Fliekgenot in Julie op kykNET!



Roepman
Donderdag 5 Julie om 21:30

Roepman is ‘n Afrikaanse drama gegrond op Jan van Tonder se gelyknamige boek. Dit is die storie van 'n spoorweggemeenskap van die 1960's, soos vertel deur die oë van Timus, 'n elf-jarige seun. Die lewe van die mense in ’n spoorweggemeenskap volg ’n sekere roetine en dit word nie maklik versteur nie. Die roepman, wat die spoorwegwerkers elke oggend roep om werk toe te gaan, sorg dat alles bly soos dit is. Of so glo klein Timus. Maar niks kan altyd dieselfde bly nie, en kinderonskuld is iets wat nie lank hou nie. Timus kom dit gou agter en leer die weë van die grootmenswêreld ken deur sy verhoudings met sy gesinslede en sogenaamde vriende. 2011 Met Paul Loots, Andrew Thompson, Rika Sennett, Deon Lotz, John-Henry Opperman, Altus Theart en Lida Botha. Regie: Paul Eilers.

Superhelde
Vrydag 6 Julie om 19:30

Superhelde is ‘n storie van waarheid, liefde en ontdekking… Albert en Peet, twee wannabe Superhelde, sukkel al van skool dae af om in te pas. Dimensie Komieks, die een plek waar hulle tuis voel, is diep in die skuld – R100 000 diep om presies te wees. Asof dit nie erg genoeg is nie, word Dimensie deur niemand anders as hulle aardsvyand van skool, JJ van Tonder bedreig. JJ en sy pa, JJ Senior, is die geldgierige eienaars van die kommersiële winkelsentrum reg oorkant Dimensie Komieks. Hulle is desperaat opsoek na spasie vir meer parkering en het hulle oog op die gebou waarin Dimensie Komieks is. Albert en Peet beraam saam met Saskia – Peet se vurige hoërskoolliefde, Monique – Dimensie se skaam en teruggetrokke winkel assistant en SuperWayne – een van Dimensie se gereelde kliënte, ‘n buitensporige plan om Dimensie te red van die stootskrapers. Met Ivan Botha, Neil Sharim, Andrew Thompson, Leila Etsebeth, Ciske Kruger, Melt Sieberhagen, Solomon Cupido en Garth Collins.

Dis lekker om te lewe
Vrydag 13 Julie om 19:30
Komedie

Al Debbo en Frederik Burgers kielie behoorlik die lagspiere in hierdie fliek oor twee swape wat hul lyf soldaat probeer hou. Twee vriende besluit om by die leër aan te sluit om ‘n bietjie geld te verdien. Tydens hul opleiding sien hulle twee rekrute wat oral loop en foto’s neem en hulle ruik onraad. Hulle besluit om die boewe uit te vang voordat hulle die leër se “geheime wapen” ontdek, maar intussen is hulle sulke hopelose soldate dat hul bevelvoerders nie kan wag om van hulle ontslae te raak nie. Met Al Debbo, Yvonne Theron, Frederik Burgers, Jan Bruijns, Taffy Kikillus. 1957

Hier’s ons weer
Vrydag 20 Julie om 19:30
Komedie

‘n Dolle komedie waarin bankrowers hulself vasloop in twee komieklike privaatspeurders. Die gebeure in ‘n spookhuis dra by tot die algehele wanorde. Pierre de Wet film met Al Debbo, Frederick Burghers, Hankie van Niekerk, Dirk Lourens, Jan Jordaan, Eric Egan, Ella Kroon, Helen de Kock. 1950

Stadig oor die klippe
Vrydag 27 Julie om 19:30
Komedie

Boetie Vlenters is 'n sukkelende privaatspeurder wat voortploeter van saak tot saak. Elke keer kruis sy paadjie met dié van ‘n bende diamantdiewe. Onder die indruk dat Boetie ‘n briljante speurder is, besluit hulle om van hom ontslae te raak, met skreeusnaakse gevolge. Met Al Debbo, Julie Neethling, Hal Orlandini. 1969