Die tyd het aangebreek vir… Koekedoortjie!

Al die jong bakkers in die land skuif nader: Dis tyd vir Koekedoortjie op kykNET!

Eers was dit die kinders wat kosmaak in die kombuis met Kokkedoortjie, maar nou het kykNET besluit om die Kokkedoortjie-kombuis oop te maak vir kinders wat bak – hetsy soet of sout, brood, pastei of koek. As jy tussen 9 en 13 jaar oud is en die klitser laat sing en die oonde laat dreun in julle kombuis, is Koekedoortjie nét vir jou!

Aan die stuur van Koekedoortjie staan Kokkedoortjie se geliefde duo Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, en dis vir húlle wat daar weekliks beïndruk sal moet word met jou heel beste gebak om te verseker dat JY as kykNET se eerste Koekedoortjie aangewys sal word.

Elke Koekedoortjie sal ook ’n ma of pa, ouma of oupa moet saambring, wat nie net as chaperone sal dien nie, maar ook as bak-inspirasie, en bakmaat in van die uitdagings! Maak dus seker jy kies jou familielid báie goed en uiters versigtig…

Skryf hier onder in, of maak kontak by koekedoortjie@homebrewfilms.tv of 021 422 3452 vir meer inligting.

Julle albei moet beskikbaar wees vanaf 23 September 2017 tot 7 Oktober 2017 om in Kaapstad te verfilm aan die reeks (alle reis en verblyf sal voorsien word).

Inskrywings is nou oop tot 25 Augustus 2017. Oudisies vind plaas in die week van 4-7 September 2017.

Kyk uit vir meer inligting op die kykNET-webwerf en ook op Facebook, Twitter en Instagram.

Hier is wenke om jou met die invul van die vorm te help:

  • Bestudeer EERSTE die Inskrywingsreëls en Voorwaardes wat ook op kykNET se webblad is (onderaan die inskrywingsvorm), om seker te maak dat jy aan al die vereistes voldoen om te deel te neem.
  • Ons is op soek na entoesiastiese, talentvolle en uitstekende bakkers tussen die ouderdomme van 9 en 13 jaar oud. Jy kan 9 jaar oud of reeds 13 wees – nie 8 of 14 jaar oud nie – ten tye van opname. Jy moet ook vergesel wees deur een nabye familielid – ma, pa, oupa, of ouma – wat beide as chaperone sal dien, sowel as spanmaat as en wanneer die formaat dit vereis. Die familielid sal dus ook op kamera verskyn.
  • Foto’s van jou gebak is belangrik – enigiets om aan ons beoordelaars ’n idee te gee waartoe jy in staat is.
  • Onthou ook dat ’n foto van jouself en jou famililelid hierdie vorm moet vergesel.
  • Hoe gouer jy hierdie vorm terugstuur, hoe beter. Moet dus nie uitstel tot die sluitingsdatum nie!

Al die inskryfvorms wat VOOR die sluitingsdatum ontvang word, sal gelees en oorweeg word. Vorms wat hierdie datum ontvang word, word nie gelees of oorweeg nie. Weens die baie inskrywings wat ontvang word, sal ons nie persoonlik op elkeen kan reageer nie.

Indien jy een van die suksesvolle inskrywings is, sal ’n lid van ons produksiespan jou skakel en inlig oor die oudisieproses.

As jy teen 31 Augustus 2017 nog niks van ons gehoor het nie, was jou inskrywing ongelukkig nie suksesvol nie.