Kwêla het oor die jare ‘n huishoudelike naam geword. Dié bekroonde joernaalprogram se eerste uitsending was op 17 November 1999, en met die uitsondering van herhalings wat in die eerste paar jaar se vakansie-seisoene uitgesaai is, het die span sedertdien elke Woensdagaand gesorg vir ‘n uur vol wetenswaardighede, inspirasie en humor.

Kwêla vertel mense se stories... of hulle nou bekend is of nie, solank hulle storie ander mense op ‘n positiewe wyse sal aanraak. Kwêla aanbiedersikone, rolmodelle en sterre uit die vermaaklikheids-, kultuur- en sportwêreld ken hulle sit op die Kwêla-bank, en Pieter, Rozanne, Lise en Mandi kuier ook ewe gemaklik by hulle in hulle eie huise.

Baie mense verwys na Kwêla as “Coenie se program”... en ook geen wonder nie, want hy staan al tien jaar lank sy plek vol as gasheer daarvan. Oor die jare het veldaanbieders gekom en gegaan, en mense soos Shemane Harris, Maurice Carpede, Therese Benade, Lindie Stander en Eloise Cupido het saam met die produksiespan die land platgery agter stories aan.

Van Musina tot Kaap Agulhas, en van Alexanderbaai tot Port St John’s en Kosibaai.. Kwêla was al daar, en gaan weer soontoe om die merkwaardige mense van ons land se stories aan kykNETters te vertel.

Woensdae @ 19:30; Donderdae @ 14:30; Vrydae @ 10:00; Saterdae @ 18:00; Sondae @ 13:00; Maandae 08:30

Vir enige navrae, stuur gerus 'n e-pos aan kwela@pcp.co.za of kontak (011) 789 6780.

Nuus

Kwêla se gewilde videokompetisie is terug!

Dis weer tyd vir Kwêla se jaarlikse Amateur Video-kompetisie! Kry solank al jul video’s bymekaar en skryf in voor 23 Julie.

Lees Meer

Kwêla Feite en Geite DVD beskikbaar!

Goeie nuus - die nuutste Kwêla Feite en Geite DVD is vanaf 21 Mei 2012 beskikbaar! Maak seker jy kry 'n kopie - kyk hier hoe.

Lees Meer

Ontmoet die nuwe lede van die Kwêla-span!

Claude Pretorius en Suzaan Steyn is die nuutste toevoegings tot die Kwêla-span. Vind uit wat hulle voor Kwêla gedoen het en wat van hul gunsteling goed is.

Lees Meer

Mandi skree vir WP

Het jy geweet dat Mandi mal is oor sjokolade? Sy verklap ook haar gunsteling boek, drankie en eetplek, sowel as hoe haar ideale man lyk...

Lees Meer

Soesji is haar groot bederf!

As jy vir Kwêla-veldaanbieder Rozanne McKenzie in haar element wil sien, gee vir haar soesji. Sy verklap nog van haar gunsteling goed in die lewe.

Lees Meer

Pieter geniet tyd op sy ysterperd

As Pieter tyd kry om te ontspan, ry hy graag op sy motorfiets en spandeer tyd saam met sy gesin. Hy vertel wat al sy gunsteling dinge in die lewe is.

Lees Meer

Gee vir Coenie 'n soet dingetjie...

Coenie de Villiers verkies om by die huis te eet as hy die keuse het. Gee vir hom braaivleis en hy is gelukkig. En iets soets om aan te peusel...

Lees Meer

Coenie se nuutste musiekvideo

Kyk na die musiekvideo van Coenie de Villiers se nuutste liedjie, 'Amber'.

Lees Meer

Kwêla Feite en Geite Finaal

Hier’s die finale rondte video’s van die Kwêla video-kompetisie! Die stemme het reeds gesluit.

Lees Meer

Kwêla Feite en Geite Week 4

Die video's in week 4 van Kwêla se video-kompetisie is ongelooflik! Die stemtydperk is verby.

Lees Meer

Meer Nuus

Suzaan Steyn

Suzaan Steyn is 'n boorling van Ceres in die Weskaap, het drama op Stellenbosch gestudeer en na 'n paar maande se rugsaktoer deur Europa toevallig in die joernalistiek beland omdat sy nie eintlik geweet het wat anders om te doen nie. Na byna tien jaar as koerant- en tydskrifjoernalis by Die Burger en Sarie, het sy toevallig by uitsaai betrokke geraak toe sy by 'n Kaapse radiostasie werk as nuusleser gekry het.

Verskeie ander toevallighede het gevolg. TV-nuus by die SABC in Johannesburg , mede-aanbieder van Monitor, RSG se vroegoggend nuusprogram, radioprogramme by RSG waarvan twee met 'n ATKV-Veertjie bekroon is en 'n Veertjie as beste aanbieder op radio en TV.

Twee jaar gelede het Suzaan en haar Nederlandse geliefde in Nederland gaan bly omdat dit haar beurt was om die buitelander in die verhouding te wees. Hier het sy soveel gereis as wat haar finansies dit toegelaat het. Sy was ook media-opleier by 'n mediamaatskappy in Amsterdam, buitelandse korrespondent vir SABC se Arikaanse radionuus en het in 'n gesondheids- en kaaswinkel gewerk waar sy ook vloere moes was....alles om soveel as moontlik van die lewe te ervaar.

Suzaan se gunstelinge:

Drankie: Kruietee

TV-reeks: Louis Theroux se Weird Weekends

Boek: Byna al  Eben Venter se boeke

Rugbyspan: WP/Stormers

Plek in SA: Die Karoo

Plek in die wereld: Enige bestemming aan die Middellandse See. As dit maar warm is

Kos: Snoek, soesji, sjokolade

Eetplek: Wakami in Kaapstad

Film: Mama Mia - vir die musiek!

Kwêla-oomblik: Onderhoud met Sheri Brynard.  Haar wilskrag is bewonderenswaardig.

Verjaardag: 1 November

Sterreteken: Skerpioen

SA Kunstenaars: Freshlyground

Internasionale kunstenaars: Jessye Norman, Amy Whinehouse, Tom Waits

Tydverdryf: Reis saam met my geliefde of lekker by die huis bly en DVD's kyk.

Claude Pretorius

Claude Pretorius is gebore en getoë in die Kaap.  Hy het in die Boland op ‘n plaas grootgeword en dis in die Paarl waar Claude sy voorliefde vir die verhoog ontdek en ontgin het tydens sy hoërskooldae.  As student was Claude deel van toneelgeselskappe wat die land vol getoer het met prof Pieter W. Grobbelaar se volksrevues.  Dit was onder andere deel van die KKNK se hooffees te sien.

Claude het vir ‘n paar jaar as seremoniemeester saam met die Egoli-span se padkonserte getoer.  Hy het ook by verskeie feeste die rol van seremoniemeester vervul, onder andere by die KKNK, Aardklop, die Bravo en M.O.L. feeste.  Hy was gereeld aan die stuur van sake by Die Burger en Beeld se verhoë by hierdie feeste.

