Safari 4x4
Bladsy 1 van 1 |
Safari 4x4
Safari 4x4Maandae om 17:30
André de Villiers, 2008 en 2009 se Nasionale 4x4 Fundi kampioen en besturende direkteur van Safari Centre 4x4 Winkels is dié 4x4 deskundige wat Safari 4x4 Roetes op kykNET in 2007, 2008, 2009 en 2010 aangebied het. Hierdie jaar is geen uitsondering nie, en 'n vyfde seisoen word vanaf 2 Januarie 2012 tot 26 Maart 201 2 op kykNET uit te saai.
Safari 4x4 Roetes verskyn in spitstyd op Maandae teen 17:30 tot 18:00 en sal in Afrikaans aangebied word met herhalings wat 5 keer per week verskyn.
Safari 4x4 Roetes fokus op 'n reeks uitdagende 4x4 roetes en beoog om die huidige en toekomstige 4x4 entoesias te in te lig met nuttige 4x4 wenke, demonstrasies van korrekte 4x4 bestuurstegnieke en betroubare informasie. André begin elkeen van die reeks se 13 episodes met 'n inleiding van die week se 4x4 roete en watse fasiliteite beskikbaar is. Verder verduidelik hy wat gedoen moet word om die voertuig toe te rus en watse 4x4 en buitelewe toerusting benodig is om die week se roete met selfvertroue aan te pak.Nadat die inleiding en voorbereiding afgehandel is, pak André die roete aan terwyl hy vir die kyker kommentaar lewer met 4x4 wenke en algemene informasie. Aan die einde van elke episode word die week se roete ook 'n gradering gegee en kykers by die huis kry die geleentheid om 'n 4x4 opleidingskursus geskenkbewys (aangebied deur André de Villiers) te wen deur 'n eenvoudige vraag te beantwoord.
Safari 4x4 Roetes beoog om alle hoof areas in Suid Afrika te verteenwoordig met 'n reeks verskillende toestande en hindernisse soos berg-, klip-, sand-, rivier-, gras-, sneeu- en modderroetes asook water hindernisse. Al hierdie roetes sal aangepak word met 'n splinternuwe Toyota Hilux wat met 'n Warn wen-as gepas is deur Safari Centre, en wat met Bridgestone wiele spog.
Besoek gerus die webwerf.
2 Januarie - Riverbend
In die nuwe reeks ry hy met ‘n automatiese Fortuner met ‘n V6 petrol enjin. Hy sleep ook ‘n Jurgens XT140 Boswa saam met hom. Die eerste 4x4 roete wat aangepak word is in die Noord-Wes provinsie verfilm. Riverbend 4x4 Roete is naby Groot Mariko geleë. Daar is verskeie roetes op die plaas, onder andere die Lang Kloof roete met baie klip en pragtige uitsigte van bo-op die berg. Die Rivier roete met sy baie waterkruisings word ook gery. Een gelukkige kyker kan die Jurgens XT140 wen deur ’n maklike vraag te beantwoord na afloop van die episode.
9 Januarie - Karee Krans
Met hierdie episode vat André ons na Karee Krans natuurplaas, wat net anderkant Rustenburg geleë is. Die pragtige plaas word omring deur berge en bied goeie 4x4 roetes aan wat verseker aanbeveel word. Daar kan op alle tipes terreine gery word: klip, rots, los grond, rivier kruisings en modder. Dis ‘n ideale wegbreekplek vir die hele gesin.
