Op Verre Roetes Woensdae @ 20:30, Donderdae @ 14:00; Saterdae @ 23:00; Sondae @ 17:00.
Die Noordkaap is 'n plek van uniekheid en uiterstes, en in hierdie reeks verken ons die verskillende roetes van hierdie provinsie.
Ons roei die magtige Oranjerivier met sy gevaarlike witwaters. Ons spandeer tyd op die diamantroete langs die kus van Port Nolloth.
Foefieslide oor die Vaalrivier by Barckley-Wes en abseil die Amphiteater, 'n eerste ooit! Ons besoek Augrabies en doen die Kokerboom Roete tot by Upington. Ons doen 'n staproete in die mees onherbergsame deel van die Richtersveld so in die hartjie van die bergwoestyn.
Ons ry fiets in die halfmenspas, en gly af by die rooi sandduine van die Molopo. Springbok is een van die mees geskikste plekke in Suid-Afrika vir valskermspring en ons Verre Roete span was daar slaggereed om dit mee te maak. Ons toets ons boogskiet vernuf saam met die manne wat weet. Ry perd en donkiekar naby Mier.
Ons spandeer 'n dag saam met die mense van Calvinia en dans die riel.
Uit die dorre aarde kom 'n jaarlikse prag verskynsel, blomme van alle kleure wat plate vol staan. Ons gaan kyk na die seldsame plante van hierdie gebied wat slegs oorleef op die vroeg oggend dou.
Vandaar reis ons na die Kgalagadi met sy groot maanhare en ander diereprag. Ons besoek ook een van die ikone van die Noordkaap - die meerkatte by Van Zylsrus. Op 'n koue wintersoggend sny ons spoor deur die lang grasse saam met een van die Khoi-San mense van hierdie gebied. Ons ondersoek die jagbedryf en stel ons gewere in.
By Olifantshoek wys 'n paar sterk en vernuftige Kalahari boere hoe hulle gemsbok vang - sommer so met die hand.
Kom kuier saam met ons vir die volgende 13 weke in die Noordkaap en deel in al die aksie, pret en avonture Op Verre Roetes.






