“Ons wil weer die beste wees!”



"Ons wil weer die beste wees!”

Dit is die nuwe kreet van die Stryders. Afrikaans se geliefkoosde reeks skop weer af in Julie 2012!

Kiekie (Hanna Grobler) en Fafa (Altus Theart) nog vervreemd van mekaar en Regardt (Izak Davel) wie se storielyn begin in die rolprent, Getroud Met Rugby - Die Onvertelde Storie, is terug van die Kaap en deel van die Strydersspan. Schalk (Johan Scholtz) sukkel nog om sy vrou se dood te verwerk en sy dogter Mieke (Leandie du Randt) bewys dat sy kan kers vashou by die pom-pom meisies. Hulle beplan om die Stryders se inspirasie te wees.

Soos die Stryders baie hard werk om weer bo in die liga te wees, is daar natuurlik weer ʼn gekonkel agter die skerms. Anke (Sandra Vaughn) word span bestuurder wanneer Jimmy verdwyn, ons vind uit Brendan (Marlon Roelfze) het ʼn donker geheim en Botha (Andre Odendaal) en Cornia (Michele Botha) is steeds agter hulle "marshmellows" aan en het nou ook ʼn baba om mee te “wheel-en-deal”. Wie weet wat hierdie karavaanpark familie gaan aanvang deur die loop van 13 episodes?

In hierdie seisoen sien ons ʼn klomp nuwe gesigte. Anke se suster, Leatitia (Franci Swanepoel) maak haar verskyning en het ʼn persoonlike vendetta...

Raka (Ashley Saunders van Hartland-faam) is die nuwe Stryder-bul en saam met sy groot liggaamsbou kom sy groot humeur en dit pas nie so lekker in by die Stryders se sin vir familie nie. Die Stryders se nuwe sielkundige Iva (Nadia Beukes – Hartland & Tree Aan) ontbloot deurlopend baie besonderhede oor die spelers se persoonlike lewens en kom agter dat rugbyspelers, maar net soveel issues het as “gewone” mense.

Aangesien die Stryders weer die beste wil wees, stel hul ook ʼn nuwe bemarkingsbestuurder aan, Adam (vertolk deur Robie Wessels), om hul te help. Met sy blink planne en vernuf, help Adam die Stryders om hul openbare beeld te poets en borg in te win.

Die vierde seisoen van Getroud Met Rugby 4 beloof nog meer intriges, drama en spanning as ooit tevore. Die keer is ons karakters ouer, wyser en slimmer en ons stories bied vermaak soos nooit tevore.

Besoek die Getroud met Rugby webblad.