Logo

Beleef opwindende debuutwerk by die 23ste KKNK

Nuus
20 Maart 2017
Nuwe werk oor alle genres is van 8 tot 15 April op Oudtshoorn by die 23ste KKNK te sien.
KKNK 2017 Logo

“Die program van die 23ste KKNK beloof vanjaar ’n belewing vir almal, met opwindende debuutwerk in alle genres en gewilde produksies van ander speelvakke wat vir die eerste keer in die Klein Karoo te sien is.” Só sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, wat van 8 tot 15 April op Oudtshoorn aangebied word.

Sewe dramas debuteer hier en sluit kontemporêre en klassieke werke in. Hulde word met Asem aan skrywer Reza de Wet gebring, wat op Vrydag 27 Januarie 2017 vyf jaar gelede oorlede is. Asem is ’n vertaling van De Wet se Breathing In, onder regie van Marthinus Basson en met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt in die rolverdeling. Asem speel af in die laaste dae van die Suid-Afrikaanse oorlog en De Wet verweef die verhaal van liefde digterlik en kragtig in ’n tyd van vernietiging, wat die alledaagse verander in die uitsonderlike.

Buite Land is die nuutste drama uit die pen van multi-bekroonde teatermaker en skrywer Neil Coppen, met Jacques Bessenger in die hoofrol. Veteraan-aktrise Elize Cawood, vertolk die rol van sy ma. Saam met hulle op die verhoog is Kopano Maroga, Mpume Mthombeni en Marvin-Lee Beukes. Die stuk fokus op die verstrengelde lewens en drome van twee Suid-Afrikaanse mans uit konserwatiewe gemeenskappe wat probeer om, weg van die kulturele, historiese en geloofsbande wat hulle tot hul verlede bind, ’n bestaan te maak.

Anna-Mart van der Merwe is te sien in die debuut drama Liewer, geskryf deur Hertzog-pryswenner Tertius Kapp en onder regie van Jaco Bouwer. Kapp en Bouwer span vir die eerste keer sedert die hoogaangeskrewe en bekroonde produksie Rooiland, hul kreatiewe kragte saam. Ook op die verhoog is Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en Tarryn Wyngaard. Liewer delf onder die clichés van liefde en is geïnspireer deur Patrick Marber se Closer.

Dawid Minnaar keer in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran terug na die verhoog in ’n solovertoning. Die stuk is geskryf deur éric-Emmanuel Schmitt, wat ook die bekroonde Oskar en die Pienk Tannie geskryf het, met regie deur Philip Rademeyer. ’n Gekwelde Joodse seun Momo, vind ’n onwaarskynlike vriend in ’n eensame Moslem-winkeleienaar, Monsieur Ibrahim. Die snaakse en voortreflike verhaal ontvou op reis deur Europa en wys hoe die belangrikste lesse geleer word wanneer mens dit die minste verwag.

Ander debuut dramas sluit in Die reuk van appels, ’n verwerking van Mark Behr se opspraakwekkende roman, onder regie van Lara Bye en met Gideon Lombard in die hoofrol. Lizz Meiring vertolk die rol van ’n oujongnooi-bloemiste van 50-plus in Geheime Taal en Sandra Prinsloo is te sien in Moedertaal, met teks en regie deur die bekroonde Nico Scheepers.

Agt komedies debuteer by die fees. Roland Schimmelpfennig se Die koninkryk van die diere, met regie en ontwerp deur Marthinus Basson, is ’n pittige komedie wat met satire die meedoënlose stryd van menslike oorlewing in die mees genadelose omgewing – die teater – takel. Die produksie bring die room van veteraan en jong talent byeen met Dawid Minnaar, Joanie Combrink, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam, Wessel Pretorius en Ludwig Binge om dié komedie lewe te gee.

