Logo

Deon Opperman: Só is saadjie vir Fluiters geplant

Nuus
07 Junie 2016
Alles in Fluiters is gegrond op die werklikheid, vertel die skrywer en vervaardiger Deon Opperman aan Bibi Slippers in kykNET se jongste uitgawe van Digityd.
Deon Opperman 2016

Fluiters, die splinternuwe kykNET-reeks uit die gerekende skrywer en vervaardiger Deon Opperman se pen, bied aksie soos wat kykers nog nooit in hul moedertaal beleef het nie.

Bibi Slippers het met Deon Opperman oor Fluiters gesels:

Die volledige artikel is in die jongste uitgawe van kykNET se digitale tydskrif, Digityd, beskikbaar. Lees dit hier.

Deon het 13 weke lank aan die reeks geskryf – een episode per week. Op Maandae het hy die intrige uitgewerk, en dan van Dinsdag tot Saterdag elke dag soos klokslag een bedryf geskryf.

Lees ook: Fluiters: Die helde en die boewe

Hy het ook ’n MOOC (Massive Open Online Course) in Python-programmering deur die Michigan State University gedoen sodat hy visuele materiaal kon skep wat presies by die teks inpas en kykers help om te volg wat in die rekenaar se brein en in die storielyn gebeur.

Hoewel dié reeks heeltemal anders is as sy vorige werk, is daar een tipiese Deon Opperman-kenmerk: Dis geskryf vir die gehoor. “Ek wil hê die kykers moet saam met die karakters op reis gaan en dan sê: ‘My maggies!’ ”

Op hierdie reis wil Deon mense blootstel aan sy eie groot belangstelling: die makro-ekonomie en internasionale politiek.

Waar Hartland, Donkerland en Bloedbroers met Afrikaner-identiteit geworstel het, gaan Fluiters eerder oor groter internasionale magte en kragte wat ’n invloed het op ons daaglikse bestaan. Dit gaan oor kwessies van vryheid en privaatheid en oor die rol wat tegnologie hierin speel.

Die onthullings deur die Amerikaanse fluitjieblaser Edward Snowden oor die Amerikaanse regering se Big Brother-agtige waarneming van gewone burgers het hom aan die dink gesit, en só is die saadjie vir die reeks geplant.

Kyk: Jozua Malherbe, die regisseur en kinematograaf van Fluiters, gesels met ons. Klik hier vir deel 1, en hier vir deel 2.



“Alles in Fluiters is gegrond op die werklikheid. Die gehoor leer saam met die karakters oor dinge soos die deep web, Bitcoin, SecureDrop-sites en meer.”

Hy wil hê mense moet oor dié goed dink, want dit maak saak. “As ek totaal sinies was, het ek ophou skryf. Iemand het eenkeer vir my gevra: ‘Waarom doen ons die moeite om kuns te maak? Waarom?’ Want, het ek geantwoord, as ons dit regkry om selfs net één mens se lewe aan te raak, en selfs net ’n klein effek kan hê op die manier waarop hulle na die wêreld kyk – sodat hulle dieper kyk en beter kyk – dan het ons ons tyd góéd gebruik.”