Janie du Plessis loots ‘n volwaardige geselsprogram getiteld “Wat Mense Sê” op kykNET. Die eerste episode sien die lug op 17 Julie, elke Dinsdagaand om 21:00.“Ons lewe in ‘n wêreld waar ons geleer het om die blink kant bo te hou, om nie ons vuil wasgoed in die publiek te was nie en ook om nie met ons harte op ons moue rond te loop nie. Ons is geleer om te pasop vir wat die mense gaan sê. Ons swyg oor ons vrese, ons skandes en ons skades. Ons deel net die goeie nuus en ons verhale van vertoon, maar dit wat saakmaak, dit wat seermaak en skaammaak, dit bly agter slot en grendel”: sê Janie.
“Ek het met my eie oë gesien watter verskil bewusmaking in mense se lewens maak en hoe bevrydend dit is om te práát oor die dinge wat jou pla, dinge waaroor mense wonder en die dinge wat mense deurgegaan het. In my eie lewe het dit het ‘n terminale siekte gevat om my te forseer om openlik te begin praat, en dít het heel waarskynlik my lewe gered...”
In hierdie geselsprogram gaan gewone mense hulle ongewone verhale deel. Dit is dikwels die verhale van ander mense wat moed gee. Dit is dikwels juis dié mense wat die blink kant bo hou wat ons inspireer, gewone mense wat ongewone goed oorkom, verhale van hoe mense hulle self geestelik verryk met hulle mislukkigs en uitdagings, hoe hulle weer opstaan en weer aangaan dan weer oorwin. Stories van hoop.
Carien Loubser, regisseur van die program sê: “Ons sien baie uit na die reeks want daar is baie verhale in ons land om te vertel. Mense het mense nodig, dis nie vuil wasgoed was nie, dis onvertelde verhale wat voltooi moet word… Die program gaan die mense aan die praat kry, want die stories wat vertel word gaan mense ruk, maar uiteindelik ‘n positiewe verskil in baie se lewens maak. Daar is onmeetbare waarde in gesprekke, woorde en dinge “Wat Mense Sê””.
Elke episode van die geselsprogram gaan opgevolg word met gespreksforums op Facebook, twitter en SARIE se webblad wat een van die grootste is in Suid Afrika.
“Ons praat oor alles” sê Janie. ”Dis nie net dramatiese stories nie. Daar’s temas waaroor ons lekker gaan kan lag ook.”
Besoek die webblad.






