‘n Oulike skoothondjie wat baie liefde sal verskaf!



Ons gesels hierdie week weer oor ‘n klein en ‘n groot honderas.  Die speelgoed hondjie waarna ons kyk is die pragtige Cavalier King Charles Spaniel.  Bietjie groter as die ander speelgoed hondjies, maar nie so groot soos die ander Spaniels nie.  Behalwe vir ‘n paar interessante gesondheidsprobleme, is hierdie ras heerlike maats vir iemand wat ‘n vashou hondjie soek.

Die groot ras waaroor ons meer uitvind is die Dobermann.  Hierdie honde het ‘n reputasie vir kwaai wees en jou en jou goed oppas, met rede.  Hulle is oorspronklik geteel om persoonlike lyfwagte te wees en dit is iets waarvoor hulle ideaal geskik is.  Moderne telers het gepoog om die sterk beskermingsdrang bietjie te temper, om ‘n meer sosiale hond te kry, en die Dobermanns wat ons met die skietery ontmoet het, was vriendelik en spelerig.

Dit is weer tyd vir die jaarlikse WODAC (World Of Dogs And Cats) skou.  Dit vind plaas by Gallager Estate 20 – 22 Julie, en hierdie jaar is daar weereens ‘n propvol program.  Daar sal ‘n hondeskou plaasvind, dans met honde kompetisie, agility, karretjies trek en vele meer.  Baie van die hond en kat rassse sal ook daar te sien wees, en dit is ‘n MOET vir enige diere liefhebber.  Ons gesels met die organiseerder om uit te vind wat skougangers alles kan verwag.

Dan ‘n baie nuttige insetsel oor diere noodhulp.  Ons gesels met Dr Frederique Hurly, wat vir ons ‘n basiese noodhulp kissie bymekaarsit en verduidelik van die moets en moenies wanneer jou dier ‘n besering opdoen.

Die kat ras wat ons hierdie week op fokus is die Oriental.  Hierdie ras is eintlik net ‘n Siamees met ‘n soliede kleur.  Liefhebbers van die Siamese tipe kat sal definitief ook in die Oriental belangstel.

En dan sit my eie klein bloedjie (Rozsda die Hongaarse Vizsla) langs Alana vir die aanbieding.  Hy lyk of botter nie in sy mondjie kan smelt nie, maar hy het ons opdraante gegee met die skietery!  Alana is egter ‘n regte “pro” – sy kan oor en oor dieselfde “link” doen sonder om toe te laat dat die diere se gesukkel haar ontspoor.

Kyk na foto's van die episode.