Formidabele Vroue: 5 Junie 2012



Rykie van Reenen

Met die navorsing oor Rykie van Reenen, was een van die eerste indrukke oor haar: " How do you catch a moonbeam in your hand". In haar boek oor Rykie van Reenen, sê Lizette Rabe: Rykie van Reenen het die Stokstywe Afrikaans van haar tyd laat twist, tango en tiekiedraai.

Haar tydgenote het haar al beskryf as een van die beste Afrikaanse joernaliste van die 20ste eeu. Haar bydrae strek egter verder as die joernalistiek: Sy was, sonder om dit doelbewus te doen, 'n baanbreker vir vroue in die joernalistiek in Suid- Afrika en was die eerste vrou wat dit reggekry het om op 'n ander redaksie as 'vrouesake' by Die Burger aangestel te word.

Rykie van Reenen se loopbaan en lewe loop ook hand aan hand met die geskiedenis van die Nasionale Pers, nou Media24. Sy was mentor vir talle jong joernaliste wat later hul merk in die SA joernalistiek gemaak het.

Haar gestroopte skryfstyl het 'n maatstaf geword.

Woorde wat telkens opkom wanneer mense Rykie van Reenen onthou is: vreesloos, onverskrokke, aweregs, spontaan, natuurmens, belese, sensitief, eensaam en soos Ton Vosloo sê: Die een met die voshare en sproete wat daarby pas...