12 Des 2016

Hoogtepunte op kykNET in Januarie

Elzabé Zietsman en Anel Alexander is binnekort in die nuwe sepie Tot Tyd en Wyl te sien.

’n Splinternuwe sepie en nuwe seisoene van onder meer Reis na Gister, Op die Spel en Woema – hier is wat vir kykers voorlê in Januarie.

Nasie in Gesprek

4 Januarie 2017 om 17:30

Nasie in Gesprek, met Rozanne McKenzie, neem jou op ’n reis deur Suid-Afrika se pragtige platteland. Ons ontgin die verskeie bedrywe wat eie aan hierdie omgewings is – en volg die plaaslik vervaardigde produkte, van plaashek tot tafel.

Theo Vorster sluit ook aan by Rozanne en ondersoek die belangrikste uitdagings in hierdie dorpies en bedrywe.

Neem deel aan die gesprek, en onthou om jou mag as verbruiker uit te oefen – raak betrokke by die landboubedryf, want dit raak jou.

Nasie in Gesprek

Episode 1:

In hierdie episode besoek ons twee van Suid Afrika se gewildste klein dorpies, Robertson in die Wes-Kaap, sowel as Parys in die Vrystaat. Beide hierdie dorpies is gewild onder besoekers om verskeie redes, maar ons gaan bietjie meer lig werp op die sukses en impak van familieboerderye in hierdie streke.

Ons kyk ook na uittreksels uit die Senwes Jongboerkongres, waar die onderwerp van familie-ondernemings in diepte bespreek is, gefasiliteer deur Theo Vorster.

Episode 2:

In hierdie episode kyk ons na die beeldskone Wellington-distrik, meer spesifiek na die wyn- en whiskey-bedrywe, wat ’n groot rol speel in die plaaslike ekonomie en die area se gewildheid onder toeriste. Chris Burgess van Landbouweekblad kom deel sy insigte oor die wynbedryf, en Rico Basson van Vinpro kom gesels met Theo Vorster.

Episode 3:

Vandag kuier ons in die Ceres-distrik – veral bekend vir sy florerende vrugtebedryf. Ons lê besoek af aan die Dutoit-groep, sowel as De Keur Boerdery, en ontgin die pragtige stories wat hier te vertel is. Chris Burgess van Landbouweekblad kom deel sy insigte oor die vrugtebedryf, en ekonoom dr. Roelof Botha kom gesels met Theo Vorster.

Episode 4:

In hierdie episode besoek ons die hartjie van die Kaapse Karoo, Beaufort-Wes, met sy vriendelike mense, beeldskone horisonne en sy ryke geskiedenis. Ons gaan ook stilstaan by die skaapbedryf, meer spesifiek Karoolam, eie aan hierdie area! Chris Burgess van Landbouweekblad kom deel sy insigte oor die skaapbedryf. Dr. Pieter Prinsloo (RPO) en Aggrey Mahanjana (NERPO) kom gesels met Theo Vorster.

Nasie in Gesprek

Episode 5:

In hierdie episode fokus ons op die melkbedryf, en lê besoek af aan die Oos-Kaap met sy pragtige toeriste-aantreklikhede. Ons ondersoek ook van die inisiatiewe wat onderneem word om die melkbedryf te bevorder. Chris Burgess van Landbouweekblad kom deel sy insigte, en Theo Vorster gesels met dr. Chris van Dijk van die Melkprodusente Organisasie (MPO).

Episode 6:

Ons lê besoek af aan Oudtshoorn – welbekend vir “volstruis-toerisme”. Ons kyk ook na al die verskillende produkte wat van volstruise afkomstig is, en wat die bydrae is tot die ekonomie. Chris Burgess van Landbouweekblad kom gesels met Rozanne, en Nobri Booyzen van die “Exotic Leather Cluster” kom gesels met Theo Vorster oor die bedryf in geheel, en wat gedoen word om groei te stimuleer.

Skakel in vir Nasie in Gesprek, Woensdae om 17:30. Herhalings word op Donderdae om 10:30, Saterdae om 07:30 en 17:00, Sondae om 06:30 en 16:00, en Maandae en Dinsdae om 16:30 uitgesaai.

Neem deel aan ons weeklikse kompetisie! Klik hier vir meer.

Reis na Gister

4 Januarie 2017 om 20:00

Reis na Gister

Jak de Priester, aanbieder van die reeks Reis na Gister, neem van ons land se bekendes op ’n nostalgiese reis na hul plek van oorsprong. In die opwindende vyfde seisoen gaan kuier Jak by onder andere Elvis Blue, Leandie du Randt, Stian Bam, Minki Joubert, Toks van der Linde en Francois van Coke!

Lees meer hier.

Woema

5 Januarie 2017 om 17:30

Woema

Woema is terug vir ’n sewende seisoen – en het boonop twee nuwe aanbieders! Adam Tas het geen bekendstelling nodig nie. Superfiets-kampioen Clinton Pienaar trek ook sy aanbiederskoene aan.

Lees meer hier.

Vat jou goed en trek

6 Januarie 2017 om 17:30

Eiendom is ’n groot belegging, maar hoe gemaak wanneer jou huis nie meer aan jou behoeftes voldoen nie? Jy vat jou goed en trek! Skakel in vir die tweede seisoen vanaf 6 Januarie 2016.

In die eerste episode van die nuwe seisoen poog die span om ’n nuwe rekord op te stel deur ’n twee-slaapkamereenheid binne slegs 72 minute op te knap.

Lees meer hier.

VeranderDinge

8 Januarie 2017 om 18:30

VeranderDinge

Vooruitgang gebeur nie sonder verandering nie, en dís waar VeranderDinge in die prentjie kom. Dié reeks, nou in sy derde seisoen, fokus op bekendes én gewone mense wat buitengewone dinge doen.

Ruda Landman is weer een van die aanbieders, met Eloise Cupido wat by haar aansluit. Saam kyk hulle na baie dinge. Interessante dinge. Skrikwekkende dinge. Opwindende dinge. Hartseer dinge. Snaakse dinge. En soos wat hulle dίt doen, gaan kykers saam met hulle uitvind wat mense inspireer om van koers te verander.

Lees meer oor die aanbieders hier.

Voetspore: Van Gansbaai tot Gaboen (2013)

8 Januarie 2017 om 19:30

Die Voetspore-span vertrek op ’n tog van Gansbaai na Gaboen. Daar het byna 15 000 kilometer in die volgende drie maande voorgelê. Met drie viertrekvoertuie is die Voetspore-manne eers na Agulhas, die mees suidelike punt, en van daar oor Bredasdorp en Sutherland tot by Loeriesfontein met sy windpompmuseum, die einde van die eerste skof. Hulle besoek verder onder meer die Gods Must Be Crazy-wêreld, Kaudom, die Angolese kus en die Namib.

Skakel in vir Voetspore: Van Gansbaai tot Gaboen, Sondae om 19:30. Herhalings word Dindae om 15:00 uitgesaai.

Op die Spel

9 Januarie 2017 om 20:30

Op die Spel

kykNET se speletjiesprogram Op die Spel is binnekort terug op die kassie!

Die doel van dié spel-speletjie is nie net om Suid-Afrika se spelkampioen op te spoor nie, maar om in die proses algemene kennis, idiome en kreatiwiteit toets – alles in Afrikaans.

Rian van Heerden, van JacarandaFM, is weer die aanbieder en waarborg humor, spitsvondige opmerkings en vermaak uit die boonste rakke. Gerhard van Huyssteen is weer die beoordelaar.

Lees meer hier.

Tot Tyd en Wyl

9 Januarie 2017 om 21:00

Tot Tyd en Wyl

Uit die pen van die bobaas-sepieskrywer en multi-genomineerde Louise van der Linde, en die uitvoerende vervaardiger Boet Kruger, is daar ’n splinternuwe sepie wat eksklusief op kykNET begin in Januarie 2017, wat kykers na hul asems gaan laat snak, sneesdoekies gryp, en hartpille versamel.

Tot Tyd en Wyl is die saga van die uiteenlopende en skatryk familie van die landgoed ‘Groot Pardenfleur’, waar die matriarg Marjorie (Elzabé Zietsman) die septer swaai, en haar vurige rooikop-dogter Diaan (Anel Alexander) die katelknapies versamel soos ’n stoet hings.

Diaan is getroud met die smeulende Adam (Ramey Short), wat beslis ’n dwalende oog het en ’n los broek dra. Maak jouself gereed vir ’n groot gejuig wanneer hierdie familie se geheime een vir een op die skerm bloots gery word!

Klik hier vir die voorskou.

Die aap is uit die mou:

Tot Tyd en Wyl, die sepie vol melodrama wat op ons platforms geadverteer is, gaan nie werklik op kykNET uitgesaai word nie! Kykers kan eerder uitsien na Seepglad, ’n komedie wat handel oor ’n skrywerspan van ’n TV-sepie, wat op 9 Januarie om 21:00 op kanaal 144 begin.

Sakegesprek met Theo Vorster

9 Januarie 2017 om 21:30

Dit is uiters belangrik vir elke individu om na sy/haar persoonlike finansies om te sien, die groter ekonomiese prentjie te verstaan, en ook te verstaan wat die impak van ekonomiese en finansiële verwikkelinge op elkeen se sak is. Ons bespreek hierdie sake, op die man af.

Episode 1: Historiese perspektief – van 1981 tot 2016

Sakegesprek

Theo ondersoek die grootste gebeurtenisse oor die laaste 25 jaar, en kyk hoe markte daarop gereageer het. Hy bespreek ook die tydwaarde van geld, die Rand en bateklasse, sowel as regte en verkeerde besluite.

Ons begin die program by die finansiële markte in die middel 1980’s onder P.W. Botha, die Rubicon-toespraak, die skuldstilstand en weghol-inflasie, en plaas dit in perspektief met wat nou gebeur in die markte. Ons sluit die program af met ’n paar kardinale beginsels wat steeds vandag geldig is.

Episode 2: Ontstuimige tye – van 1994 tot op hede

Sakegesprek

Theo fokus op die afgelope twintig jaar: hoe markte gereageer het, wat het gewerk en wat het nie gewerk nie, bateklasse en voorspelbaarheid, foute wat beleggers gemaak het, en wat die grootste veranderlikes was.

Theo gaan kyk verder na die beweging van die Rand, rentekoerse, die olieprys en beleggingsmarkte, teen die agtergrond van ’n verswakkende ekonomie, die swaard van ’n skuldafgradering en ’n onstuimige politieke omgewing.

Episode 3: Beleggings 101

Sakegesprek

In hierdie episode kyk Theo na finansiële beplanning, met ’n raakvat-fokus op bewese beginsels, feite vs. foute, finansiële onafhanklikheid, langertermyn groei, die grootste gevare vir beleggers, en waarteen gewaak moet word.

Episode 4: Belê in onstuimige markte

Sakegesprek

Theo kyk prakties na die toekoms: hoe posisioneer jy jouself, wanneer is genoeg genoeg, sowel as die samestelling van ’n beleggingsportefeulje. Theo lewer ook ’n opsomming van die grootste flaters en wanopvattings waarteen ons moet waak.

Kyk Sakegesprek met Theo Vorster, vanaf 9 Januarie tot 12 Januarie, om 21:30. Herhalings word die volgende dag om 14:30 uitgesaai.

Die Grensoorlog

Dié reeks word op Dinsdae tussen 20:00 en 21:30 op kykNET uitgesaai. Dit sal op Woensdae tussen 15:00 en 16:30 op die kanaal herhaal word. LET WEL: Die Grensoorlog is nie geskik vir sensitiewe kykers nie.

Legendes van Afrikaanse Musiek

19 Januarie 2017 om 20:30

Ons gaan kyk na musieklegendes se lewens en loopbane – van Bles Bridges tot Sonja Herholdt.

Kyk Legendes van Afrikaanse Musiek, Donderdae om 20:30. Herhalings word Vrydae om 13:30 en 20:00, Saterdae om 14:30, Sondae om 10:00 en 21:30 en Maandae om 10:30 uitgesaai.

Opmerkings

ID:484776