Sakegesprek: Vrae aan Charl Senekal



•Gert vra: Waardeer ‘n gemeenskap insette van enige aard om die omgewing en hulle lewenskwaliteit te verbeter, hoe gering ookal - veral van ‘n boer?

Charl antwoord: Senekal Boerdery se verhouding met die omliggende stamme is een van ons prioriteite. Ons besef ons het mekaar nodig. Ons het weekliks samesprekings met al die stamme. Hulle word met enige vorm van hulp wat hulle vra gehelp. Hul lewenskwaliteit baat geweldig daarby.
Ons doen waterskemas vir hulle, bou klaskamers aan by hulle skole, bou damme vir veesuipings. Ons boerdery baat ook daarby, ons het amper geen misdaad nie.

• Gert vra: Kry u dit reg om geesdrif by landbouwerkers (plaasarbeiders) te kweek? Baie boere is skepties dat dit moontlik is?

Charl antwoord: Geesdrif onder ons plaaswerkers is hoog, maar produktiwiteit is nog laag. Motiveer jou werkers deur ‘n spesiale bonus of prys en kweek daarmee geesdrif. Onthou, ‘n goeie leier motiveer mense om in hom te glo, ‘n ware leier motiveer mense om in hulself te glo

• Anneke vra: Die opvatting dat mens ‘n plaas moet erf om suksesvol te boer - teen die agtergrond van die baie duur grondpryse, is dit steeds moontlik vir iemand om ‘n plaas te koop met skuld en dan homself suksesvol uit die skuld te boer?

Charl antwoord: Ek word die vraag baie gevra. Enige besluit om ‘n plaas aan te koop moet ‘n oorwoë besluit wees. ‘n Finansiële bydrae van omtrent 30% van die plaaswaarde sal dinge heelwat makliker maak. Probeer eers die eiendom huur vir ‘n paar jaar, spaar baie hard, bepaal die potensiële winsgrens en maak dan ‘n besluit.

• Jan-Louis vra: Wat is jou mening oor invoerbelastings en subsidies vir landbouprodukte en moet die regering boere help om teen die buitelandse boere, wat deur regerings in die VSA / Europa gehelp word, meet te ding?

Charl antwoord: Invoerbelasting op landbou toerusting en produksiemiddele moet so gou moontlik afgestel word. Dit maak ons minder mededigend teenoor buitelandse boere. Subsidies sal oor die jare ingefasseer moet word.
Dit is oor en oor bewys dat lande wat hul boere subsideer, oortollige kos produseer. Ons en die res van die wêreld gaan dit nodig kry vanweë die wêreldwye bevolkingsontploffing.

• Gerda vra: As jy nou moes begin boer, sou jy suiker en Suid Afrika gekies het of iets anders as suiker en miskien iewers anders in Afrika?

Charl antwoord: Gerda, jy praat nou met een van die mees patriotiese boere in Suid-Afrika. Ek sal moeilik Suid-Afrika verlaat om voltyds in ‘n ander land te boer. Nogtans voel ek, dit is die plig van ons boere om ons geweldige kennis oor boerdery ook aan ander boere in Afrika oor te dra. Suiker, waar jy ookal met dit boer onder besproeiing, sal altyd sy kant bring op voorwaarde dat die produsent ook sy kant bring.

• Pierre vra: Charl, ons glo dat landbou die ruggraat van enige nasie moet vorm omdat ‘n land se eerste prioriteit behoort te wees om sy bevolking te voed.
Huidiglik is landbou onder geweldige druk omdat boere die landbou verlaat of in die buiteland groener weivelde soek.

Wat kan ons as belangstellendes doen om betrokke te raak?

Charl antwoord: Daar is ongeveer 60 000 plase in Suid-Afrika. Tussen 5 en 7% van die plase kom in die mark elke jaar. Spaar asseblief alles wat jy kan, koop eendag ‘n klein plasie en begin dan groter gaan soos finansies verbeter. Ek het presies dit gedoen.

• Pierre vra: En meer belangrik, hoe gaan ons die jeug betrek by landbou sodat daar weer ‘n oplewing in die bedryf kan wees

Charl antwoord: Ongelukkig is finansiële instellings vandag totaal “koel” oor nuwe of jong toetreders tot die landbou. Werk hard, spaar, droom en eendag sal ‘n geleentheid na jou toe kom. Sterkte!!

• Gerhard vra: Hierdie vraag is meer oor die toekoms van suiker as oor Charl se sukses as sakeman en boer. Nie seker of hy enige terugvoer sal kan gee nie en of die vraag relevant tot jul gesprek sal wees nie.

Sover ek verstaan is die mediese veld besig om te kyk na die nadele van suiker en hoe dit die mens se gesondheid beinvloed.

Daar is ook sprake dat a.g.v. hierdie bevindinge daar strenger maatreëls oor suiker- (bedryf & gebruik van) sal wees, in soortgelyk met die van sigarette (egter nie so streng nie).

Is daar enige waarheid hieraan en wat is die terugvoer wat die boere ontvang vanaf die suikerraad?

Charl antwoord: Daar is altyd ‘n debat oor voor en nadele van suiker vir die mens. Die SA Suikervereniging het ‘n hele span voedingsdeskundiges in diens. Hulle sê, suiker, indien dit korrek en matig gebruik word, is nodig en gesond vir die mens. Ek is glad nie bewus van enige maatreëls teen suikergebruik deur ons regering nie.

• Gerhard vra: Sal dit enigsins ‘n invloed hê op jou besigheid of nie?

Charl antwoord: Suikerriet is egter ‘n veelsydige produk. Geweldig baie produkte word van suiker vervaardig. Etanol (groen Brandstof) en elektrisiteit word op groot skaal regoor die wêreld uit suikerriet vervaardig. Indien my suikermeule van suiker na etanol en elektrisiteit oorskakel, sal ons, ons winsgrens aansienlik verhoog. Ons aansoek vir die oorskakeling na etanol/elektrisiteit is egter deur die regering voorlopig afgekeur.

• Johan vra: Ek wil graag weet wat jou opinie is oor die regering se beplande grondhervorming deur kommersiele plase af te neem sonder vergoeding? Wat is jou mening vir 'n beter oplossing?

Charl antwoord: Ons regering se beleid is om geen nasionalisering van landbougrond te doen nie. Geen sulke stappe sal in die nabye toekoms gebeur nie. In my gesprekke met die regering, sê ek altyd: Moet nie myne vat nie, kom ek leer jou om jou grond reg te gebruik. Dit is ook besig om groot byval by die regering te vind. Trouens, groot boere het onlangs tydens ‘n vergadering in Johannesburg met die regering, onderneem om nuwe toetreders tot die landbou te help oplei.

• Yolande vra: Was daar ‘n “oomblik”, gebeurtenis of transaksie wat veroorsaak het dat die boerdery uiteindelik tot op hierdie skaal uitgebrei het, of was dit ‘n proses wat van die begin af so beplan en so bestuur is?

Charl antwoord: Slegs in ‘n woordeboek verskyn “sukses” voor werk. Sukses sal altyd ‘n proses bly, en my sogenaamde sukses was geen uitsondering nie. Ek het oor sukses gedroom, beplan, bitter baie beledigings gekry, maar volhard! Vandag pluk ek die vrugte!!

Terug na hoofblad.