Logo

Elders: Die Camino – eersdaags te sien op die kassie

Nuus
26 Oktober 2017
Die eerste episode van Elders: Die Camino saai op 2 Januarie 2017 om 17:30 op kykNET.
Elders

Elders, die topverkoperboek oor die Camino deur die skrywer, reisjoernalis en TV-aanbieder, Erns Grundling, dien as inspirasie vir Elders: Die Camino – ’n dokumentêre reeks en leefstylavontuur wat van 2 Januarie af op kykNET en Showmax uitgesaai word. Die reeks word moontlik gemaak deur Clemengold, Showmax, Sure Travel en kykNET.

Elders is in Maart 2017 by die US Woordfees op Stellenbosch bekendgestel. Dit is ’n topverkoperboek wat reeds in ’n derde druk is. Erns het toe saam met die filmmaker en vervaardiger Niel van Deventer van Palama Productions ’n televisiereeks ontwikkel wat geïnspireer is deur die boek.

“Ek het in September 2017 vir ’n maand lank teruggekeer na Spanje saam met ’n klein kameraspan en sowat 350 km gestap,” vertel Erns. “Die Camino het geweldig gegroei in gewildheid oor die afgelope dekade en mense van regoor die wêreld – en toenemend Suid-Afrika – gaan stap dit vir ’n verskeidenheid redes.

“Dit was ’n groot voorreg om weer die geel pyle na Santiago de Compostela te volg en ek hoop hierdie reeks inspireer kykers om self ook binnekort die Camino aan te pak. Of as dit iemand meer gereeld om die blok laat stap, is dit ook goed,” sê hy.

Die reeks is ’n leefstylavontuur, en fokus op verskeie aspekte: die genot van stap, kop skoonmaak en in die oomblik leef, die natuurskoon van die Spaanse platteland, kerke en monumente, die vriendskappe en konneksies wat gemaak word met mede-stappers en mense langs die pad, en die interessante en uiteenlopende blyplekke – natuurlik ook dan die cuisine eie aan die Spanje.

“Om die eenvoud en prag van die Spaanse platteland te kan sien en te probeer vasvang vir hierdie reeks het my baie vrae laat vra oor myself, ons land en dit wat ons baie keer gedwonge maar doen. Die Camino en die mense en plekke langs die roete het my baie laat herbesin oor die sin van die lewe,” vertel Niel van Deventer.

“Ek dink ons het saam met Erns en sy kennis van die Camino dit reggekry om ’n fantastiese reeks te skiet wat al die uitdagings weergee, maar ook nie al die pret wat dit bied agterweë laat nie.

“Ek sal uiters verbaas wees as daar nie vanaf Januarie ’n groot styging in die verkope van stapskoene en retoerkaartjies Spanje toe is nie,” meen Niel.

Niel se vrou, die aktrise en regisseur Charlené Brouwer, het ook saamgestap en die regie behartig. Die ander lid van die span was die videograaf Kobus Zietsman.

Erns vertel hy het hierdie avontuur met groot onsekerhede aangepak. “Dit was nie die tipe reeks waar ek vooraf kon afsprake maak en die episodes se segmente kon uitwerk nie. Ons het glad nie geweet wat om te verwag nie. Maar dit het juis vir my die reeks so lekker gemaak – ons moes in die oomblik leef en die Camino en die mede-pelgrims vertrou.

“En dit was veral lekker dat die span saam met my gestap het en die Camino eerstehands kon ervaar.

“Daar is ’n aanhaling langs die Camino – die Camino voorsien. Die Camino het beslis voorsien wat hierdie projek betref het. Ek het fantastiese mense langs die pad ontmoet en almal was gewillig om op kamera te gesels. En dit was heerlik om soms Afrikaans op die Camino te hoor en iemand van die huis raak te stap! My gedagtes en hart is vol van al die wonderlike avonture wat ons span saam beleef het in Spanje.” 

Die reeks van 13 episodes begin op 2 Januarie om 17:30 op kykNET. “Ek is baie bly die reeks skop sommer so vroeg in die Nuwejaar af,” sê Erns. “Dan is ons almal nog vol Nuwejaarsvoornemens. My wens is dat kykers die reeks geniet en dit as ’n uitnodiging beskou om meer gereeld te stap en meer bewustelik te leef.

“Elke mens se Camino is sy of haar eie reis – hopelik plant hierdie reeks ’n paar saadjies by voornemende stappers.”