Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vat haar vas!

Nuus
09 November 2017
Adriaan, Braam, Jacques, Johan en Ruan is die vyf boere wat voortgaan met die TV-proses.
BSV-Vat-haar-vas

FOTO: Een van Heleen se briewe het Boer Soek ’n Vrou-aanbieder Minki Joubert behoorlik laat skater

Die liefde wag vir niemand nie, en Minki laat wiel vandeesweek met sakke vol briewe deur ses provinsies.

Carl het ’n sagte plekkie vir ’n posduif, en die propvol Boer Soek ’n Vrou-sak laat hom wonder of sy droomvrou dalk tussen die briewe skuil.

“Moeite en so aan,” sê die boer vir Minki wanneer hy die pakkies so kyk, en dit lyk of hy skoon sy tong ingesluk het. Hy bloos boonop bloedrooi wanneer hy die eerste brief begin lees. “Liewe Carl, ek is mal oor jou glimlag en jou passie vir jou boerdery…”

In die boer se bekendstellingsvideo klim hy ’n windpomp vinnig uit – iets wat duidelik ’n paar dames se aandag getrek het.

Carl het nie genoeg briewe ontvang om deel te neem aan die verfilmingsproses nie, maar kan nou op sy eie tyd deur die briewe lees en kontak maak met die briefskrywers wat sy hartsnare roer. Minki sal oor ’n paar weke, by die reünie, weer opvang met die boere wat nie die top-vyf gehaal het nie.

Het jy verlede week se episode misgeloop? Lees dan ‘Boer Soek ’n Vrou: Wilder as die wildtuin!’

Voor Minki kans kry om Heleen se possak oop te maak, sê die boer: “Ek dink nie dit gaan lekker wees vir mans om hier met mekaar te kompeteer op die plaas nie. Daai kite gaan nie vlieg nie!”

Minki stel haar gerus: “Daar is nie genoeg briewe vir jou om aan te gaan met die proses voor die kameras nie, maar hier is ’n paar baie oulike briewe.”

Die twee trek weg en lag lekker wanneer Heleen ’n brief hardop lees: “Beste Heleen, jy soek ’n man wat jou in vrede kan vasvat.”

Die boer sê: “Ek wonder hoe doen ’n mens dít!”

Minki besluit hulle moet een van die briefskrywers, Wilhelm, bel. “Nou moet ons eers praat oor my gewig,” sê hy, en voeg by dat hy en sy groot maag nie saam met Heleen sal kan fietsry nie. Heleen sê: “Daar verloor hy al sy punte toe hy ’n boepmens het. Ek hou nie van dit nie!”

Braam is ernstig oor vrousoek en hoewel hy sou bly wees oor “daai een” brief, is hy een van die vyf boere wie se liefdesreis kykers oor die volgende paar weke op die kassie gaan volg.

Braam se neef, Eugene, en vriend, Marius, help die boer om deur die briewe te lees. “Braam, ek wil nou nie hoes, poep of skinder nie, maar hier is opsies!” sê Marius.

Nog nooit vantevore het die skoner geslag só hard probeer om die boer se hart te wen nie. “Ek ken dit nie!” sê Braam.

Jacques is ook een van die boere wat voortgaan met die proses, en Minki meen die boer het ’n paar moeilike ure wat voor hom lê.

“My hart klop definitief in my keel nou,” sê die boer. Minki pik ’n traan soos sy lees: “Ek wens vir jou ’n plaasdam vir al jou genadereën…”

Lukas, ’n vriend, vertel Jacques hanteer vroue met die grootste respek. “Hy is ’n baie groot voorbeeld vir my ook. Hy is ’n baie steady ou.”

Ruan is vol grappe – dalk omdat die senuwees bietjie knaag. Die boer is egter verlig om te hoor hy gaan die kans kry om tien van die briefskrywers in lewende lywe te ontmoet.

Suster Jolani en neef Niel is daar om hand by te sit. Niel sê Ruan gee almal rondom hom energie, maak nie saak waarheen hy gaan nie.

Hy en Minki loer later saam na die briewe en foto’s. “Sy het haarself afgeneem,” sê die boer. Maar neem hy dan nooit selfies nie? vra Minki. “Nog nooit in my lewe nie,” sê Ruan. “Ek stuur ook nie voice notes nie!

“As jy nou twee is, dan is dit mos ’n ‘onsie’ – dis beter.”

Eben gaan nie voort met die proses nie, maar Minki meen daar is hope briewe en pakkies van “kwaliteit-meisies” wat die boer se hart wil wen. Hy spot: “Hopelik is dit nie my vriendinne wat crushes op my het nie, en ek ontmoet nuwe mense.”

Minki meen dis moeilik om die boer te lees, maar hy sê hy is beslis opgewonde oor wat vir hom voorlê. “Nou het ek lekker baie tyd om deur alles te gaan, en hopelik ontmoet ek die regte een in hierdie briewe.”

Stoffel is opgewonde én nuuskierig, en darem nie teleurgesteld dat hy nie een van die vyf boere is wat op TV gevolg gaan word nie.

“Liewe Stoffel, tussen jou en my lê daar ’n berg – ’n berg briewe…” skryf een van die dames.

Dis inderdaad só, en die boer sê hy is verlig dat hy meer tyd gaan hê om deur die briewe te lees. “Ek dink dit is beter so,” sê hy vir Minki. Sy sê: “Nou moet jy my nie teleurstel nie, hoor!”

Willie se possak is nie vol genoeg nie, maar heelwat briefies lê en wag om gelees te word.

Een van die briefskrywers sê sy het die Here vir ’n “ginger”-man gevra (dis nou as die boer nie omgee dat sy hom dít noem nie). “Sjoe, OK,” sê Willie. “Dis nogal spesiaal.”

Johan is ’n “ou wat uit die hart ook dink en besluite neem”, en ons gaan sy reis ook op die kassie volg.

Een van die briewe laat hom ’n traan wegpink. “Daar is iets aan hierdie brief wat my aan my hart gryp,” sê hy.

Sy seun, Terence, sê: “My pa sal iemand kies met sy hart. Ek ken hom; dis hoe hy sy besluit sal maak.

“Hy was nou lank genoeg alleen. Dis nou tyd dat hy iemand ontmoet.”

Van al die boere het Adriaan die meeste briewe ontvang. “Jy lyk vir my so ’n bietjie half-bewerig! Is dit ’n goeie ding of ’n slegte ding?” vra Minki, waarop die boer antwoord: “Nee, dis ’n goeie ding!”

Sy broer, Divan, sê hy hoop die boer kry nie net ’n trouvrou in die proses nie, maar dat sy ook sy beste vriend sal wees. “Ek glo hy het sy lesse geleer uit vorige verhoudings. Ek dink hy is nou bietjie meer oopkop, en ek dink hy weet nou wat hy in die lewe wil hê.”

Adriaan se vriend, Piet, sê sy meisie sal altyd eerste kom – selfs bó sy vriende. “Enige meisie se droom,” sê hy.

Donderdag om 20:00 ontmoet die vyf boere elk tien dames tydens blitsafsprake – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.