FRANZ MARX SE FILM EGOLI – VOL VERASSINGS EN BAIE DRAMAEgoli – Plek van Goud het agttien jaar oud geword, in ‘n volwaardige tiener ontpop, sy kinderskoene ontgroei en nou amptelik van die klein kassie na die groot skerm geskuif!
Franz Marx se film Egoli, wat van 16 Junie landwyd uitgereik word, is egter nie net “nog ‘n episode” van die TV-reeks Egoli nie. Ja, net soos die sepie is dit propvol intriges en drama, maar die rolprent het heelwat nuwe verrassings, skokke en onthullings wat die tradisionele Egoli-kyker behoorlik gaan laat regop sit en naels kou!
Franz Marx het die nuwe rolprent geskryf vir ‘n breër teikenmark met Niek (David Rees) en Joe (Darren Kelfkens) as die hoofkarakters.
Diep en donker geheime uit Niek en Joe se verlede word onthul – en met hierdie nuwe tema gaan die rolprent beslis by talle manlike kykers aanklank vind.
Maar dit is nie net ‘n ernstige, analitiese, dramatiese rolprent nie – Faan (Anton Stolz) en Duifie (Casper de Vries) sorg vir balans met ligter, komiese oomblikke wanneer hulle van Bela Bela by Nora (Christien Basson) in Brixton kom aanklop ….om verskeie redes…
Lolly Jackson, wat himself in die rolprent speel, en sy sexy ontkleedanseresse van Teazer’s sorg vir opwinding van ‘n ander aard.
‘n Hele paar ander van die gewilde en bekende karakters soos die bose, onstuitbare TJ (Lerato Motau), die vredeliewende en lieftallige Candy (Michelle Beling), die simpatieke en moederlike Nenna (Shaleen Surtie-Richards), die mooie Bienkie (Christina Storm) en haar plat-op-die-aarde man Koert (Ivan Zimmermann) en Niek se onvoorspelbare, soms stuitige Sonet (Tiffany Kelly) keer ook terug….
Dan is daar natuurlik Peggy (Leandie du Randt) ‘n smeulende, jong langbeen-blondine wat Joe se nuwe meisie is….en met haar manewales en mooi lyfie behoorlik Nenna se kleinseun Alexander (Kaz McFadden) laat kwyl…
Die storie van Egoli word sowat ses maande later hervat net nadat die verhaal van die TV-reeks op ‘n spannende en verassende hoogtepunt geeindig het (onthou, Chris (Eckard Rabe) is aan die einde van die sepie vermoor en Louwna (Brumilda van Rensburg) se rouproses het begin).
In die rolprent werk Niek en Joe vir die geslepe TJ, Tiffany het ontpop in ‘n kranige en avontuurlustige motorfietsryer en Nenna is nog steeds opsigter by die Mansions.
Is Koert en Bienkie gelukkig getroud en het Niek en Tiffany net hul gewone, alledaagse geskille of is daar nou ook ‘n ‘donker geheim’ uit Niek se verlede wat hulle saam-saam die hoof moet bied? Gaan die sexy Peggy vir ‘n nuwe vars briesie in almal se lewens sorg?
En sake wil ook net nie vir Joe na wense uitwerk nie…..hy moet ernstige self-ondersoek begin doen. ….
Die hare waai, die klere waai, die skote klap……daar’s liefde, haat, wrede ontnugtering en liefde….maar aan die einde van die dag probeer elkeen net om te oorleef….
Volgens Marx is daar nog ‘n ‘skatkis’ van stories wat nog uit Egoli kan kom .….maar vir eers is hierdie eerste spleet-verhaal wat nou uit die stal van Suid-Afrika se langslewende sepie kom.
Die rolprent, wat ‘n storie het wat heeltemal en ‘onafhanklik’ op sy eie bene staan, is in Johannesburg en omgewing verfilm. Die Suid-Afrikaanse Polisie het hul volle samewerking gegee met al die aksietonele wat in die middestad van Johannesburg verfilm is.
Pieter Venter, seun van die vermaarde rolprentmaker Albie Venter, het onder die vaandel van Brigadiers Films hande gevat met Franz Marx Films vir die vervaardiging van Egoli. (Die volgende projek van Brigadiers Franz Marx Films, Susanna van Biljon se Storie, is tans in produksie.)
Egoli is hoegenaamd nie wat jy verwag dit gaan wees nie…..dit sal menige Suid-Afrikaanse kyker ook tot selfondersoek dwing, en hopelik ook laat vrede maak met geheime en spoke uit hul donker verlede…