Die afgelope paar jaar was Claude egter agter ‘n ander mikrofoon te vinde – dié van gemeenskapsradiostasies in die Suid-Kaap - Eden FM en Suidkaap FM.  Hy is tans steeds betrokke by Algoa FM.  Claude was ook die vermaaklikheidskoördineerder van die Garden Route Casino.  Claude sing graag, maar sy voorliefde lê beslis by aanbieding.

Claude se gunsteling:

Drankie: KWV 5 jaar

TV reeks: Brothers and Sisters

Rugby span: Stormers!

Plek in SA: Weskus

Plek in die Wêreld: Suid-Amerika

Kos: Enige vorm van aartappels

Eetplek: Moyo in Stellenbosch

Film: Closer

Verjaarsdag: 4 Augustus

Sterreteken: Leeu

SA kunstenaar: Casper de Vries

Internasionale Kunstenaar: Josh Groban

Gunsteling tydverdryf: Kuiers met vriende en familie

Mandi du Plooy

Mandi du Plooy het 7 jaar lank by Suid-Afrikaners bekend geraak as Lara van Egoli, maar sy was al by TV en Radio betrokke nog voordat sy begin skoolgaan het… toe sy op ‘n stoel moes staan om by die oorklankingsmikrofoon by te kom. Sy was maar ‘n sproetgesiggie van vyf jaar oud toe sy in die reeks, Saartjie die rol van klein Muggie vertolk het. Sederdien was sy kort-kort in een of ander TV-produksie te sien.

Sy het op Randburg Hoërskool gematrikuleer, maar is met spoed Stellenbosch toe waar sy BA, Waarde en Beleidstudies studeer het en sederdien ‘n geswore WP-ondersteuner is.

Mandi se grootste voordeel is haar onblusbare energie en haar grootste nadeel is … haar onblusbare energie. Sy erken self sy ly aan FOMO (Fear of missing out) en sal eerder met twee ure slaap oor die weg kom voordat sy ‘n geleentheid om saam met vriende en familie te kuier sal misloop.

Sy het ‘n baie sagte hart vir almal en alles wat seerkry en swaarkry en Mandi kan geen klein diertjie weerstaan nie.

Pieter Koen

Pieter Koen is in Standerton gebore. Musiek was nog altyd in sy bloed, en as kind was hy twee jaar aan die Drakensberg se Seunskoor verbonde. In 1996 het hy as aanbieder by Radio Rippel begin werk.

Gedurende díe tyd is sy kenmerkende "Skud jou biscuit" gebore! Hy het al verhoë met van ons land se bekendste kunstenaars soos Sonja Heroldt, Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Sunette Bridges en Dozi gedeel. In 2003 het hy as veldaanbieder by die Kwêla-span aangesluit.

Dit alles doen hy so tussen sy optredes, konserttoere en die vrystelling van CD's deur! Sy harde werk het vrugte afgewerp, want hy het 'n ATKVeertjie-toekenning ontvang vir beste aanbieder in 'n TV-joernaal-program vir die jaar 2007 en in 2009 is hy bekroon met 'n Rapport Vonk-toekening vir beste komedie album met sy liedjie “3 Susters".

Coenie de Villiers

Coenie de Villiers is in Bloemfontein gebore en getoë, waar hy skoolgaan en nagraads studeer. Hy was onder meer dosent aan die UV, en het hom later op die media toegespits as omroeper en program- en bemarkingsbestuurder vir etlike radiostasies. Hy het later verder in bemarking studeer, en was onder meer Bestuurder: Openbare Aangeleenthede vir een van die land se grootste goudmaatskappye. As bemarker was hy BD van Eliance Media in die Bidvest Groep, ‘n direkteur van O2 Reklame, en is tans ‘n direkteur van BrandWealth Strategiese Reklame.

Hy was tussendeur ook Kultuurhoof van die ATKV. Hy dien tans op die direksie van die Suider-Afrikaanse Kopiereg Organisasie (SAMRO) en dien ook as Trustee van POSA, wat uitsaairegte in Suid-Afrika bestuur. As televisiepersoonlikheid is hy reeds vir die afgelope 11 jaar anker-aanbieder van kykNET se vlagskip-joernaalprogram, Kwêla. Hy het etlike toekennings ontvang as beste televisie-aanbieder.

As musikant het hy 17 albums vrygestel. Sy opera, Maximilian, is in 2009 in Klagenfurt, Oostenryk opgevoer. Hy het reeds dwarsoor die wêreld opgetree, en sy albums het onder meer drie SAMA-toekennings, twee VONK-toekennings, asook verskeie ander toekennings ontvang. Hy is die ontvanger van ‘n ARTES toekenning vir uitsaaivaardigheid, en ontvang in 2009 die eeufees-erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy kultuurbydrae in Suid-Afrika. Hy is die beskermheer van die MES welsynsorganisasie wat omsien na haweloses en straatkinders in verskeie stede.



In 2002, 2004 en 2005 het hy die ATKV-toekenning vir die Beste Onderhoudvoerder van Afrikaanse televisie ontvang. Coenie het buiten dié prys ook in 2005 'n ATKVeertjie ontvang vir Beste Televisie-aanbieder.

Coenie is tans Algemene Bestuurder van Eliance Communication van die McCarthy Groep.

Lise Swart

Lise Swart is gebore in Somerset-Wes in die Wes-Kaap op ‘n stormagtige wintersaand die 12de Augustus 1978. Sy het aan die Universiteit van Stellenbosch B.A. Drama gestudeer, maar het besluit om ‘n loopbaan as 'backing vocals' te doen nadat sy haar suster vervang het in Laurinda Hofmeyr se groep in 2000. So het sy vir ander groot name soos Amanda Strydom, Gert Vlok Nel, Valiant Swart en Anton Goosen begin sing.

Anton Goosen en sy het permanent begin saam werk (2003), nadat sy vir twee jaar in Londen gaan werk het (om haar studente lening af te betaal). Sy kry toe die geleentheid om die Kookprogram, Roer, op kykNET aan te bied. Na twee seisoene het sy die musiekprogram, Pitstop, op SABC2, aangebied saam met Alvin Bruinders. In dié tyd het sy begin om agter die skerms te werk op Revlon Supermodel. Tydens die 3de reeks van Revlon Supermodel het sy saam met Michelle McLean aangebied.

Sy glo die beste ding vir haar loopbaan was om deel van die Kwêla-span te word.

Rozanne McKenzie

Rozanne McKenzie is ‘n gebore Kapenaar met ‘n passie vir dieuitvoerende kunste. Sy het in 2003 haar honneurs in drama aan die Universiteit van Kaapstad behaal, en het sedertdien nog nie terug gekyk nie. Benewens verskeie televisierolle (Madam & Eve, Interrogation Room en Going Up Again) was sy ook in ‘n handvol internasionale en plaaslike advertensies te sien.

