Emo Adams hou makietie op Jou ShowHy’t vele ysters in die vuur, maar pak elke projek met ewe veel energie en entoesiasme aan. Vanjaar is Emo weer een van die gaskunstenaars by die reuse makietie op Kwêla enRapport se Dorp van die Jaar 2012. Die wenner van dié titel word op Sondag 12 Augustus in Rapport aangekondig en die makietie vind op 25 Augustus op die wendorp plaas. Emo kom kuier hierdie week by Coenie in die ateljee en wei ook uit oor die nuwe reeks van Jou Show op KykNET en sy ander bedrywighede.
Boervrou, bosdokter en skrywer

Sy is die bosdokter van Gobabis, waar sy reeds vir byna veertig jaar nóú betrokke is by die San- en Herero-gemeenskappe in die Noord-Ooste van Namibië. Hélène de Kock is ‘n algemene praktisyn, maar boer net so kliphard saam met haar man; is besig in haar handwerksentrum én is ‘n skrywer van formaat wat al twee bundels met humoristiese sketse oor haar praktyk laat verskyn het. Claude het by dié raakvatter gaan kuier.
Die reisiger Valiant Swart vat Trouens en Terloops die pad

Valiant Swart het kragte saamgespan met die drie reisigers, Johan Badenhorst, Dana Snyman en Johan Bakkes op hulle tweede oudioboek, Drie reisigers en Valiant Swart vat weer die pad. Hy kom gesels ook met Coenie oor sy boek, Trouens en terloops, wat saamgestel is uit die rubrieke wat hy die afgelope jare vir Rooi Rose geskryf het, en sy betrokkenheid by vanjaar se Huisgenoot Skouspel.
Speurder Andries Douglas bemagtig gemeenskap deur karate

Sensei Andries Douglas van Ceres is 'n speurder asook 'n vierde dan karate instrukteur. Hy bied die afgelope vier jaar op meer as 30 plase in die Koue Bokkeveld, Ceres, Tulbagh en Tankwa Karoo ’n gemeenskapsprogram, Karate teen Misdaad, aan. Hy ry na ure hy na verskeie plase om kinders, asook volwasse plaaswerkers, te gaan touwys maak. Suzaan het hom gaan opsoek.
Die kreatiewe Visser-egpaar skep uit nood

Nood leer bid, maar soms bring nood geluk.... soos in die geval van Esmelinda en Tiaan Visser. Dié kreatiewe egpaar het hulle talente ontgin toe hulle ‘n finansiële laagtepunt bereik het en noodgedwonge hulle inkomste moes aanvul. Vandag is Esmelinda ‘n gewilde skilder en Tiaan ‘n bobaas-kaasmaker. Claude het by hulle huis in Augrabies, wat al die voorblaaie van tydskrifte gehaal het, gaan inloer.
Philip Buys jaag voorste tien by Olimpiese Spele

Philip Buys is een van drie bergfietsryers wat Suid-Afrika by die Olimpiese Spele verteenwoordig. Hy is die Afrika-kampioen in sy item en is tans 69ste op die internasionale ranglys. Sy doelwit vir die Spele? Om onder die top tien jaers te wees... of wie weet, dalk ‘n medalje huis toe te bring! Pieter het voor Philip se vertrek na Londen by hom gaan inloer.






