Pippie KrugerHaar storie het die hele land se hart aangeraak. Op Oujaarsdag het ‘n feestelike familie-geleentheid in ‘n nagmerrie verander toe ‘n bottel vuuraanstekerjel in Isabella Kruger se pa se hande ontplof en op haar beland het. Die 2-jarige peuter het 80% brandwonde opgedoen. Ses maande later het sy die eerste persoon in die land geword op wie ‘n veloorplanting met haar eie gekloonde vel gedoen is. Rozanne het gaan kyk hoe Pippie in die rehabilitasie sentrum waar sy aansterk, vorder.
Joe en Lindi Niemand

Hulle het 43 keer getrou in die musiekblyspel Ester en min geweet dat die 44ste keer voor ‘n regte predikant sou wees. Die gospelsanger, Joe Niemand het ewige trou gesweer aan Lindi tydens ‘n sprokieshuwelikseremonie, nadat dié twee saamgewerk het aan die produksie Ester waarin Lindi die titelrol vertolk het. Die produksie was onlangs vir ‘n tweede keer op die planke en Rozanne het by dié twee gaan inloer.
Chris Karsten

Sy derde boek in die Abel-trilogie Die afreis van Abel Lotz verskyn vandeesmaand en Chris, wat deesdae in Kanada woon, is in Suid-Afrika vir die bekendstelling. Chris is ‘n gerekende skrywer en sy romans Frats en Abel se ontwaking het albei ATKV-prosapryse gewen, en Seisoen van sonde en Abel se ontwaking ATKV-pryse as beste spanningsverhale. Chris kom kuier by Coenie in die ateljee.
Marike Naude

Op 17 is sy die jongste lid van die Suid-Afrikaanse Para-limpiese swemspan wat ons land by dié Spele vanaf 29 Augustus tot 9 September gaan verteenwoordig. Marike is in klas S13 ingedeel, wat beteken dat sy swaksiende is en gaan die Groen-en-Goud in vier items verteenwoordig. Pieter het haar in Worcester gaan opsoek voor haar vertrek.