Sy het ook haar staal as opgeleide danser in vele verhoogproduksies (Grease, King Lear, Miss Rock) gewys en was die hoofrolspeler in die gewilde groep, Freshly Ground, se musiekvideo, I Like. Haar studente-werk as aanbieder en nuusleser op UCT radio het haar goed voorberei vir haar rol as veld-aanbieder vir Kwêla.


Kwêla: 16 Mei 2012

Mandi gaan kuier by Rudi Claase en Suzaan ontmoet die skepper van Yunomi-bordpeletjie, René van Huyssteen.

Rudi Claase se eerste solo-album in sewe jaar




Dié sanger en liedjieskrywer wat eens deel was van die Ons Lieflinge-sangpaar het pas sy solo-album, Kom ek skryf vir jou ‘n liedjie, uitgereik. Hy sê hy is nou reg om die musiekwêreld weer op sy eie aan te pak. Mandi het by hom in Pretoria gaan kuier en ‘n voorsmakie gekry van wat dié album so spesiaal maak.

Jong entrepreneur ontwikkel prettige bordspel




Terwyl tegnologiese wonders deesdae die meeste huishoudings vermaak, het ‘n jong kopieskrywer van die Paarl onderneem om die borspeletjie te laat herleef. Dit het René van Huyssteen drie jaar geneem om die speletjie, Yunomi (you-know-me), te ontwikkel en dit is reeds op die winkelrak. Oud en jonk kan saamspeel en met die kombinasie van 300 prettige vrae mekaar sommer beter leer ken. Suzaan het gaan saamspeel.

Legendariese fotograaf deel sy indrukwekkende versameling




Obie Oberholzer het al verskeie uitstallings, plaaslik en internasionaal gehou en sy koffietafelboeke is gesogte items. In sy jongste boek, Diesel and Dust, skets hy sy eie verhaal: hoe hy as jong seun ‘n foto van die toring van Pisa met sy ma se kamera geneem het, én sy passie daar vlam gevat het. Claude het hom opgespoor in Nature’s Valley waar hy omring word deur die pragtige Tsitsikamma-woud.

Groen vingers lei tot suksesvolle onderneming




Jacky Goliath is aangewys as S.A. se voorste kommersiële vroue-entrepreneur. Sy is mede-eienaar van die De Fynne-kwekery in Simondium in die Wes-Kaap wat tot stand gekom het nadat sy en ‘n vriend, Elton Jefthas, in 2001 ‘n duisend fynbosplante in sy agterplaas begin kweek het. Vandag het hulle 3 persele met meer as 600 000 plantjies. Suzaan het dié ywerige vrou gaan ontmoet.

Kwêla se 11de jaar van snaakse en spannende video’s




Dis weer tyd vir Kwêla se jaarlikse Amateur Video-kompetisie! Sedert 2001 het dié kompetisie fantastiese groei beleef, en het verlede jaar sy eie tydgleuf op kykNET gekry. Vanjaar maak ons weer so! Stuur nou al jou snaakse, vreemde, skattige en asemrowende video’s in voor Maandag 23 Julie. Daar is weer GROOT pryse op die spel!

Kyk na die streeksfinaliste uit Namibië




Die stemlyn vir die Weskaap en Vrystaat is nog tot Dinsdag oop, en  Sondag maak Rapport word die streeksfinaliste uit Namibië bekend. Woensdag wys ons die finaliste uit dié land. Meer inligting is op ons webwerf te kry by www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html
Lees Meer

Kwêla: 9 Mei 2012

Koos Kombuis kuier in die ateljee en Kwêla se gewilde Amateur Videokompetisie, nou in sy elfde jaar, skop af!

Koos Kombuis kuier in die ateljee


Dié musikant en skrywer se jongste album, dertien, is reeds op die rak. Dit is sy dertiende album en is binne dertien dae saamgestel. Waar Koos in die verlede soms swetsend sy stem laat hoor het, is hierdie ‘n “geestelike” album. Hy sê dis sy eerste en laaste en noem dit gospelmusiek vir gewone mense. Hy gesels met Coenie oor die nuwe album.


Vrouebokser reik na Olimpiese Spele





Andi du Plessis is Suid-Afrika se vroue-vlieggewigkampioen en sy vertrek volgende week na China om daar vir die Olimpiese Spele te probeer kwalifiseer. Boks is nie ‘n sportsoort wat jy met dié fyngeboude vrou sal assosieer nie, maar Andi kan haar man staan. Vir haar is boks soos enige ander sport met reëls en tegnieke. Sy is mededingend en verras gereeld haar teenstanders met tegniese uitklophoue. Pieter het Andi in die boskryt aangetref.


Kwêla se gewilde videokompetisie skop af





Dis weer tyd vir Kwêla se jaarlikse Amateur Video-kompetisie! Sedert 2001 het dié kompetisie fantastiese groei beleef, en het verlede jaar sy eie tydgleuf op kykNET gekry. Kry solank al die snaakse, vreemde, skattige en asemrowende video’s bymekaar, en skryf in voor 23 Julie. Daar is weer GROOT pryse op die spel!


Trekklaviermeester deel sy passie vir musiek





Theo Erasmus het op twaalfjarige ouderdom met die trekklavier kennis gemaak en homself leer speel. Twee jaar later was hy ‘n ateljeemusikant en sedertdien het hy gekomponeer, verwerk, vervaardig en opgetree. Theo het vanjaar sy 57ste album, Akkordeon Romanse, uitgereik. Rozanne het hom gaan ontmoet en saam Wêreld-trekklavierdag gevier.


Die Vrystaat en Wes-Kaap se streeksfinaliste word aangewys





Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie sorg reeds vir groot opwinding. Sondag in Rapport word die streeksfinaliste uit die Vrystaat en die Wes-Kaap bekend gemaak en dan kan jy vir jou gunstelingdorp begin stem. SMS die naam van jou gunstelingdorp na 33157 (teen R1.50 per sms).


Woensdag wys ons die finaliste uit dié provinsies. Meer inligting is op ons webwerf te kry: www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html


Lees Meer

Kwêla: 2 Mei 2012

Dozi wys ons sy nuwe musiekteater en die liefde in sy lewe en Rozanne loer in by die jong sopraan, Magdalene Minnaar.

Dozi wys ons sy nuwe musiekteater en die liefde in sy lewe



Dié musikant het lank gedroom, hard gewerk en uiteindelik kan hy met 'n musiekteater op sy plaas buite Hartbeespoort spog. Met die opening van die teater het hy ook 'n nuwe album van klassieke treffers vrygestel. Dozi het weer liefde gevind en aan sy sy is die bekoorlike Lilly Wolmarans wat haar plek as teater-koördineerder volstaan. Rozanne het ‘n dag saam met die twee duifies deurgebring en Dozi lewer ‘n vertoning soos net hy kan.