My man se skelmpie se skelmpie se vrou is Lefra Produksies se vertaling en verwerking van die Britse-treffer Not Now Darling met o.a. Cobus Venter en Ana van Achterbergh. Elize Cawood en Wilson Dunster is terug met ’n splinternuwe huwelikskomedie Gebore uit die huwelik en Wessel Pretorius en David Viviers is te sien in Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof trilogie. Die produksie se saadjie is geplant as een van die kortkuns stukke by Uitkampteater in 2016, waar dit met die Kanna-toekenning vir beste debuutwerk bekroon is. Viviers is benoem vir die Kanna vir beste opkomende kunstenaar, asook die Fiësta-toekenning in dieselfde kategorie.

Feesgangers kan uitsien na vier solo-komedies, waaronder Marion Holm se Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis, O my goeie volk met Esther von Waltsleben, Pieter-Dirk Uys – wat met die Kunste Onbeperk Kruispunt vereer word – in Pasaanoffokof en De Klerk Oelofse in Strooijonker.

Daar is 12 debuut musiekproduksies. Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band trek ’n kontemporêre baadjie vir die monumentale Eet Kreef-album aan. Coenie de Villers en sy musikante bring in Karoo Suite komposisies van sy nuwe album na die verhoog en ’n splinternuwe komposisie, die Karoo Suite word vir die eerste keer gehoor. Spanningsverhaalskrywer Deon Meyer stal van sy ander talente uit as deel van die produksie en help met lirieke en van sy asemrowende fotografie vorm deel van die Karoo-viering. In ’n nostalgiese reis, sorg Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe dat ikoniese Afrikaanse musiek opgetof word in Karoo Swing.

Die eerste Afrikaanse hip-hop musiekblyspel Amper Famous, is te sien met V.I.T.O., onder regie van David Kramer en vertel die storie van ’n jong man wat groot drome, in ’n klein dorpie, droom. Ander debuut musiekproduksies sluit in Amanda Strydom – So onner deur die maan, Andriëtte Norman – Goeie genade dis ’n dekade, Danie Niehaus en Pietman Geldenhuys – Die ding van ’n liedjie, Jak de Priester – 15 jaar met klavier en kitaar, Loki Rothman en Albert Frost – Die akoestiese kitaar, Elisha Zeeman se kabaret Mond verby, optredes deur Steffie le Roux en Les Javan en Zolani Mahola – Rok en rol.

Eric Nobbs se Giel Swiegers en ander Karoo-duiwels is ’n samestelling van Karoo-verhale soos vervat in die boek In die mond van die wolf, geskryf deur die bekroonde Paul C. Venter. Venter gebruik Giel Swiegers, aartsbedrieër en tweegatjakkals van die Paal soos gesien op kykNET in Vlug na Egipte en Terug na Egipte, as die verteller.

Arbeidsgenot word omskep in ’n eksklusiewe kinderparadys vir ’n wonderwêreld waar die jong klomp kreatief kan raak en bobaas teaterervarings beleef met o.a. ’n debuut van Lollos 9 en Die ongelooflike avonture van Andries Anders. Daar word Uitkampteater-produksies spesiaal vir kinders hier aangebied en vele ander gunsteling-karakters word gesien.

Weekkaartjies na die Rivierbuurt bied vir net meer as R30 per dag toegang tot hope vermaak in die Rivierbuurt met gunstelinge soos Juanita du Plessis, Dr. Victor, Theuns Jordaan, Refentse, Kurt Darren, Emo Adams, Bok van Blerk, Rhema Varrie en vele meer op die Huisgenoot-verhoog. Toegang na dié optredes is ingesluit by Rivierbuurt-kaartjies en golden circle-kaartjies is vir uitgesoekte aande beskikbaar. Weekkaartjies kos R250 (vir agt dae se vermaak) en dagkaartjies kos R50.

Lees meer oor al hierdie debuut-produksies in die volledige feesprogram by www.kknk.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en Shoprite/Checkers en House & Home. Verblyf kan aanlyn bespreek word, of skakel 044 203 8600.