Beplan die perfekte troue!



Bruilof is die splinternuwe leefstylprogram wat Suid-Afrika se wêreldklas trouindustrie onder die vergrootglas plaas. In die eerste seisoen besoek aanbieders Louise de Nysschen en Jacinda Louw-Schutte asemrowende en gesogte venues in die hartjie van die wynland, aan die weskus en regoor ons pragtige land. In hul hemelhoë hakke loop hulle die trouwêreld plat en bestudeer die jongste dekor neigings, kry nuttige wenke by die industrie se top troubeplanners, paradeer in sprokiesagtige trourokke rond en help so bruidspare om hul volmaakte troudag tot in die fynste detail te beplan.

Die reeks is die breinkind van regisseur Dewet van Rooyen en sy gedugte span by Mandelbrot Studios. Die idee is gebore uit jare se ervaring in trouvideografie en kaste vol argiefmateriaal. Toe Bruilof oorspronklik as ‘n Engelse reeks, Down the Aisle, aan MNet voorgelê is, was die paneel stomgeslaan en is dit daar en dan besluit dat die reeks op kykNET uitgesaai sal word – die enigste Afrikaanse program in sy soort. Paartjies wat ‘n troue beplan sal ook dadelik die naam van die hoofborg herken: Trou Inspirasie – ‘n Afrikaanse trouwebtuiste wat bruide idees vir hul mooiste dag gee, in hul moedertaal.

Besoek die Bruilof webblad.