Olimpiese swemmer, Herman Heerden kuier in die ateljee


In 2008 het Heerden Herman sy plek in die Olimpiese Spele met 'n skrale, drie sekondes misgeloop. Vanjaar vier hierdie Maties-student egter fees, want sy kaartjie vir Londen 2012 is bespreek. Herman het in Durban in die 400-vryslag en 1500-vryslag gekwalifiseer en met SA titels in albei items weggestap. Vir Herman, wat aktuariële wetenskap swot, gaan 2012 in die eerste plek oor swem: “Ek werk baie, baie hard en het my studies heeltemal op die agtergrond geskuif. Vanjaar gaan nie oor swot nie – vanjaar gaan oor my swem en my Olimpiese droom.”

Ons gaan kuier by die MasterChefSA deelnemer, Berdina



Berdina Schurink het alles laat staan om aan MasterChefSA deel te neem en alhoewel sy nie met die kroon weggestap het, het sy haar drome bewaarheid. Sy besit nou haar eie restaurant, Café Bella Sophia in Pretoria. Dit was tot vele MasterChefSA aanhanger se verbasing dat hierdie bobaas, raakvat vrou die derde deelnemer was om uit te val, boonop met een van haar gunsteling geregte. Rozanne het met Berdina oor al die opwinding gaan gesels.

Jong sopraan, Magdalene Minnaar gesels oor die beroep wat haar gekies het



Magdalene Minnaar deel tans die rol van Christine in sir Andrew Lloyd Webber se The Phantom of the Opera. Van haar spel word gesê dat sy dié ikoniese rol met sensitiwiteit vertolk en haar stem reg aan die uitdagende liedjies laat geskied. Rozanne het die jong kunstenaar van nader leer ken en agter die skerms gaan inloer.
Lees Meer

Kwêla: 25 April 2012

Ons kuier by die bekroonde akteur André Odendaal en Rian van Heerden kuier in die ateljee.

Bekende en berugte radioman kuier in die ateljee

Sedert Rian van Heerden die radiostasie, Jacaranda 92.4 FM se oggendprogram oorgeneem het, is hy pal in die moeilikheid. Maar dié man wat nie op sy mond geval is nie, weet wanneer hy dinge te ver gevat het en is nie skaam om sy skuld te bely nie. Hy is ook aanbieder van Rian op kykNET en die nuwe seisoen het onlangs begin. Hy gesels met Coenie oor sy MTN Radio-toekenning en hoekom hy so gereeld in die sop beland.

Veelsydige akteur ewe gemaklik in regisseurstoel




André Odendaal se loopbaan het in die tagtigerjare afgeskop en vir bykans 20 jaar het hy verskeie rolle vir die verhoog, televisie en die silwerdoek, met oorgawe vertolk. Daarna het hy hoofsaaklik as regisseur gewerk, maar is nog gereeld in reekse soos Hartland en Getroud met Rugby, te sien. André was ook regisseur van die hoogs aangeskrewe, Somewhere on the Border, wat onlangs by die Markteater gewys het. Hy werk tans aan die verfilming van die voorgeskewe boek, Lien se Lankstaanskoene. Mandi het die man met die vele gesigte gaan ontmoet.

Oudmodel kyk terug op ‘n glansryke lewe




Vandag op 61-jarige ouderdom het Nelle Dreyer ‘n lewe gehad waarvan die meeste van haar tydgenote net kan droom. Sy het begin as Maties se sjampanjenooi en gou op die voorblaaie van tydskrifte soos Sarie en Fair Lady gepronk. Nelle het haar loopbaan oorsee voortgesit en haar portefeulje sluit in werk vir Vogue en Harper’s Bazaar. Haar boek, Voorbladnooi van Pleinstraat tot Parys, het laat verlede jaar verskyn. Nelle wat vir die laaste 30 jaar in Parys woon, was onlangs in Suid-Afrika en Mandi het ook haar fotosessie vir die Franse Grazia bygewoon.

Van ‘n nederige begin tot die land se grootste verhoë




James Bhemgee van Mitchells Plain het pas sy debuutalbum, Vincero – My Victory, uitgereik. En vir James is dit ‘n soete oorwinning ná alles wat hy in sy lewe te bowe moes kom. Eens op ‘n tyd was hy ‘n straatveër, toe ‘n ywerige musiekstudent en later ‘n sukkelende musikant. Totdat hy vir SA’s Got Talent ingeskryf en met die eerste prys weggestap het. Sedertdien het James met klassieke musiek se groot name, André Rieu en Katherine Jenkins, opgetree. Hy vertel vir Coenie watter verwagtinge hy koester vir sy eerste album.

Kom skoffel saam met die Baardskeerdersbosorkes




Op Baardskeerdersbos in die Suid-Kaap woon daar ‘n kanniedood genaamd Manie Groenewald wat die grootse deel van sy lewe aan boeremusiek wy. As orkesleier en voorsanger van die Baardskeerdersbosorkes, weet hy instinktief hoe om ‘n gehoor op hulle voete te kry en daar te hou totdat die laaste noot wegsterf. Hy is al diep in die sewentig, maar musiek hou hom jonk. Claude het oom Manie en die res van die orkes se trotse geskiedenis gaan naspoor.

Kyk wie is Limpopo en Mpumalanga se streeksfinaliste




Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie gaan weer vir groot opwinding sorg. Sondag in Rapport word die streeksfinaliste uit Limpopo en Mpumalanga bekend gemaak en dan kan jy vir jou gunstelingdorp begin stem. SMS die naam van jou gunstelingdorp na 33157 (teen R1.50 per sms). Woensdag wys ons die finaliste uit dié provinsies. Meer inligting is op ons webwerf: http://www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html
Lees Meer

Kwêla: 18 April 2012

Ons gee ‘n eksklusiewe kykie agter die skerms van die musiekblyspel, Lied van My Hart. en Jack Parow gesels met Coenie.

Musiekblyspel gegrond op Afrikaans se grootste treffers


Wanneer Deon Opperman en Sean Else saam vir die verhoog skep, kan jy maar weet, hier kom ‘n ding! Vir Lied van my Hart het hulle bestaande Afrikaanse treffers gevat en ‘n nuwe storie daaruit opgetower. Die rolverdeling spog met onder andere Steve Hofmeyr, Nádine, Altus Theart en Vaughan Gardiner. Die bekroonde komponis, Janine Neethling, het die verwerkings behartig. Mandi was by ‘n eksklusiewe voorskou en het ook die akteurs ontmoet.


Zef-rapper Jack Parow kuier in die ateljee





‘n Kunstenaar se tweede album is altyd ‘n tameletjie, wanneer hy moet bewys dat die sukses van die eerste nie net ‘n vloekskoot was nie. Jack Parow se Eksie Ou het reeds goue status behaal en hy is by die onlangse MK-toekennings as beste hipster aangewys. Hy is ook ‘n vernuftige sakebrein en só het sy eie klerereeks en ‘n braaisous ontstaan. Hy gesels oor wat hy nóg wil bereik.


