Ontmoet die Peter Pan van honde



Die Griffon is ‘n onbekende dog interessante klein hondjie.  Hulle is ‘n tipiese “toy dog” en te oulik vir woorde. Dit is ook die klein hondjie wat sy koppie so draai aan die begin van die Woef & Kie logo. En.. moet tog nie daardie dierbare lippies miskyk nie!

Ons het vir Alana omgepraat gekry om geblinddoek te probeer loop met ‘n gidshond.  Wat ‘n ondervinding was dit nie!  Ons het nuwe respek gekry vir die mense wat die opleiding van hierdie honde doen, die blindes wat met hulle rondloop en – meeste van alles – die uitsonderlike honde wat hierdie wonderlike taak verrig.

Dan het ons ook ‘n draai gemaak  by ‘n paar katskoue en met van die beoordelaars gesels om uit te vind hoe die reels van so dag werk.  Daar was rye en rye pragtige katte wat hulle beurt op die beoordelaars se tafels afgewag het, en dit moet werklik moeilik wees om die beste een uit die klomp te kies.

Ons ontmoet die worshond van die katwêreld : die oulike Munchkin.  Hierdie katte met hulle lang lywe en kort beentjies is glad nie ‘gestremd’ nie.  Hulle hardloop, spring en klouter soos wat baie van die ander katte maar net kan wens!

En dan ontmoet ons nog ‘n honderas wat nie wyd bekend is nie: die Flat coated retriever.  Hierdie swart of bruin hond is baie naby familie van die Golden Retriever, en met hulle dierbare persoonlikhede en sagte geaardheid is dit ‘n uitstekende familiehond.  En daar is ‘n opgewektheid en ondeundheid wat hulle die reputasie gee as die Peter Pan van honde – een wat nooit oud word nie.

Kyk na foto's van die episode.