Logo
Suidoosterfees 784 x 506

Suidoosterfees 2018

Die 15de Suidoosterfees (SOF) vind vanjaar vanaf 26 April tot 1 Mei by die Artscape in Kaapstad plaas.

Die Suidoosterfees, met die tema Fantastiese 15/Fabulous 15/Uchunge chunge 15, het ’n aantal projekte wat die Kaapse Vlakte, Boland, Swartland en Karoo deur die jaar besoek en een keer ’n jaar almal in die diep-Kaap bymekaar bring. Hoewel daar veel meer as 15 fantastiese produksies is wat volgende jaar op die planke te sien is, is daar enkele hoogtepunte om na uit te sien. Fiela se Kind met die oorspronklike Fiela, Shaleen Surtie-Richards in die hoofrol, vertel hoe Fiela Komoetie haar wit vondelingkind, Benjamin, met liefde en trots grootgemaak het tot die sensusmanne hom nege jaar later kom haal het. Is Benjamin en Lukas dieselfde kind? Jare later is dit Benjamin/Lukas self wat worstel met die vraag. Evita Bezuidenhout lewer haar staatsrede, Tannie Evita Praat Kaktus, op die Suidoosterfees-verhoog. Sy kyk na die politiek van die oomblik, die vrese van vandag, die spoke van gister en die tsunamis van die toekoms. Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe deel hul liefde vir big band swing op die Operahuis se verhoog, in die vertoning Karoo Swing Innie Kaap. Hierdie nostalgiese reis is vir elkeen wat lus is om te jol. Nataniël maak ook vanjaar sy debuut by die Suidoosterfees in Classic Nataniël, vergesel deur agt musikante, een jazzkwartet, en een strykkwartet. Met unieke verhale en asemrowende uitrustings deur Floris Louw sal Classic Nataniël soos enige ware-Nataniël-geleentheid nie teleurstel nie. Die geliefde operette, Die Fledermaus, vertel die verhaal van ware liefde, vriendskap en getrouheid. Dit word binne ’n Suid-Afrikaanse idioom geplaas, met splinternuwe bindingsteks in Afrikaans.  Kaapse Tango, met The Cape Town Tango Ensemble, jazz-ikoon Melanie Scholtz en beeldskone Ballroom, Tango, Rumba en Samba-danse deur Michaela Loots en Keanan McClune, sal ook te sien wees. Daar sal ook ’n opvolg-konsert wees: Kaapse Khoi Jazz II wat ’n viering is van welbekende kompinste van die beste Suid-Afrikaanse jazz. Dié produksie, onder leiding van die bekwame pianis Camillo Lombard, sal ’n romantiese atmosfeer waarborg.  Vanjaar tree die wenners van die Suidoosterfees Talentsoektog weer op in Kunstreffers: Konsert van Hoop. Hulle deel die verhoog met die ikoniese Laurika Rauch en Robin Peters van The Voice-faam. Klassieke kunstenaars soos Janel Speelman en Xolane Marman, Unmute Dance Company, Jazzart, as ook Cape Town City Ballet, Dizu Plaatjies en die Libertaskoor onder leiding van Johan de Villiers, sal ook die gehoor vermaak. Daar word ook voorsiening gemaak vir jong en opkomende kunstenaars wat deel vorm van die NATi-Jong Sterre-genre, met produksies soos onder meer Gympiestraat, Ikhaya Lam en NRNNSA: Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid Afrika. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Bly op hoogte deur die Suidoosterfees te volg op Facebook, Twitter en Instagram, en besoek www.suidoosterfees.co.za vir meer inligting.

Ander Geleenthede