Leer ken die borrelende bobaas-kok van nuwe Boerekos-reeks





Dine van Zyl het op Robertson in die Wes-Kaap grootgeword en daar het sy reeds as jong dogter hope tyd saam met haar ma in die kombuis deurgebring. Vars bestanddele en kruie was in oorvloed en só het sy leer toor met kos. Dine het dit haar roeping gemaak om te sorg dat boerekos en die gepaardgaande stories en staaltjies nie verlore gaan nie. Sy het verskeie boeke oor die onderwerp geskryf en Die Groot Boerekosboek is ook oppad. Suzaan het saam met Dine gaan kook en kuier.


Radiovrou kom gesels oor haar passie vir dié medium





RSG se Margot Luyt het in haar loopbaan al verskeie toekennings ontvang en onlangs die grote, ‘n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir radiohoorbeelde in Afrikaans. Sy is sedert 1978 by radio en televisie betrokke en verskeie programme oor kuns, poësie en verbruikersake is deur haar opgestel en aangebied. Margot was ook in dramareekse soos Agter Elke Man en Amalia te sien. Sy gesels met Coenie oor haar passie vir radio en wat die toekenning vir haar beteken.


Oud-filmmaker ontdek ware idille op Anysbos





Johan Heyns het bekendheid verwerf vir reekse soos The GameHomeland en die rolprent, Hond se Dinges. Ná ‘n geweldadige aanval in Gauteng in 2007, het hy en sy vrou, Sue, uitgewyk na die platteland. In die Caledon-distrik het hulle ‘n plaas gekoop en hier op Anysbos produseer hulle bokmelkkaas en olywe. Hulle neem ook deel aan die jaarlikse S.A. Kaasfees. Mandi het gaan inloer.


Ebrahim Rhoda gesels oor sy soeke na herkoms





Dié oud-skoolhoof het ná 35 jaar in die onderwys afgetree en begin om die geskiedenis van Moslems in die Strand-gebied na te spoor. Sy boek, From slavery to citizenship: a walk through the history of a Strand community, het verlede jaar verskyn. Die boek is gebore uit sy meesters-verhandeling oor die onderwerp. Ebrahim het ook die Wes-Kaapse Kuns en Kultuur-toekenning ontvang vir sy werk. Suzaan het hom gaan ontmoet en ook rondgesnuffel in sy ryk fotoversameling.


Lees Meer

Kwêla: 11 April 2012

Suzaan besoek die stel van Musiek Trivia en Dorette Potgieter gesels oor haar rol in Vloeksteen.

Veelsydige aktrise oor haar jongste TV-rol

Dorette Potgieter is ‘n bekende gesig op televisie, van sepies tot dramareekse. Woensdagaand kom gesels sy met Coenie oor haar jongste rol - dié van geheime agent Sandra Cilliers, ‘n diamantduiker in die drama Vloeksteen wat hierdie maand op kykNET begin. Sandra span onder meer haar skoonheid in om smokkel-netwerke te infiltreer. Regardt van den Bergh het die regie behartig en die rolverdeling sluit onder andere ook vir Neels van Jaarsveld, Erica Wessels en Marius Weyers in.

Super-Sarel oor wat dit verg om die boonste sport te bereik




In sy pas gepubliseerde outobiografie hou die legendariese renjaer, Sarel van der Merwe, niks terug nie. Hy sê lesers sal verstom wees oor wat hy alles uit die mou laat in dié boek, SuperVan & I wat hy saam met Steve Smith geskryf het. Sarel glo aan waag én wen. Sy loopbaan het in 1967 begin en sedertdien het hy die een na die ander kampioenskaptitel ingeryg. Hy’t wel in 2002 amptelik uigetree, maar neem steeds aan die Historic Saloons-reeks deel. Suzaan het na sy aangrypende lewensverhaal gaan luister.

Suid-Afrika se witwarmste man kom kuier op die Kwêla-bank



Bobby van Jaarsveld kan nou ook die titel van Cosmo’s Sexiest Man 2012 by sy gewildheidstoekennings voeg!

Aanhangers het die geleentheid om hom hierdie maand op die verhoog te sien tydens die  Afri-Kaans op Reis-toer. Hy en ADAM, Liesl du Toit van Shine4 en die klaviermeester, Charl du Plessis, deel in dié produksie die verhoog met Nataniël. Woensdagaand kom gesels Bobby in die ateljee oor dié projek én sy volgende album.

Komponis leef ná sy aftrede sy passie vir musiek uit




Louis Fourie is ‘n prokureur wat na sy aftrede besluit het om ‘n ander passie, dié vir musiek, uit te leef.  In 2005 is sy eerste oratorium rondom Paastyd uitgevoer, en sedertdien het die Paasfeeskoor ‘n instelling in die omgewing geword. Vanjaar het hulle die “Lukaspassie” aangepak, en die koor onder leiding van Louis, is begelei deur onder meer fluitspelers en strykers. Claude het gaan uitvind waar Louis se liefde vir musiek vandaankom, en ook ‘n uitvoering bygewoon.

‘n Toekomsvisie vir Verkykerskop




Op hierdie Vrystaatse dorp word daar groot gedroom, en die argiteksfirma Gary White & Associates het pas ‘n internasionale toekenning vir hul ontwerp van hoe Verkykerskop in die toekoms kan lyk, gewen. Claude het afgesit soontoe om meer uit te vind.

Johan Stemmet aan die stuur van nuwe musiekprogram




Ná vele seisoene van geldnote en prettige baadjies, is Johan Stemmet voortaan op kykNET te sien in ‘n splinternuwe program genaamd Musiek Trivia. Hy is weer die man wat die vrae vra en senuweeagtige deelnemers op hul gemak moet stel. Suzaan het by hom en sy vrou, Colleen, by hul huis in Johannesburg gaan kuier, en Johan het haar ook die stel van die nuwe program gewys.
Lees Meer

Kwêla: 4 April 2012

Suzaan gesels met Johan en Lida Botha oor hul nuwe komedie op kykNET en Claude kuier by Sarah Theron.

Ontmoet die egpaar agter nuwe komediereeks

Johan en Lida Botha is ‘n paartjie wat elk met ‘n prysenswaardige loopbaan kan spog. Voeg egter hul talente saam en jy kry die sleutel tot sukses. Só reken die regisseur van Oupa en Ouma sit op die Stoep, Leon Kruger, wat die stuk oorspronklik vir die verhoog geskep het. Die eerste episode van dié nuwe komediereeks word hierdie Maandag op kykNET uitgesaai. Suzaan het die veteraan-akteurs in die Swartland opgespoor en op die stel gekuier.

Sarah Theron stof manne uit vir country-kroon




Dié sangeres het by die onlangse Ghoema-toekennings al die manne uitgestof, en is huiswaarts met die prys vir country-album van die jaar vir Storm in ‘n D-cup. Sarah Theron is ‘n veelsydige talent en gaan ook by die KKNK te sien wees in ‘n produksie genaamd, Funny Kaap met Emo Adams, Dowwe Dolla en Pedro Kruger. Dié produksie met nuutgeskrewe sketse deur Hennie van Greunen, beloof om gehore te laat skater. Claude het haar beter gaan leer ken.