16 Januarie - Thaba Moia
André de Villiers neem jou na die welbekende Thaba Moia in die Waterberge wat met sowat 2uur se ry van Pretoria is. Die wildsplaas en 4x4 opleidingsterrein is net anderkant Naboomspruit geleë. Met hierdie 4x4 roete wat goed bekend is aan André, vat hy die sleepwa oor die berg na ‘n pragtige boskamp. Andre deel ook baie wenke uit oor sleepwa sleep tussen 4x4 hindernisse en help selfs om ’n potbrood te bak op die kole. Hierdie wildsplaas bied baie 4x4 roetes wat jou 3 dae besig sal hou. Behalwe die verskeie enkel boskampe op verskillende plekke op die plaas, is daar ook pragtige selfsorg eenhede beskikbaar. Aktiwiteite sluit visvang, stap roetes, wildsbesigtiging, voëlkyk en fietsry in en jy kan selfs kom miroligte vliegtuig vlieg. Die plaas het ook ‘n 4x4 opleidings fasilitiet wat deur André self gebruik word.
23 Januarie - Rametsi
Rametsi 4x4 roete is tussen Swartruggens en Groot Mariko geleë en grens aan die Lindleyspoort dam, sowat 2 en ‘n half uur se ry van Pretoria. André ry die plaas se moeilikste 4x4 roete en wys hoe moeilike hindernisse gekruis moet word. Die middag word die Kloof Roete met sy mooi natuurskoon ook aangedurf. Rametsi het meer as 100 beddens, ‘n pragtige karavaanpark en baie diere. Pak ook jou visstok in, want daar is baie vis in die dam.
30 Januarie - Thaba Monate
Thaba Monate is net anderkant Bela-Bela (Warmbad) geleë en ideal vir ‘n vinnige naweek wegbreek vanaf Gauteng. Die plaas bied verskeie roetes vir 4x2 voertuie sowel as 4x4. Daar is een 4x4 bergroete wat nie sonder handskoene aangepak kan word nie. Die een hindernis op die roete is ‘n gradering 5 en André wys hoe jy hom maklik kan baasraak. Die fasiliteite is netjies versorg en baie goed ingerig. Daar is vele aktiwiteite vir ieder en elk van warm & koue swembaddens,tennisbane, put-put, buitelug skaak, wilds-besigtiging, bergfietsry en nog vele meer. Oornag chalet akkommodasie is baie netjies en hulle spog met 2x karavaan parke asook ‘n restaurant.
6 Februarie
André vat hierdie week die pad na die Vrystaat en besoek Lekoa Lodge, net buite Villiers, minder as 2 uur se ry van Pretoria.
Die plaas bied twee 4x4 roetes aan waarvan die een 8km langs die Water Vaal rivier geleë is. Die roete word deur André gery en bied aan wat wissel van gradering 3 tot 4 wanneer droog.
Die lodge bied luukse selfsorg akkommodasie aan sowel as ‘n kampterrein, daar is ook ‘n restaurant op die perseël. Die lodge is ook goed ingerig vir konferensies sowel as troues, uniek met sy eie kerkie, verseker ‘n aanbeveling!
13 Februarie
André vat die N4 pad na die laeveld en stop naby Sudwala grotte by Riverwild 4x4 Roete.
‘n Heel paar interesante hindernisse word teëgekom, meeste van die hindernisse het ‘n ompaadjie. Riverwild het ook ‘n oefenplek waar jy jou voertuig beter kan leer ken. Na baie reën is die hindernisse vol modder en word daar kort kort gegly.
‘n Waterkruising in die grond pad word ook aangedurf, om by Riwerwild uit te kom. Die lodge het selfsorg houthuisies reg langs die rivier, asook ‘n kampterrein. Daar is ook verskeie aktiwiteite waaraan deelgeneem kan word.
20 Februarie
Hamilton Parks country lodge is sowat 15km buite Hazyview geleë. Die 4x4 roete bestaan uit 3 dele en is in kleure gemerk. André ry die moeiliker rooi roete en kom af op ’n paar interessante hindernisse. ‘n Groot skuins rots naby die rivier word aangedurf en laat jou na jou asem snak.
Luukse akkommodasie word in die country lodge aangebied met smaaklike etes. Die lodge is naby aan Krugerpark wat dit ideaal maak vir ‘n dag uitstappie na die park.
