Logo

Sara se Geheim onthul alles in April

Nuus
30 Oktober 2017
Die tweede seisoen van Sara se Geheim sal vanaf April 2018 op kanaal 144 uitsaai.
Sara-se-Geheim-2-Bill

FOTO: Lizzie (Quanita Adams) en Gadija (Roxanne Blaise)

 

“Die waarheid is ’n vlymskerp dolk. Dit sny diep. Dit sny seer.”

 

Na ’n boeiende eerste seisoen van Sara se Geheim kan kykers nou uitsien na ’n tweede seisoen van dié gewilde reeks vanaf April 2018.

Die vervaardiger, Roberta Durrant van Paw Paw Films, sê sy “is baie opgewonde om die res van die verhaal van Sara se Geheim te vertel.”

Bloed sal kruip waar dit nie kan loop nie. Bloed roep bloed en wys hoe ver mense sal gaan om hul naastes te beskerm. Dié tema word ook in Sara se Geheim 2 aangeraak. Gaan bloed teen bloed draai wanneer dit op die lappe kom dat Sara haar kind dood verklaar het in die tyd van apartheid? Die verdagtes in die kampus-verkragting-skandaal se hofsaak word in die nuwe seisoen van stapel gestuur en Nicola se stryd teen Alzheimers neem ’n dramatiese wending. Op die plaas word Koos ’n aanbod gemaak wat moeilik is om van die hand te wys.

Sara se Geheim is ’n dramareeks (dis oorspronklik as ’n sepie ontwikkel!) wat in en om Athlone en Durbanville afspeel. Sara Abrahams, wat swaar dra aan ’n geheim wat sy 35 jaar gelede moes vertel om haar oudste seun (Johan oftewel Johnny) se lewe te red, is die persoon wat die Cloetes, Kiewietse en die Vermeulens saambind. Sara bewaar nie net haar eie geheim nie, maar ook dié van haar kinders.

Kyk hier na van die skokkende oomblikke uit seisoen een:

Johan Vermeulen se lewe het ’n tweede keer onherroeplik verander toe hy Nicola op universiteit ontmoet het. Hulle het getrou en ’n dogter, Inge, in die wêreld verwelkom. Sara (wat Johan in die geheim besoek) is bekommerd almal gaan uitvind dat sy destyds haar Johnny in die kinderlose mevrou Vermeulen se sorg oorgelaat het.

Nicola voel asof sy nie deur die muur tussen haar en Johan kan breek nie, en knoop ’n verhouding met Ebert, Johan se kollega, aan – nóg ’n geheim waarvan Sara weet.

Ebert sukkel om te aanvaar dat sy vrou, Sanel, nie meer alleen kan wees nie omdat sy soms vergeet wie sy is en waar sy bly. Sanel hoor in seisoen een sy het Alzheimers op die ouderdom van 46.

Vir Maggie Cloete, Sara se oudste dogter, was Johnny se verdwyning ’n bitter pil om te sluk en sy is die een wat hom die meeste mis. Toe Maggie destyds besef het sy is swanger met Ricky (wat in die tronk beland het) se kind, het sy kontak gemaak met Virgil, wat al jare by haar vlerksleep. Eers met Aiden se geboorte het Sara verstaan waarom Maggie so haastig was om met Virgil te trou.

Aiden en Inge (sonder dat hulle weet hulle is eintlik niggie en nefie) vorm ’n noue band op universiteit en maak saam ’n skokkende ontdekking. Wanneer Inge uitvind haar kêrel, Gerhard, is een van die Astonia-verkragters, is sy geskok in haar eie blindheid.

Sara se jongste, Lizzie, is getroud met ’n rondloper, Danny Kiewiets. “Jy moet daai vrou los, want as jy my dogter se hart breek, dan is die hel los,” sê Sara vir Danny in seisoen een.

Quanita Adams het onlangs dié foto op die stel van Sara se Geheim 2 op Instagram gedeel:

In die rolverdeling is: June van Merch, Lee-Ann van Rooi, Charlton Lee George, Marlo Minnaar, Conway October, Brendon Daniels, Quanita Adams, Dawid Minnaar, Natania van Heerden, Lise-Marie Richardson, Margo Luyt, Roxanne Blaise, Elton Landrew, Bart Fouche, Keenan Arrison, Keeno Lee Hector, Andre Weideman, Nicola Hanekom, Edwin van der Walt, Marguerite van Eeden, David Isaacs, Christian Bennet, Kenneth Azagsiba, Almar Muller, De Klerk Oelofse, Riana Alfreds, Andre Samuels, Dijan Botha, Earl Hendricks, Shimmy Isaacs, Leande Engelbrecht, Khadija Heeger, Mbulelo Grootboom, Hein de Vries, Liese Kuhn, Oscar Petersen, Marvin-Lee Beukes, Maurice Carpede, Vilje Maritz, Andrico Goosen, Luke Jansen, Dilon Windvogel, Lee Roodt, Neels Coetzee, Hannes van Wyk, Noel Oostendorp, Riaan Visman, Natasha Williams, Ian van der Westhuizen, Morne Visser, Suzanne Beyers, Stian Bam, Albert Maritz, Siya Mayola, Gamiet Petersen, Roeline Daneel, Martelise Kolwer, Marlon Swarts, Dealan Fredericks, Vanessa Ann Lee, Jacque Theron, Jean-Pierre Lesch, Ernest Sinclair, Dylan Viljoen, Jumaine Hansen, Clarissa Roodt, Monique Rockman, Shannon Williams, Dustin Beck, Grant Powell, Phillip Henn, Lance Elliot, Octavia Meisenheimer, Maruwaan Gossant, Elana Afrika-Bredenkamp, Stellie Grobler, Marion Holmes, Emma Kotze en Schalk Bezuidenhout. Lees meer oor die karakters hier onder.

Seisoen 2 beloof om kykers selfs méér vasgenael te hou en word tans in Kaapstad verfilm. Hou kykNET se webblad, sowel as Facebook, Twitter en Instagram dop vir meer oor #SaraGeheim.