Top-atleet maak reg vir taaiste stryd



Sunette Viljoen (28) van Rustenburg is hard aan die voorberei vir die Olimpiese Spele wat vanaf Julie in Londen plaasvind. Sy is tans die Afrika-wêreldrekord-houer in spiesgooi. Vanjaar sal haar derde deelname aan die Olimpiese Spele wees nadat sy ons land vroeër in Griekeland en ook China verteenwoordig het. Rozanne het met haar gaan gesels.

Hannes Muller kuier in die ateljee




By vanjaar se KKNK is Hannes Muller in die bekende klug, My Vrou se Man se Vrou, te sien. Hy het die afgelope paar jaar groot bekendheid verwerf met Groet die Grotman, een van die mees suksesvolle produksies in Afrikaans. In My Vrou se man se Vrou deel Hannes die verhoog met onder andere Tobie Cronjé, Hannes Brümmer en Lelia Etsebeth. Ná die KKNK gaan die produksie na Bloemfontein, Pretoria en Kaapstad. Hannes kom gesels oor die aantrekkingskrag van komiese rolle.

Dirigent leef ná sy aftrede sy passie vir musiek uit




Louis Fourie is ‘n prokureur wat na sy afgetrede besluit het om ‘n ander passie, dié vir musiek, uit te leef.  In 2005 is sy eerste oratorium rondom Paastyd uitgevoer, en sedertdien het die Paasfeeskoor ‘n instelling in die omgewing geword.

Vanjaar pak hulle die “Lukas Passie” aan, en die koor onder leiding van Louis, word begelei deur onder meer fluitspelers en strykers. Claude het gaan uitvind waar Louis se liefde vir musiek vandaankom, en hy het ook ‘n uitvoering bygewoon.

Ons bring hulde aan ‘n veteraan van teater en televisie




Die veteraan-aktrise en stemafrigter, Milla Louw (89), is Sondag aan hartversaking oorlede. Milla, wat sowat 60 jaar lank van die bekendste mense in die plaaslike bedryf opgelei het, sal veral onthou word vir haar TV-rolle in Nommer Asseblief, Willem, Agter Elke Man, Egoli en 7de Laan. Teater was egter haar eerste liefde. Ons bring hulde aan Milla, ‘n kunstenaar wat diep spore in die bedryf getrap het.

Ons groet ‘n gewilde sanger en storieverteller


Die KKNK was die naweek in rou gedompel ná die nuus dat die bekende sanger en storie-verteller, Zak van Niekerk, in ’n motorongeluk dood is. Hy laat sy vrou, Sonja (29) en twee seuns, Zian en Jano agter. Pieter Koen, ’n goeie vriend van Zak, het gesê hy was iemand wat “groot happe” uit die lewe geneem het. Hy het met van Zak se vriende en kollegas gaan gesels oor hierdie groot verlies.
Lees Meer

Kwêla: 28 Maart 2012

Rozanne besoek Riaan Cruywagen en Breyton Paulse en Janina Oberholzer van Toks en Tjops kuier in die ateljee.

Eksklusief: eerste tv-onderhoud met Riaan Cruywagen oor sy langverwagte biografie

Ná 37 jaar bring Riaan Cruywagen steeds elke week getrou die Afrikaanse nuus aan kykers. In sy outobiografie, Wat’s Nuus, vertel hy van al die draaie wat sy loopbaan ook buite die nuus-ateljee geloop het.

Met die jare het hy volksbesit geword, maar kon tog altyd daarin slaag om sy persoonlike lewe privaat te hou. Rozanne het ‘n dag saam met hom op kantoor en by sy huis deurgebring, en ook sy en sy vrou Riana se enigste dogter en kleinkind ontmoet.

Parapleeg het Olimpiese droom in sy visier




Patrick Saayman van Mosselbaai het jare lank vir kwaadgeld rondgeloop, maar dié oud-misdadiger het sy lewe handomkeer verander, en vandag is hy ‘n entrepreneur wat gesogte leerware vervaardig.

Patrick is ook ‘n kranige atleet en het vanjaar vir die tiende keer aan die Outenikwa-rolstoelwedren deelgeneem. Hy is ook hierdie week in aksie by die S.A. Kampioenskappe vir Gestremdes in Durban, waar hy hoop om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer. Claude het na sy merkwaardige storie gaan luister.

Breyton Paulse en Janina Oberholzer  kuier in die ateljee



Toks en Tjops is ‘n program vir rugbygeesdriftiges, aangebied deur twee manne wat al self vir die Bokke uitgedraf het.

Janina Oberholzer, bekend as omroeper van Jacaranda FM, het by Breyton Paulse en Toks van der Linde aangesluit.

Midde-in die Super15-reeks is dié lekker kuierprogram nou terug op kykNET, en Breyton en Janina kom vertel vir Coenie wat van die nuwe reeks verwag kan word.

Bouwer Bosch stel eerste solo-album bekend




Dié sanger het bekendheid verwerf as lid van Straatligkinders en Dans Dans Lisa. Bouwer is ook ‘n kranige vervaardiger van musiekvideo’s wat gereeld op MK gesien kan word.

Vanjaar val die fokus op hom met sy solo-poging, Almal Maak Voute. Hiervoor het hy inspirasie geput uit gebeure in sy eie lewe. Rozanne het Bouwer se wêreld gaan betree.

Brümilda van Rensburg op die planke by KKNK



Die vrou vantevore is die KKNK se vlagskip-aanbieding en Brümilda van Rensburg maak hiermee vir die eerste keer in agt jaar, weer haar buiging in ‘n dramatiese verhoogrol. Die vertaling en regie word deur teatermeester Marthinus Basson behartig, en hy was ook die laaste regisseur wat 8 jaar gelede saam met Brümilda aan Koggelmanderman, gewerk het. Sy sal in Die vrou vantevore die verhoog deel met onder andere Stian Bam en Erica Wessels.

Sy gesels met Coenie oor hoekom juis dié rol met haar gepraat het.

Wenners van eerste gelukstrekking word bekend gemaak

Die nominasieproses van Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie, in samewerking met Leopard’s Leap, eindig op Dinsdag 27 Maart.

Só sms die naam van jou gunstelingdorp voor Dinsdag 12:00 na 33157, teen R1.50 per sms.

Woensdag op Kwêla word die eerste wenners van die gelukstrekking aangekondig. Skakel in om te sien of jy met die 18 liter Leopard’s Leap-wyn, die Leopard’s Leap-ervaring by ‘n vyfster-gastehuis óf die Pondoro Game Lodge-wegbreek wegstap. Op 18 April word die eerste streeksfinaliste aangekondig.

Meer inligting op ons webwerf: http://www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html
Lees Meer

Kwêla: 21 Maart 2012

Ons gaan kuier by regisseur Louis van Niekerk en vind uit by rolprentmaker Piet de Jager wat hy volgend aanpak.

