Kwêla: 16 Mei 2012



Rudi Claase se eerste solo-album in sewe jaar




Dié sanger en liedjieskrywer wat eens deel was van die Ons Lieflinge-sangpaar het pas sy solo-album, Kom ek skryf vir jou ‘n liedjie, uitgereik. Hy sê hy is nou reg om die musiekwêreld weer op sy eie aan te pak. Mandi het by hom in Pretoria gaan kuier en ‘n voorsmakie gekry van wat dié album so spesiaal maak.

Jong entrepreneur ontwikkel prettige bordspel




Terwyl tegnologiese wonders deesdae die meeste huishoudings vermaak, het ‘n jong kopieskrywer van die Paarl onderneem om die borspeletjie te laat herleef. Dit het René van Huyssteen drie jaar geneem om die speletjie, Yunomi (you-know-me), te ontwikkel en dit is reeds op die winkelrak. Oud en jonk kan saamspeel en met die kombinasie van 300 prettige vrae mekaar sommer beter leer ken. Suzaan het gaan saamspeel.

Legendariese fotograaf deel sy indrukwekkende versameling




Obie Oberholzer het al verskeie uitstallings, plaaslik en internasionaal gehou en sy koffietafelboeke is gesogte items. In sy jongste boek, Diesel and Dust, skets hy sy eie verhaal: hoe hy as jong seun ‘n foto van die toring van Pisa met sy ma se kamera geneem het, én sy passie daar vlam gevat het. Claude het hom opgespoor in Nature’s Valley waar hy omring word deur die pragtige Tsitsikamma-woud.

Groen vingers lei tot suksesvolle onderneming




Jacky Goliath is aangewys as S.A. se voorste kommersiële vroue-entrepreneur. Sy is mede-eienaar van die De Fynne-kwekery in Simondium in die Wes-Kaap wat tot stand gekom het nadat sy en ‘n vriend, Elton Jefthas, in 2001 ‘n duisend fynbosplante in sy agterplaas begin kweek het. Vandag het hulle 3 persele met meer as 600 000 plantjies. Suzaan het dié ywerige vrou gaan ontmoet.

Kwêla se 11de jaar van snaakse en spannende video’s




Dis weer tyd vir Kwêla se jaarlikse Amateur Video-kompetisie! Sedert 2001 het dié kompetisie fantastiese groei beleef, en het verlede jaar sy eie tydgleuf op kykNET gekry. Vanjaar maak ons weer so! Stuur nou al jou snaakse, vreemde, skattige en asemrowende video’s in voor Maandag 23 Julie. Daar is weer GROOT pryse op die spel!

Kyk na die streeksfinaliste uit Namibië




Die stemlyn vir die Weskaap en Vrystaat is nog tot Dinsdag oop, en  Sondag maak Rapport word die streeksfinaliste uit Namibië bekend. Woensdag wys ons die finaliste uit dié land. Meer inligting is op ons webwerf te kry by www.pietercilliers.co.za/dorpkompetisie.html