Chris Chameleon is DEKATv se nuwe aanbieder!



Op Sondag 29 Julie, om 18:00, skop DEKATv se splinternuwe reeks op kykNET af. Dit volg na 'n suksesvolle televisieseisoen wat in Januarie vanjaar ten einde geloop het.

Pasgemaak vir die winter wanneer met 'n warmwatersak en lappieskombers, 'n koppie sop of melkkos in die hand, gaan die nuwe reeks kykers tot diep in die somer vermaak met 'n keur van kuns, skrywers, kultuurskatte, kos, wyn, erfenisbewaring, eksentrieke karakters, subkulture en Suid-Afrikaanse ikone.

DeKat TV word aangebied en vervaardig deur dieselfde span wat vir DEKAT-tydskrif se voortreflike gehalte verantwoordelik is - 'n handelsnaam wat al 26 jaar lank met uitnemendheid vereenselwig word. Elzilda Becker, uitgewer van DEKAT-tydskrif, is die uitvoerende vervaardiger en Melanie Tait, eindredakteur van DEKAT-tydskrif, die aanlynvervaardiger.

Die insetsels is gegrond op artikels wat deur DEKAT se eie joernaliste nagevors en geskryf is.

Die onderskeie aanbieders is Chris Chameleon, Rolanda Marais, Aleit Swanepoel, Gerard Scholtz, Pieter Mathews en Marliza van den Berg. "Elkeen is 'n spesialis op sy/haar gebied en beloof om met hul kundigheid en ervaring geloofwaardigheid aan elke storie te gee," beklemtoon Becker. “Die eerste tydskrif in Suid-Afrika wat ‘n eksklusiewe, in diepte Chris Chameleon-artikel gepubliseer het, was DEKAT en ek sal nooit vergeet hoe gevlei ek gevoel het toe hulle na my verwys het as “die plofbare baskitaarspeler” nie! Om so ‘n gehalte publikasie deur middel van die televisie-medium te kan beleef, is ‘n besondere genot en ‘n goeie toevoeging tot dit wat op die kassie te kry is”, sê Chris.

"DEKATv is 'n droom wat bewaarheid is vir elke DEKAT-werknemer, -adverteerder en geesdriftige en toegewyde leser. Ervaar die wêreld wat jy gedink het jy ken op 'n manier waarvan jy nooit kon droom nie - en kom skep asem elke Sondag op die vars en verrassende DEKAT-manier," nooi Becker.