Akteur en regisseur vereer vir sy lewenslange bydrae
Louis van Niekerk, ‘n veteraan van die verhoog, klein en groot skerm, is onlangs met ‘n Fiësta-toekenning vereer vir sy lewenslange bydrae. Sy professionele loopbaan het in 1960 afgeskop en sedertdien het hy ‘n magdom uiteenlopende rolle vertolk en is verskeie kere met toekennings bekroon. Hy het later as regisseur begin werk om sy vernuf met die jonger garde te deel. Pieter het ‘n dag saam met dié legendariese man deurgebring.

Die digter, Sheila Cussons, word op ‘n unieke manier onthou




Lou-Ann Stone is ‘n bekende saksofoonspeler wat ook met ‘n MA-graad in kreatiewe skryfwerk spog. Laasgenoemde het sy met lof aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Vanjaar is sy te sien by die KKNK in ‘n produksie wat die lewe van die bekroonde digter, Sheila Cussons (wat vanjaar 90 jaar oud sou word), toelig. Cussons 90 is ‘n multimedia-musiekproduksie wat toonsettings deur Lou-Ann en die pianis, sangeres en akteur, Frieda van den Heever, bevat. Hulle bring ‘n nuwe klank na vore en het ook nou saamgewerk met mense wat die digter baie goed geken het. Suzaan het gaan luister.

Te jonk vir ‘n rybewys, maar nie vir die renbaan




Kelvin van der Linde is ‘n 15-jarige renjaer wat besig is om groot opgang te maak. Hy het verlede jaar reeds aan die senior afdeling van die nasionale kampioenskappe begin deelneem en ook sy staal teen veterane soos Sarel van der Merwe, getoon. Op agt het hy aan sy eerste resies deelgeneem en nooit weer teruggekyk nie. Mandi het ‘n draai by die renbaan gemaak, waar Kelvin gereeld sy talent slyp.

Rolprentmaker deel sy eie storie




Piet de Jager is ‘n advokaat wat al groot sake in die hof gewen het, maar niks verskaf hom groter plesier as om ‘n goeie storie op die silwerdoek te vertel nie. Met die sukses van Roepman, het Piet besef dat die droom wat hy jare lank met hom saamdra, verwesenlik kan word. Op laerskool het hy al as assistent in die projektorkamer van Kimberley se inry gewerk en gedroom van die dag wat hy self ‘n fliek kan maak. Rozanne het met hom gaan gesels oor wat hy en die span van Bosbok Ses-produksies volgende aanpak.

Net ‘n week of wat oor om jou gunsteling-dorp te nomineer

Die tyd het aangebreek vir Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie, wat aangebied word in samewerking met Leopard’s Leap. Verlede jaar het ons die land én Namibië deurkruis op soek na die regte draer van die Dorp van die Jaar-kroon. De Rust in die Wes-Kaap het toe met die louere weggestap. Dié wendorp, Graaff-Reinet (2010 se wenner) en verlede jaar se streekwenners; Richardsbaai, Swakopmund, Dullstroom, Hartbeespoort, Victoria-Wes, Tzaneen, Parys en Cradock mag nie vanjaar genomineer word nie. Sms die naam van jou gunstelingdorp na 33157 (teen R1.50 per sms). Opskud, jy het net tot Dinsdag 27 Maart om 12h00.

Meer inligting op ons webwerf: http://www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html
Lees Meer

Kwêla: 14 Maart 2012

Ons bring hulde aan die akteur Andrew Thompson. Carike Keuzenkamp en Johan Vorster kuier in die ateljee.

Ons groet Andrew Thompson
Die afgelope naweek het die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf 'n geliefde akteur verloor. Andrew sal onthou word vir die skaterlag wat hy verskaf het in die TV-reeks, Molly en Wors en films soos Bakgat, Ek joke net en Superhelde. Hy het ook onlangs ernstiger rolle in Roepman en Verraaiers aangepak - en groot lof daarvoor ontvang.

Carike Keuzenkamp kuier in die ateljee


Dit is nie enige sangeres wat 45 jaar in ‘n wispelturige bedryf kan oorleef én steeds haar gawe met ‘n passie kan uitleef nie. Vir Carike Keuzenkamp het alles begin met haar eerste plaat Timothy en haar “stokperdjie” het later ‘n suksesvolle loopbaan geword. Dié mylpaal vier sy met ‘n spesiale DVD, Carike en Vriende. Musikante soos Rina Hugo, Dozi en Juanita du Plessis, sing saam met Carike haar grootste en gunsteling-treffers. Sy gesels oor haar sukses en dit wat nog voorlê.

Johan Vorster kuier in die ateljee



Hierdie merkwaardige liedjieskrywer is die afgelope naweek met 'n Ghoema-toekenning vereer vir sy musiek en lirieke. Johan was aan die begin van sy loopbaan bekend as een van die hartebrekers van die groep, Eden. Sy treffers, "Is jy bang", "54 5de straat" en "Lyf teen lyf" het vir Eden bo-aan die treffer-parades gehou, vir hulle 3 Platinum albums en 2 SAMA-toekennings beteken. Bok van Blerk se treffer, "De la Rey", Lianie May se "Jy soen my nie meer nie" en Karlien van Jaarsveld se "Jakkals trou met wolf se vrou" het ook uit sy pen gevloei, om maar net 'n paar op te noem.

Rock-ikoon stel nuwe Afrikaanse vollengte album bekend


Karen Zoid het meer as 10 jaar gelede die land aan die praat gesit met haar weergawe van “Afrikaners is Plesierig,” en sedertdien het sy aangehou om grense te verskuif. Sy het onlangs die Fiësta-toekenning vir beste prestasie in ‘n musiekgedrewe produksie vir Malaika/My Engel, gewen. Claude het saam met Karen terug gekyk op ‘n dekade van rock en ook na die nuwe album geluister.

rooi rose vier 70ste bestaansjaar




Dié tydskrif het ‘n interessante geskiedenis. Die eerste rooi rose het April 1942 verskyn en ten spyte van die Tweede Wêreldoorlog en probleme met papier, het die skrywer, Mark Preston, sy droom ‘n werklikheid gemaak. Die verjaarsdag-uitgawe is volgende week op die rakke. Pieter het die redakteur, Martie Pansegrouw, en haar gedugte span ontmoet. Hulle het hom ‘n kykie in die verlede gegee, en ook gewys wat dit alles verg om ‘n glansryke vrouetydskrif saam te stel.

Die Dorp van die Jaar-kompetisie skop af!




Die tyd het aangebreek vir Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie, wat aangebied word in samewerking met Leopard’s Leap. Verlede jaar het ons die land én Namibië deurkruis op soek na die regte draer van die Dorp van die Jaar-kroon. De Rust in die Wes-Kaap het toe met die louere weggestap. Dié wendorp, Graaff-Reinet (2010 se wenner) en verlede jaar se streekswenners – Richardsbaai, Swakopmund, Dullstroom, Hartbeespoort, Victoria-Wes, Tzaneen, Parys en Cradock mag nie vanjaar genomineer word nie. Nominasies open Sondag, sms die naam van jou gunstelingdorp na 33157 (teen R1.50 per sms).

