Elsje & Friedrich Stark maak lag-lag 1500 episodes
Hulle is die gedugte vervaardigingspan agter die gewilde sepie Binneland wat op Maandag 30 Julie met 1500 episodes agter die blad spog. Dié sepie speel in die privaathospitaal Binneland Kliniek af en het verskeie veranderinge oorleef. Intussen het die Starks sonder enige waarborge of opdragte van enige kanaal ‘n komediereeks Parys, Parys vervaardig wat reeds vanaf Maandag 16 Julie op kykNET te sien is en in die Vrystaatse dorpie Parys af speel. Die gesigte agter Stark-films kom gesels met Coenie oor die mylpaal en hulle waagmoed.
Die blitsige Cecil Afrika is ambassadeur by Olimpiese Spele

Dié Internasionale Rugbyraad se Sewes-speler van die Jaar 2011 is slegs een van vyf sportsterre wat as ambassadeur vir die Olimpiese Spele aangewys is. Hy moet die Suid-Afrikaaanse deelnemers wat vanaf 27 Julie tot 12 Augustus in Londen deelneem, motiveer en mentor. Die seun van die Baai was die top-driedrukker en voorste puntemaker ter wêreld in die 2010 - 2011-seisoen. Suzaan het by hom ‘n draai gaan maak waar hy by sy ma se huis in Port Elizabeth herstel het van ‘n kniebesering voordat hy op die vliegtuig Londen toe klim.
Die fotograaf, Cloete Breytenbach, neem Distrik Ses na Amerika

Die veteraan- en internasionaal bekende fotograaf, Cloete Breytenbach, se ikoniese foto’s van Distrik Ses wat tussen 1960 en 1966 geneem is, gaan binnekort in Amerika uitgestal word. Sy foto’s van ondermeer die Angolese en Viëtnamese oorloë, Ronald Reagan se presidensiële verkiesingsveldtog in 1980 en die eerste hartoorplanting in 1967 het in voorste nuuspublikasies verskyn. Suzaan het Cloete by die Breytenbach-sentrum op Wellington gaan opsoek waar ’n tentoonstelling van sy werke vroeër vanjaar gehou is.
VonWest is ‘n nuwe vonk en warmte in musiekbedryf

Dewald von Solms en Pieter West vorm dié duet wat die musiekbedryf aan die praat het met hulle vars aanslag op hul debuutalbum VonWest. Dewald bring sy ervaring uit die opera-wêreld en die opkomende ster, Pieter, sy sexy stem. VonWest was die laaste projek waarby die musiekvervaardiger, Christa Steyn, betrokke was. Die album bestaan uit bekende gunstelinge en ook nuwe, oorspronklike liedjies. Die twee manne kom maak ‘n draai in die ateljee.
Laaste, maar nie die minste nie: die Namibiese streekswenner
Hulle het geduldig hulle beurt afgewag, maar die Namibiese streekswenner kan net die spreekwoord laat waar word: Wie laaste lag, lag die lekkerste. Die week hoop een van Hentiesbaai, Omaruru en Walvisbaai om as die laaste dorp aangewys te word wat die nege-tal gaan voltooi in Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie! Die streekswenners ding `mee in die kompetisie om die allemintige prys van R2 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET en Rapport te wen. Meer inligting op ons webwerf by:
http://www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html






