Die Shih Tzu is daardie klein hondjie met die groot byekorf haarstyl wat op hondeskoue gesien kan word. Met die syagtige hare wat tot op die grond hang. Maar onder die hare en die opgesmuktheid skuil ‘n oulike skoothondjie wat sommer net ‘n gewone troeteldier ook kan wees. Hierdie hondjies is verlangs familie van die Pekingese, maar meer aktief en atleties. Oulike hondjies wat eintlik toegelaat moet word om sommer net hondjies te wees.Ons maak ook ‘n draai by ‘n hondespring kompetisie. Dis effens anders as die gewone agility en die reels is nader aan perdespring. Alle honde wat skoon rondtes gedoen het (met ander woorde foutloos) gaan deur na ‘n volgende rondte waar ‘n korter baan teen die klok gedoen word. Hierdie is ‘n vinnige, opwindende sport en honde, hanteerders en toeskouers geniet dit ten volle!
Die persiese kat was vir baie jare die heel gewildste kat in ons land en in baie ander lande. Maar die persiese kat het daaglikse, intensiewe werk nodig. As jy van die plat gesiggie en rustige persoonlikheid hou, maar nie lus is vir al die hare kam nie, is die eksotiese kat ‘n baie goeie keuse. Dis eintlik net ‘n persiese kat met kort hare en hierdie oulike gesiggies maak heerlike troeteldiere. En in al ons rondry agter diere aan, was hierdie seker van die rustigste, vriendelikste katte wat ons nog ontmoet het.
Die Cane Corso is ‘n nuwe ras in Suid-Afrika. Die eerstes is so jaar gelede ingebring en hierdie mastiff tipe hond kan opgesom word as die beskerming sonder die agressie. Hierdie is gesonde honde en die enigste negatiewe einskap – volgens my – is die tipiese mastiff spoegies. As jy kans sien daarvoor om ‘n spoeglappie byderhand te hou, is hierdie ‘n ras wat jy definitief beter moet leer ken.
Ons hoor dikwels by die telers dat die troeteldiere stimulasie nodig het, anders gaan hulle ‘stout’ en destruktief word. Ons gesels met suster Valdette Muller oor wat stimulasie nou eintlik alles behels. Ons kyk ook na die nuwe opvoedkundige speelgoed vir honde en katte wat nou op die mark is. Ons het hierdie speelgoed met ons eie honde probeer om materiaal te skiet vir die insetsel en ek was verbaas oor hoe goed hulle gedoen het en ook hoe moeg hulle na die tyd was. Dit was beslis iets wat hulle – en ons! – baie geniet het.
Kyk na foto's van die episode.