Opskud, jy het net tot Dinsdag 27 Maart om 12h00, om jou stem te laat hoor.

Meer inligting op ons webwerf: http://www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html
Lees Meer

Bladsy 1 van 5 |

Kwêla: 9 Mei 2012 - Andi du Plessis (Deel 2)

Vir Andi is boks soos enige ander sport met reëls en tegnieke. Sy is mededingend en verras gereeld haar teenstanders met tegniese uitklophoue. Pieter het Andi in die boskryt aangetref.

Kwêla: 9 Mei 2012 - Andi du Plessis (Deel 1)

Andi du Plessis is Suid-Afrika se vroue-vlieggewigkampioen en sy vertrek volgende week na China om daar vir die Olimpiese Spele te probeer kwalifiseer. Boks is nie ‘n sportsoort wat jy met dié fyngeboude vrou sal assosieer nie, maar Andi kan haar man staan.

Kwêla: 2 Mei 2012 - Magdalene Minnaar (Deel 2)

Van haar spel word gesê dat sy dié ikoniese rol met sensitiwiteit vertolk en haar stem reg aan die uitdagende liedjies laat geskied. Rozanne het die jong kunstenaar van nader leer ken en agter die skerms gaan inloer.

Kwêla: 2 Mei 2012 - Magdalene Minnaar (Deel 1)

Magdalene Minnaar deel tans die rol van Christine in sir Andrew Lloyd Webber se The Phantom of the Opera. Rozanne het by haar gaan kuier en uitgevind hoe sy die rol gekry het.

Kwêla: 2 Mei 2012 - Dozi

Dié musikant het lank gedroom, hard gewerk en uiteindelik kan hy met 'n musiekteater op sy plaas buite Hartbeespoort spog. Met die opening van die teater het hy ook 'n nuwe album van klassieke treffers vrygestel. Dozi het weer liefde gevind en aan sy sy is die bekoorlike Lilly Wolmarans wat haar plek as teater-koördineerder volstaan. Rozanne het ‘n dag saam met die twee duifies deurgebring en Dozi lewer ‘n vertoning soos net hy kan.

Kwêla: 2 Mei 2012 - MasterChefSA deelnemer, Berdina (Deel 2)

Dit was tot vele MasterChefSA aanhanger se verbasing dat hierdie bobaas, raakvat vrou die derde deelne-mer was om uit te val, boonop met een van haar gunsteling geregte. Rozanne het met Berdina oor al die opwinding ga

Kwêla: 2 Mei 2012 - MasterChefSA deelnemer, Berdina (Deel 1)

Berdina Schurink het alles laat staan om aan MasterChefSA deel te neem en alhoewel sy nie met die kroon weggestap het, het sy haar drome bewaarheid. Sy besit nou haar eie restaurant, Café Bella Sophia in Pretoria.

Kwêla: 25 April 2012 - Rian van Heerden

Sedert Rian van Heerden die radiostasie, Jacaranda 92.4 FM se oggendprogram oorgeneem het, is hy pal in die moeilikheid. Maar dié man wat nie op sy mond geval is nie, weet wanneer hy dinge te ver gevat het en is nie skaam om sy skuld te bely nie. Hy is ook aanbieder van Rian op kykNET en die nuwe seisoen het onlangs begin. Hy gesels met Coenie oor sy MTN Radio-toekenning en hoekom hy so gereeld in die sop beland.

Kwêla: 25 April 2012 - André Odendaal (Deel 2)

André was ook regisseur van die hoogs aangeskrewe, Somewhere on the Border, wat onlangs by die Markteater gewys het. Hy werk tans aan die verfilming van die voorgeskewe boek, Lien se Lankstaanskoene. Mandi het die man met die vele gesigte gaan ontmoet.

Kwêla: 25 April 2012 - André Odendaal (Deel 1)

André Odendaal se loopbaan het in die tagtigerjare afgeskop en vir bykans 20 jaar het hy verskeie rolle vir die verhoog, televisie en die silwerdoek, met oorgawe vertolk. Daarna het hy hoofsaaklik as regisseur gewerk, maar is nog gereeld in reekse soos Hartland en Getroud met Rugby, te sien.

Bladsy 1 van 34 |

Coenie en die Kwêla-span

Ons het die hele span by Kwêla bymekaar gekry vir 'n prettige fotosessie. Kyk net hoe gemak lyk hulle voor die kameras!

De Rust hou makietie

De Rust is as Kwêla se Dorp van die Jaar aangekondig. Die dorp het 'n groot makietie gehou om dit te vier. Kyk na die foto's.

Die Kwêla-span

Elke week sorg die span van Kwêla vir hope kykgenot. Coenie en die veldaanbieders het model gespeel vir ons.

Bladsy 1 van 1 |

Kwêla se gewilde videokompetisie is terug!

Dis weer tyd vir Kwêla se jaarlikse Amateur Video-kompetisie! Kry solank al jul video’s bymekaar en skryf in voor 23 Julie.
Lees Meer

Kwêla Feite en Geite DVD beskikbaar!

Goeie nuus - die nuutste Kwêla Feite en Geite DVD is vanaf 21 Mei 2012 beskikbaar! Maak seker jy kry 'n kopie - kyk hier hoe.
Lees Meer

Ontmoet die nuwe lede van die Kwêla-span!

Claude Pretorius en Suzaan Steyn is die nuutste toevoegings tot die Kwêla-span. Vind uit wat hulle voor Kwêla gedoen het en wat van hul gunsteling goed is.
Lees Meer

Mandi skree vir WP

Het jy geweet dat Mandi mal is oor sjokolade? Sy verklap ook haar gunsteling boek, drankie en eetplek, sowel as hoe haar ideale man lyk...
Lees Meer

Soesji is haar groot bederf!

As jy vir Kwêla-veldaanbieder Rozanne McKenzie in haar element wil sien, gee vir haar soesji. Sy verklap nog van haar gunsteling goed in die lewe.
Lees Meer

Pieter geniet tyd op sy ysterperd

As Pieter tyd kry om te ontspan, ry hy graag op sy motorfiets en spandeer tyd saam met sy gesin. Hy vertel wat al sy gunsteling dinge in die lewe is.
Lees Meer

Gee vir Coenie 'n soet dingetjie...

Coenie de Villiers verkies om by die huis te eet as hy die keuse het. Gee vir hom braaivleis en hy is gelukkig. En iets soets om aan te peusel...
Lees Meer

Coenie se nuutste musiekvideo

Kyk na die musiekvideo van Coenie de Villiers se nuutste liedjie, 'Amber'.
Lees Meer

Kwêla Feite en Geite Finaal

Hier’s die finale rondte video’s van die Kwêla video-kompetisie! Die stemme het reeds gesluit.
Lees Meer

Kwêla Feite en Geite Week 4

Die video's in week 4 van Kwêla se video-kompetisie is ongelooflik! Die stemtydperk is verby.
Lees Meer

Bladsy 1 van 3 |

  • Facebook

  • Volg ons op Facebook Volg ons op Twitter Registreer vir RSS Feeds