Klavier trekpleisters by Klein Karoo Klassique



Vier van die land se mees opwindende eksponente van die klavier skuif van 9 tot 12 Augustus tydens Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn voor dié gewilde snaarinstrument in.

Die gewilde TwoPianists, Luis Magalhães en Nina Schumann tree vanjaar vir die derde keer by Klein Karoo Klassique op, dié keer met ’n program van Brahms, Rachmaninoff, Arenski, Barber en Copland. Dié duo is in die American Record Guide (November-Desember 2010) in dieselfde asem genoem as die legendariese klavierduo’s van Ashkenazy-Previn en Argerich-Freire. TwoPianists tree op 9 en 10 Augustus op en teen net R80 per kaartjie, is dit ’n uitsonderlike geleentheid vir jonk en oud om die klavier opwindend en flambojant, maar ook sag en passievol te ervaar.

Daar kan ook uitgesien word na die optrede van die baie talentvolle plaaslike pianis, Sulayman Human. Human het op die ouderdom van 12 met klavierlesse begin en studeer tans aan die Universiteit van Stellenbosch onder Schumann en Magalhães. In 2010 het hy die Lionel Bowman-kompetisie gewen vir die beste uitvoering van ’n Beethoven sonata. Hy was die eerste persoon wat nog op hoërskool was toe hy dié prys ontvang het. In sy eerste studiejaar het hy Liszt se Totentanz saam met die Universiteit van Stellenbosch se Simfonie-orkes opgevoer. Human tree op 11 Augustus in Die Neelsie Teater op en kaartjies kos R50.

Op die laaste dag van die fees speel die internasionale konsert-pianis, Mark Nixon, musiek van sy nuwe CD, as deel van ’n uitgebreide Suid-Afrikaanse toer. Dié gebore Suid-Afrikaner woon in Londen, waar hy verbonde is aan die King College School. Sy program sluit werk in van Brahms, Liszt en Debussy. Kaartjies na hierdie vertoning kos ook R80.

Vir die volledige program besoek ons webwerf by www.klassique.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket by www.computicket.co.za

Kyk na foto's.