Logo
Koekedoortjie
web uni tv guide

Koekedoortjie

144KosprogramFamilie

Irshaad Ally: ‘Alles gaan orááit wees’

Nuus
05 Junie 2018
Ons gaan kuier saam met Irshaad Ally in Bali.
Nommer37002

Foto verskaf deur Fathom Media

“Vra die eenbeen-bedelaar wat sy ander been werd is.” Só lui die woorde van ’n geldgierige bendeleier wat ’n hele teater tot stilstand bring tydens die première van Nommer 37. En oomblikke later wil dit blyk of die woorde ‘Alles gaan oraait wees’ die teater tot ruste moet bring – maar alles behalwe.

Die bekende draaiboekskrywer en regisseur Nonsipho Dumisa se bekroonde film Nommer 37, het op 1 Junie 2018 in teaters landswyd begin draai. In dié fliek is Randall Hendricks (vertolk deur Irshaad Ally) gebonde in sy rolstoel én woonstelblok. Hy is in skuld gedompel, en word geteister deur ’n bendeleier (vertolk deur Danny Ross). Sy vrou, Pam (vertolk deur Monique Rockman), gee vir hom ’n verkyker vir sy verjaarsdag, om hom van sy omstandighede te verlig. Hierna neem Randall, sy vrou en sy beste vriend kykers saam op ’n gevaarlike pad waartydens hul lewens onherroeplik verander.

Volgens Irshaad is dié fliek ’n moet-kyk. “Dis uit en uit ’n riller, en ek dink as jy die fliek kyk, en jy word ingetrek in hierdie wêreld van hierdie man met al sy probleme, sal jy nie anders kan as om daarvan te hou nie.”

Nosipho is ook bekend vir haar rol as vervaardiger van die kykNET-sepie Suidooster, en Irshaad vertel dat dit veral interessant was om saam met Nosipho op hierdie fliek te werk, juis omdat sy, ’n “Zoeloe meisie van KwaZulu-Natal”, hierdie Afrikaanse fliek se regie behartig het én die teks geskryf het.

“Natuurlik het ’n akteur altyd sy eie gevoel en gedagtes oor ’n toneel, en akteur en regisseur se gedagtes moet uiteindelik ooreenstem. Soms is daar ’n gestryery. Maar wat cool was van haar is dat sy my gevra het: ’How would YOU like to be directed’”.

"Baie mense weet dat ek ’n rehabilitated drug addict is, dat ek betrokke was by die verkeerde mense – ek ken daardie wêreld."


Volgens Irshaad was die voorbereiding vir sy karakter in Nommer 37 baie uitdagend. “Ek het ’n swaer wat al vir 20 jaar in rolstoel is. Ek weet van die depressie wat gepaard gaan daarmee. Sommige van sy vriende, wat óók in rolstoele is, wou al selfs selfmoord pleeg...” Irshaad vertel dat hy, deur tyd saam met hulle te spandeer, sy karakter as Randall beter verstaan het.

Verder vertel Irshaad dat hy baie aanklank by Randall gevind het. “Ek het óók in die ghetto groot geword, en ek het ook die verkeerde besluite geneem. Baie mense weet dat ek ’n rehabilitated drug addict is, dat ek betrokke was by die verkeerde mense. Ek ken daardie wêreld. Maar ongeag van die karakter wat jy speel – daar is altyd ’n deel van jou in daardie karakter.”

Onlangs het Irshaad na Indonesië gereis, en hy vertel dat dit ’n land is wat baie na aan sy hart is. “Man, dis weird,” sê hy. “Die mense daar lyk soos ek. En hulle praat soos ek; dit voel net vir my soos home.

“My bou, hoe ek lyk – ek lyk soos daai mense. Maar ek hou ook van die weer.” Irshaad verduidelik: “As ek daar kom, dan trek ek net shorts, ’n vest en ’n paar plakkies aan – dan is ek by die huis.”

"Jy kan vir my op een van daai bote sit en dan kan ek gaan visvang – jy sal nie eers weet dis Irshaad nie. Jy sal dink dis ’n gewone Balinese ou wat daar op ’n boot sit."


Vir hom was dit veral lekker om tyd saam met sy vrou, Ayesha, te spandeer op die pragtige eiland Bali. “Wat baie mense nie besef nie, is dat as akteur ek amper nooit by die huis is nie.”

Hy vertel: “My vrou weet. As ek byvoorbeeld Randall, ’n gestremde ou in ’n fliek moet speel, dan ís ek ’n gestremde ou. Ek is dan nie Irshaad nie. Dis nie dat ek dit so wil hê nie. Ek kom huistoe met Randall se probleme.”

 

"Baie kere, nadat ek klaar geskiet het aan Nommer 37, kon ek nie huistoe gaan nie, want ek het te veel gehuil, en ek wil nie hê my vrou moet my só sien nie."


“So my arme vrou. Sy weet dat dit moeilik is vir my om hierdie werk te doen...dat ek so bietjie isolated wíl voel. So die hoogtepunt in Bali was beslis om tyd saam met haar te spandeer. Want sy is so ’n wonderful girl.

Bali is ’n Indonesiese eiland wat bekend is vir sy vulkaniese berge, ikoniese rysvelde, strande en pragtige koraalriwwe. Vir Irshaad was dié eiland ’n hoogtepunt van hul vakansie.

“Ons het gehoor van die vulkaan wat ontplof het voordat ons gegaan het,” vertel hy. “Ons het toe alreeds kaartjies gekoop, en die hotel bespreek, en kon dus nie alles kanselleer nie.

“Die eerste ding wat ek gevra het toe ons daar aankom was waar die vulkaan is. Ons was maar braaf en ons het gemaak of daar niks aangaan nie. Darem het hulle gesê dat dit nie naby aan ons was nie.”

 


Hierdie video maak jou sommer lus om Bali toe te gaan.

En natuurlik is Irshaad ’n trotse pa van ’n pragtige 4-jarige dogtertjie genaamd Rahmah. Sondagmiddae sorg veral vir pret, en hy vertel dat sy self ook baie kreatief is: “Sy’s ’n interessante meisie – heeltemal in haar eie wêreld. Sy kan so wegraak in haar speletjies.”


Ons is mal oor dié video van Irshaad saam met sy 'co-driver'.

Natuurlik het pa Irshaad soms sy hande vol, en op Instagram is sy video’s van hulle twee saam in die kar ’n gunsteling. “As jy vir Rahmah sê ‘kom ons speel gou dié game’ of ‘kom ons sing gou dáái song’, dan assume sy onmiddellik die possisie.”


Wag vir die einde – dis te kostelik!

Indien jy meer van Nommer 37 wil weet, gebruik die hutsmerk #Nommer37, sowel as #dalawatjymoet, op sosiale media. Kyk ook die video hier onder:

Hierdie week in Koekedoortjie lê kykNET se jong bakkers besoek af aan berg Vesuvius. Wie se volkaan gaan ontplof? Net tyd sal leer – skakel Woensdae om 20:00 in. Vir 'n kykie agter die skerms, kliek hier.