Ander aktiwiteite is voëlkyk, perdry en stap, anders kan jy lekker ontspan langs die swembad.
27 Februarie
André het besluit om so ‘n bietjie op safari te gaan en gaan ry dan die Luvuvhu 4x4 roete oor 5 dae en 4 nagte, al langs die Kruger Park. Die roete begin by Phalaborwa en eindig by Pafuri in die noorde.
Op die roete slaap jy onder die sterre tussen die groot 5 en moet jy 100% self-versorgend wees.
‘n Rivier met krokodille en seekoeie word gekruis en André moet eers deur die’ water loop. Baie wenke oor safari en kamp word met die kyker gedeel. André het ook ‘n noue ontkoming met ‘n olifant wat baie naby aan die 2 spoor paadjie gestaan eb vreet het.
5 Maart
André vat kykers na die Klein Karoo net buite Touwsrivier, sowat 2½uur se ry vanaf Kaapstad. Die roete is eiehandig deur die eienaar ontwikkel sowel as al die fasiliteite. Jy kan duidelik sien dat die eienaar ‘n goot belangstelling toon om alles vir die kliënte reg en netjies te kry. Die kampterrein, huisies sowel as die 4x4 roete word hoog aangeskryf. André vat jou deur die 4x4 speelarea met ‘n paar interressante hindernisse.
Die pragtige 4x4 bergroete bied 360˚ uitsigte en verseker ‘n moet om te ry. Bring ook jou bergfiets saam, stapskoene, visstok en verkyker.
Roetegradering is ‘n 3 tot 4 en ‘n laebestek voertuig word benodig met goeie grondvryhoogte. Een van André se Top roetes.
12 Maart
André kuier verder in die Kaap en besoek Riviersonderend 4x4 roete sowat 2ure se ry vanaf Kaapstad, net buite Riviersonderend af van die N2.
Die pragtige natuur en bergroete laat jou baie staan en verwonder daaraan. Die reën vang André omkant maar nogtans word die roete aangepak.
Die stormwind het egter ‘n paar bome oor die pad gewaai, en André moes die eers verwyder.
Die roete bied pragtige bergpaaie met gladde en uitdagende hindernisse. Groot erosieslote moet ook getrotseer word.
Banddruk speel ‘n belangrike rol om goeie traksie te kry op die bergroetes. Roetegradering is ‘n 3 tot 4, maar ‘n 5 wanneer dit baie nat is.
19 Maart
Andre ry die Groot Toren 4x4 roete naby McGregor tussen Bonivale en Robertson. Hierdie roete is aan die Noordekant van Riviersonderend berge geleë. André sleep die sleepwa oor moeilike terrein, die berg op tot by die kamp. Hierdie roete word slegs aanbeveel vir ervare bestuurders wat hulle boswa tot op die berg wil vat, en dan beloon word met ‘n mooi kampuitsig.
Die roete is tipies ‘n bergroete met baie klippe en rotse asook erosieslote en kan slegs met ‘n goeie grondvryhoogte voertuig wat beskik oor lae bestek aangepak word.
Rondom die roete is daar baie wynplase wat besoek kan word. Romantiese akkommodasie word in die berg aangebied, anders kan jy jou vrou bederf in die 4ster Lords akkommodasie en ook van hulle wyne geniet. Verseker ‘n aanbeveling vir die fynproever.
26 Maart
Hierdie week vat André jou deur al sy hoogtepunte die afgelope jaar en kry jy weer ‘n blik oor sy ervarings en aanbevelings.
Sy belangrikste wenke word uitgelig asook die beste van elke roete. ‘n Lekker kompakte program waardeur jy kan besluit watter roete jy graag wil aandurf of waarheen jy volgende wil gaan vir ‘n wegbreek met jou familie.
Wie weet, dalk loop jy nog vir André by een van die roetes raak. Die gelukkige wenner van die sleepwakompetisie word ook aangekondig.





