Logo

Boer Soek ’n Vrou: Steeds verlief!

Nuus
19 Oktober 2017
Boer Soek ’n Vrou loer vandeesweek in by nóg van die boere wat deur Kupido se pyle getref is.
BSV-Johan-en-Helen

Johan en Helen op hul troudag. FOTO: Alfred Lor van Shooot

Boer Soek ’n Vrou-kykers was verlede week vasgenael voor die kassie om uit te vind hoe dit deesdae met Jacobus, Hubert, Ludwig en Gerrie gaan. Dié week maak ons weer so!

Die Boer Soek ’n Vrou-bakkie maak vandag ’n Vrystaatse draai by seisoen 7 se Lize, die vroueboer wat kykers se hartsnare behoorlik geroer het.

’n Mens moet speel met die pak kaarte wat die lewe vir jou uitdeel, en vir dié pragtige boer van die Viljoenskroon-omgewing het dinge goed uitgedraai ná sy van haar lae kaarte ontslae geraak het. Lize se man is einde 2012 oorlede en haar 20-jarige seun slegs vier maande later, en in 2014 het sy ingeskryf vir Boer Soek ’n Vrou om weer ’n kans op liefde en geluk te waag.

Hardie, die saggeaarde boer met wie sy vandag getroud is, het nie vir haar ’n brief geskryf óf haar voor die kameras leer ken nie. Hy het haar op die program raakgesien en kort daarna in lewende lywe ontmoet.

By die reünie het Lize reeds met ’n blink klippie aan die vinger gespog. “Die boerdery kry bietjie skade nou,” het die boer, verlief en verlore, vir Nadia gesê. “Ek slag verkeerde beeste en ek neem verkeerde besluite!”

Hulle het tydens ’n piepklein seremonie op ’n berg onder ’n gazebo getrou en later, in Desember, dit behoorlik gedoen voor hul 106 gaste.

Hardie vertel hy en Lize is deesdae eerder toesighouers as boere: Sy seun hou die fort op sy plaas en Lize se seun is doenig op haar plaas. “Op hierdie stadium werk dit lekker uit so. Ons hanteer dit goed,” sê hy.

Die band tussen haar en Hardie raak ál sterker, sê Lize, en die twee rits soweel as moontlik rond (met hul karavaan aangehaak). “My lewe het letterlik van trane na lag verander, en dis ’n wonderlike ding wat ’n mens vir niemand kan beskryf nie.”

KYK: ’n Groter familie

Van “hot flashes” tot “kaal kolle” op die kop – by Johan en Helen, wat ook aan seisoen 7 deelgeneem het, is die geselsies is nog lank nie op nie. Vir dié boer van Sutherland blom die liefde deesdae op Ladismith, waar sy en Helen se plaashuis staan.

Die rustige blondine met die blou oë het Johan se hart van dag een af vinniger laat klop. Tydens die vakansieweek het Johan vir Nadia vertel hoe hy homself voor die kansel sien staan en “snot en trane” huil soos wat Helen na hom aangestap kom.

LEES: Boer Soek ’n Vrou se Johan en Helen raak verloof

Gallery

In 2015 het dit inderdaad só gebeur, en Johan het gesnik soos “iets wat verstik aan ’n droeë broodjie”.

Dis nou nadat beide aanpassings en opofferings vir die liefde moes maak, van hul goedjies oppak tot bou aan ’n nuwe verhouding. “Die ou dingetjie het maer hier aangekom van die stres!” lag Johan.

Hy sê Helen hou hom kalm – sy is sy “handbriek” – terwyl die vurige boer haar weer geleer het om vir haarself op te staan. “Partydae is ek spyt,” spot hy.

“Ai, my liefie, ek wil jou nog steeds hê,” sê Helen, waarop Johan antwoord: “Jy het my.”

KYK: ‘Ek het ’n traantjie gepik’

Hierna hou die bakkie stil in Robertson, by Erik en Judi van seisoen 3. Judi se brief en foto het dié boer se oog gevang en ’n bietjie meer as ’n jaar later is die knoop deurgehaak.

Judi het een aand vir Erik gaan kuier en die boer het haar die jawoord gevra terwyl hulle besig was om vleispakkies toe te draai. “Ek is maar nie ’n baie romantiese man nie,” sê Erik.

Die troue was harde werk, maar ’n plaasmakietie soos min en ’n droomdag vir beide Judi en Erik.

Hulle het twee seuntjies. “Ek is ’n goeie pa vir my kinders,” sê Erik. Judi stem: “Hoe lief hulle vir hulle pa is kan ’n mens vir seker sien.”

KYK: Telefoon-liefde

Seisoen 1 se Tickey en Selme-Louise was Boer Soek ’n vrou se eerste suksesverhaal en tien jaar later kan kykers steeds nie genoeg van dié skaapboer en sy donkerkop nooi kry nie.

Selme-Louise het destyds vir Elma én voor “die hele volk” gesê sy sal verlief kan raak op dié boer van die Karoo. Aan die einde van die week op die plaas het Tickey gesê: “Nee ou Selmetjie, jy kan deur my oë sien, so…”

Vandag sê die boer: Hulle het al báie sakke sout geëet, maar hy en sy vrou is ’n gedugte span. “Ek weet ons is baie lief vir mekaar.”

Hulle is bly hulle het ingeskryf in die dae wat jy nog ’n skelm soentjie kon steel en nie heeltyd mikrofone moes dra nie. Die druk op vandag se boere is ongetwyfeld meer, meen beide. “Ek weet nie of ek nóú sal kans sien vir dit nie,” sê Selme-Louise.

Hul kosbaarste dag was seker toe hulle agt jaar gelede op die plaas waar Selme-Louise grootgeword het afgehaak het. “Dit was ’n wonderlike dag, ja,” sê Tickey.

Selme-Louis het ’n kleuterskool op Beaufort-Wes en die paartjie se twee kinders is hul grootste rykdom. Net omdat hulle nou op die dorp bly beteken geensins Tickey is vir ’n enkele dag nié ’n boer nie. Hy ry nog gereeld plaas toe.

“As dit nie vir hierdie program was nie, het ons mekaar nie ontmoet nie,”  sê Tickey. “Ek het die twee pragtigste kinders, ’n pragtige vrou… Nee, ek gaan nie huil vandag nie... Ons kan vir Boer Soek ’n Vrou baie dankie sê.”

KYK: Baanbreker-liefde

Die storie agter die storie! Ons gesels met vervaardiger Elmarie Botha:

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nóg ’n spesiale episode! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.