"Ons het onlangs getrek na 'n huis met 'n tuin. Nie die twee piepklein lappies aarde wat ek by die vorige huis gehad het nie, maar 'n substansiële tuin met baie bome. Ek en Sizwe, my tuinman, is baie opgewonde daaroor. Ons het reeds gras aangeplant in die voortuin, en dit is besig om op te kom. Waar dit voorheen dus net bruin en stowwerig was, pryk daar nou 'n donkergroen borselkop. Toe ons trek het ek ook' n stukkie van elke plant in 'n pot gedruk en saamgebring, en dit het Sizwe vir my oorgeplant in die tuin langs die nuwe grasperkie. Nou hou ons asem op om te sien of al die plante ewe gelukkig is waar hulle tans wortel skiet.Vriende het die ander dag vir my 'n tamatieplant in 'n pot gebring. Ek sal nog vir hom 'n plekkie in die nuwe tuin kry - ek hou net eers die son dop om te sien waar 'n groentetuintjie die beste sal vaar. Intussen is die tamatieplant darem nog gelukkig in die pot. Ek het hom op die stoep gesit en sedertdien het ons al twee van sy tamaties geoes. Dit was twee moewiese tamaties en dit het soos geen winkeltamatie gesmaak nie. Dit was soet en vars en propvol goeie goed - gesondheid uit die grond uit!
Om 'n bietjie lewe in die nuwe tuin te kry, het ek twee voelstasies aangeskaf - een vir vrugte en een vir saad. Tot dusver het dit swerms voëls van alle kleure en groottes gelok. Daar is 'n bende tiptolle wat 'n peer vinniger kan verober as wat 'n skool piranna's 'n koei se karkas van kant kan maak. Dan is daar ook 'n houtkapperpaartjie en 'n familie muisvoëls asook 'n klompie loeries wat gereeld kom besoek aflê. Ek kan nie wag vir die somer nie. Ek weet dat die son en reën amper oornag my nuwe tuin in 'n lushof gaan omskep. Dis een van die grootste geskenke wat ek gekry het toe ons in hierdie huis ingetrek het. Nou kan ek alles wat ek oor die jare by Tuine en Tossels se kenners geleer het, begin toepas!"






