Boer Soek 'n Vrou 10: Skryf in!

Ons nooi hiermee alle ongetroude belangstellendes om deel te neem aan Boer Soek ’n Vrou se tiende seisoen.

Ná die sukses van die vorige seisoene van Boer Soek ’n Vrou, maak ons nou weer so! Ons nooi hiermee alle ongetroude belangstellendes uit om deel te neem aan Boer Soek ’n Vrou 10.

kykNET het 10 ongetroude, energieke en ondernemende boere gekies om deel te wees van die 10de seisoen van Boer Soek ’n Vrou. Kyk of een van hulle dalk jou oog vang!

Inskrywings vir nege van die boere het reeds gesluit. MAAR ONTHOU: Willie is eers ná boer Stephen onttrek het aan kykers voorgestel. Om dié rede het dames nog ’n week om vir Willie te skryf. Inskrywings vir Willie sluit dus op Vrydag 2 Junie om middernag! Skryf só vir Willie: E-POS jou voltooide inskrywingsvorm (met die nodige informasie aangeheg) na: boer@lions-head.co.za

Kontak SEAN by Lion’s Head Productions indien jy enige verdere inligting nodig het by: 072 531 0797, of stuur ’n e-pos na boer@lions-head.co.za

Boer Soek ’n Vrou 10 sal bestaan uit 13 episodes van een uur lank elk, voorafgegaan deur insetsels wat op kykNET uitgesaai sal word wat die boere bekendstel sodat hulle potensiële metgeselle kan werf.

Jy moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees. Indien jy geskei of ’n weduwee is, moet ’n afskrif van die skeidokument of sterftebewys aangeheg word. Vorms wat nie onderteken is nie, of wat geen foto’s of ID-dokumente of briewe insluit nie, sal nie oorweeg word nie. 

Jy word gevra om ’n brief aan te heg wat jy aan die boer van jou keuse geskryf het. Vertel daarin watter eienskappe jy soek in jou ideale man/vrou en gee ’n kort beskrywing van wie jy is (lewenskets) en waarvan jy hou (manier van lewe en stokperdjies). Gee ook ’n kort beskrywing van jou ideale romantiese afspraak. As jy ’n mooi liefdesbrief skryf, gaan dit meer gewig dra by die boer van jou keuse. Alle briewe wat ontvang word, sal deur die vervaardigers aan die boere oorhandig word.

Aangesien Boer Soek ’n Vrou 10 ’n werklikheidsreeks is, sal die gekose deelnemers hulself beskikbaar moet stel vir opnames op die boer se plaas (wat ’n week mag duur) wanneer dit die vervaardigers se skedule pas en hulle sal van tyd tot tyd bereid moet wees om vir opnames (wat ’n paar dae mag duur) weg van die huis af te reis. Opnames word in Kaapstad beplan om verskeie afsprake af te neem wat jy met die boer van jou keuse moet nakom.