Johan van der Merwe, wie kykers die laaste paar weke gesien het as Oom Tjoppie in die komedie, Parys, Parys, is Dinsdag 31 Julie oorlede.Beeld het daaroor berig:
“Dis met skok en leedwese dat kykNET en Stark Films van sy afsterwe verneem het,” het Elsje Stark van Stark Films, vervaardiger van die reeks, gesê.
“Volgens Johan se familie is hy ’n maand gelede in die hospitaal opgeneem ná ’n hartaanval wat erge skade aan sy hartspier aangerig het.
“Hy is vanoggend in die hospitaal oorlede en sal in die harte van sy eggenoot en lewensmaat, Francois Liebenberg, sy kinders, Adriaan, Erica en Mart-Marie, en sy kleinkinders altyd ’n baie spesiale plek beklee.”
Johan was jare terug te sien in die TV-reeks Nommer asseblief en het ook 'n rol vertolk in die rolprente, Lipstiek Dipstiek en Hoofmeisie.
Lizz Meiring het op haar Facebook blad ere gebring aan hierdie veteraan akteur:
"O, hemel (letterlik) die Oubaas en sy engele beter regstaan. Johan was vreeslik "smart" erg stylvol en pynlik netjies - het selfs 'n stofsuier vir sy grasperk gehad! Fantasties onthaal, geborduur, gedekoreer, gekook, tuin gemaak, altyd perfek ge"groom" en aangetrek. Hulle gaan bars in die hiernamaals!
Hy kon fantasties, streng, dinamies organiseer. Was ook slim, snaaks, talentvol, lojaal, met ouwêreldse gentleman maniere teenoor 'n vrou. 'n Ou "pro".
Johan was ook in Hoofmeisie, Verraaiers, Binnelanners, Smile, Catch a fire, Life in the time of Aids en vele radio en oorklankingsreekse, nog rolprente en TV-reekse. Hy laat 'n seun, 'n dogter, 'n lewensmaat en twee kleinkinders agter, met nog enetjie oppad."






