Hierdie is weereens ‘n episode vol interessanthede EN nuwe diere en dinge.Ons ken almal vir Snowy – Tin Tin se baie slim hond. Hy is ‘n Wirehaired Fox Terrier en in die werklike lewe is hulle net so intelligent en vol dinge. Maar miskien te besig vir ‘n rustiger huishouding. Hierdie is bondels energie wat dinge wil doen en nuwe goed wil beleef!
Ons het gesels met die dames van die Pet Friendly Directory – ‘n publikasie wat jaarliks verskyn en al die plekke lys waar jy met jou diere kan gaan vakansie hou, of sommer net ontspan. Baie van die wynlandgoede in die Wes Kaap stel nou ook hulle deure vir honde oop en hierdie groeiende behoefte kan die lewe vir ons en ons diere net lekkerder maak in die toekoms.
Die nuwe Canine Core Ball terapie (of oefening) was vir my persoonlik een van die interessantste dinge wat ons raakgeloop het. Dit kan basies beskryf word as Pilates vir honde. Die fisioterapeut wat hierdie klasse aanbied praat met groot lof van die waarde van hierdie oefening, en dit het gelyk of die honde dit ook werklik geniet!
Die Birman kat is nog een van daardie prentjie mooi koekblik katte. Hierdie welige hare en blou oë kat lyk baie dieselfde as die Ragdoll, maar daar is tog subtiele verskille wat katkenners dadelik kan uitwys. Die Birman is ‘n rustige maatjie kat... en pragtig!
Die Sentrale Asiese Herdershond is ‘n nuwe toevoeging tot die plaaslik beskikbare honderasse. Die eerstes van hulle is redelik onlangs eers ingevoer en reeds is hierdie ras besig om naam te maak as beskermer en plaashulp. Definitief nie enige iemand se hond nie, want hulle is geneig om baie kwaai te word. Hierdie was ook die eerste (en hopelik enigste) hond wat ooit vir my gegrom het. Gewoonlik is ons sommer onmiddellik familie!
Kyk na foto's van die episode.






