Logo

Mila Guy: Die Silwerskermfees-koningin

Nuus
17 Augustus 2017
Die aktrise Mila Guy is deesdae op almal se lippe – en met reg.
Mila billboard

FOTO: Louis Daniel Botha

Mila het in kykers se harte gekruip met haar vertolking van die rebelse Malanie Schmidt in die Afrikaanse mokumentêr, Hotel. Malanie is bekend daarvoor dat sy nie juis ’n spanspeler is nie. Mila vat egter een vir die span en het vanjaar drie films wat by die kykNET Silwerskermfees 2017 draai. Ons het met haar gesels.

Hoe verskil jou karakters van mekaar in WonderlusLiewe Kersfeesvader en Vlugtig?
Al drie die karakters is baie verskillend en elkeen het hul eie uitdagings gehad. Nonnie is ’n baie jong karakter, asook naïef, en moet nog leer dat familie baie belangrik is. My karakter in Wonderlus is die tipiese meisie wat deur die samelewing vertel word om te trou, terwyl sy nog leer wie en wat sy regtig is. In Vlugtig is my karakter onvoorspelbaar. 

Watter interessante plekke het jy gesien met die verfilming van bogenoemde?
Liewe Kersfeesvader is geskiet in die Karoo, Prins Albert, wat vir my ’n baie interessante en mooi dorpie is, wat ek nooit sou sien as ek nie daar geskiet het nie. Dit laat my sommer met nuwe oё na die Karoo en klein dorpies kyk. 

Jy vertolk die hoofkarakter in die vollengte film Liewe Kersfeesvader. Hoe het jy jouself voorberei om in Nonnie se skoene te staan?
Nonnie is ’n baie sterk karakter wat nog baie dinge moet leer van haarself. Vir my, as Mila, was dit baie maklik om in haar skoene te klim omdat ek reeds in daai fase van my lewe was. Ek dink ek kon ook met haar identifiseer omrede ek die seer ken om verwyderd te wees van jou familie, alhoewel my situasie anders is. Terselfdertyd dink ek Nonnie is braaf en kon ek ook iets van die karakter leer. 

Hoe ervaar jy die sprong van die klein kassie na die silwerdoek?
As ek moet eerlik wees, die silwerdoek is amper meer uitdagend, want jy het net vier na vyf weke om in daai karakter te klim en iets mooi te maak. Bygesê, geniet ek die klein kassie en silwerdoek ewe veel.

Wat is jou ‘randomste’ interaksie met ’n aanhanger?
Die eerste keer wat iemand my herken het, was vir my rol in Binnelanders. ’n Tannie het my herken en lank na my gestaar tot sy na my gekom het en gesê het hoe teleurgesteld sy was dat ek die baba vir die ouma gegee het. In my kop was ek baie deurmekaar en toe besef ek dit was deel van my storie op Binnelanders. Maar sy was regtig vies vir my. 

Waarna kan kykers uitsien in Hotel 2, wat eersdaags op die kassie sal wees?
Baie vermaak en pret asook ’n bietjie meer van my en Danny se verhouding.

Watter projekte het jy in die pyplyn?
Ek is tans besig om Hotel 2 te skiet en Bedford Wives.

Kyk uit vir Hotel 2, wat vanaf 9 Oktober 2017, om 20:30, weer op kykNET (kanaal 144) te sien sal wees.