Logo

FliekNET Foendies: Ivan Botha hou sy lyf aanbieder!

Nuus
09 November 2017
Hy was al akteur, draaiboekskrywer, vervaardiger en regisseur, maar in 2018 maak Ivan Botha reg om sy skoene as aanbieder vol te staan.
fliekNET-Foendies-2

Die man wat die Suid-Afrikaanse loket behoorlik aan die prut gehou het, met flieks soos Bakgat!Pad na jou hart en Vir Altyd, gaan vanaf Februarie 2018 fliekliefhebbers op hul tone hou in die nuwe vasvra-kompetisie, FliekNET Foendies.

Dié nuwe 13-episode reeks toets deelnemers se kennis van beide die plaaslike en internasionale silwerskerm. Kykers kan uitsien na 'n bekende gas in elke episode, soos Leon Schuster, Brümilda van Rensburg, Regardt van den Bergh, Franci Swanepoel, Altus Theart en Dann Jacques Mouton. Dit is egter in die Breinbreker-rondte wat deelnemers te staan gaan kom teen mede-aanbieder, legendariese fliekkenner en resensent, Leon van Nierop.



Leon van Nierop en Ivan Botha op stel van FliekNET Foendies.

Die reeks is vervaardig deur Green Planet Productions (Varsity Sing! ekykNET Top 20), en is die konsep van regisseur Francois Nolte. Leon van Nierop was ook agter die skerms betrokke by die navorsing en samestelling van die vrae.

Maar wat sê Ivan oor dié nuwe uitdaging? Kyk die video hier onder:

FliekNET Foendies. word vanaf Februarie 2018 op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai.