20 Okt 2016

Ons Sprokiesbruilof: Skryf só in

Is jy verloof? Op die punt om te trou en jou in ’n lewensavontuur met die liefde van jou lewe te begewe? Dan is Ons Sprokiesbruilof – ’n nuwe werklikheids-TV-program op kykNET – dalk net jou en jou aanstaande se grootste trougeskenk. Dié nuwe reeks word vanaf 9 Februarie 2017 op kykNET uitgesaai.

As julle ’n mooi storie het om te vertel of eenvoudig weet julle vriende en familie is gemaak vir die kassie  – nooi ons om saam te kom bruilof vier. Vul die vorm hier onder in (lees ook die bepalings en voorwaardes onderaan die bladsy) en dalk kom kuier ons saam by julle troue!

Die sanger en aktrise Sorina Erasmus gaan die aanbieder wees! Lees meer hier onder.

Fill out my online form.

Jy kan ook hier inskryf.

Sorina Erasmus

Ons Sprokiesbruilof

Sorina is ’n kunstenaar, sanger, liedjieskrywer en aktrise, bekend vir haar rol in 7de Laan as Witbank se Flooze, maar in die werklike lewe is sy ’n kunstenaar wat nie net toneelspeel nie, maar ook sing en haar eie musiek skryf.

Sy is welbekend in die Afrikaanse musiekwêreld en het verskeie toekennings ontvang vir haar twee albums getiteld Hoezit my tjomma en Ek watch jou.

Met haar nuwe album, HOOFLETTERS, beweeg sy weg van die Flooze-beeld en wys sy die regte Sorina.

“Hoofletters” is een van die mees gewilde liedjies van 2016 en het die nommereen-posisie op verskeie radiostasies se Top 10-trefferlyste gehaal. Hiermee wys Sorina dat sy ’n uitsonderlike talent en toekoms as kontemporêre sangeres het.

Sorina spog met ’n meestersgraad in regte agter haar naam, en sy verras mense met haar ernstigheid en opregte menswees; bewyse dat sy maar net ’n gewone vrou, Mamma en mens met ’n geseënde sangtalent is. Haar nuwe album sal elke hart raak met die diepte en dimensie.

Bepalings en voorwaardes

– Die program-inskrywings strek van Oktober 2016 tot Maart 2017.
– Suksesvolle inskrywings word deur ’n kykNET-paneel gekies, en die beslissing is finaal. Geen korrespondensie sal oor die uitslag gevoer word nie.
– Suksesvolle inskrywings sal direk gekontak word vir verdere inligting.
– kykNET behou die reg om op kort kennisgewing die program te kanselleer.
– Indien die program gekanselleer word, is kykNET nie verantwoordelik vir enige kostes of verwagtinge verbonde aan die program nie.
– Deur in te skryf aanvaar jy dat die filmspan jou troue gaan verfilm en gee jy toestemming dat die beeldmateriaal uitgesaai mag word op enige M-Net-platform, met geen beperking op die uitsaaidatum nie.
– Die program voldoen aan die vereistes van die Verbruikersbeskermingswet.
– Slegs 1 (een) bruilof per naweek kan deur ons span besoek word.
– Ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming moet alle deelnemers hul persoonlike inligting aan ons verskaf om aan die program te kan deelneem.
– Die programvervaardigers is nie verantwoordelik vir enige kostes wat deur die paartjie/deelnemers aangegaan word nie.
– Deur vir die program in te skryf, erken individue dat hulle al die bepalings en voorwaardes aanvaar en aanvaar elke individu dat M-Net nie aanspreeklik gehou sal word vir enige verlies of skade wat uit die reeks mag volg nie.
– Deelnemers jonger as 18 jaar moet toestemming by hul ouers of voog verkry vir deelname.

Lees ook MultiChoice se bepalings en voorwaardes

Opmerkings

ID:422691