry) se stories nie klop nie. Sy word met ’n mes aangehou tot Dirk by die huis aankom en dié bel vir Karlien om te kom uithelp.

Zimmerman wil hê Skalkie moet Karlien na haar huis vergesel om te gaan ondersoek instel, maar hoor dan Skalkie-hulle is van plan om Mynie by te staan. Sy reaksie dwing Karlien om drasties op te tree.

Karlien gee Zimmerman ’n taai klap, Baby maak reg vir ’n kopskoot en dinge is nie pluis by die Bekkers nie. Kyk die video hier:

Skalk Fortuin daag by Brenda se huis op om van Samuel ontslae te raak en smeek Naomi steeds om Skalkie se selfoonnommer vir hom te gee. Wanneer Skalkie nie sy selfoon antwoord nie, bied Brenda aan om haar kollega Pierre om hulp te vra. Hy sal weet waar Zimmerman woon, omdat hy aan ’n dokkie oor ryk mense se woonplekke gewerk het.

Cassandra sê vir Rachel dat sy R100 000 aangebied is om Rachel te oortuig om ’n aborsie te kry. Rachel meen dis haar verkragters se manier om skuld te erken en terwyl Cassandra hulle laat weet die aborsie is gedoen, bel Rachel vir Skalk om sy raad te vra.

Knapsekêrels is Dinsdae om 20:00 op die kassie. Gesels saam op Facebook en Twitter by #knapsekêrels!